• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Jesus wou alles omgekeer (en ons wil alles regop hou)

 

 

 

'n Mens praat nie politiek in die kerk nie . . . Hoeveel keer moes ons dit nie al hoor nie.

Maar Jesus het! Om te praat van 'n Nuwe Koninkryk was politieke taal. Hy is uiteindelik doodgemaak tipies soos die leier van 'n rebellie in daardie dae doodgemaak is, aan 'n kruis.

Jesus het natuurlik meer as net politiek gepraat. “'n Totale Nuwe Wêreldorde,” is hoe 'n mens sy idee van die nuwe Koninkryk sou kon vertaal.

Dit klink dalk 'n bietjie Sci-Fi as ons vandag praat van 'n “Nuwe Wêreldorde”, maar vir die eerste hoorders moes dit wat Jesus voorgestel het - binne hulle konteks - waarskynlik selfs nog vreemder geklink het.

Jesus se Koninkryk het die potensiaal gehad om die totale sosiale sisteem op sy kop te keer. Dit sou alles skud: die manier van regeer, die Joodse kultuur/godsdiens en selfs die gesinstruktuur - die mees basiese bousteen van die antieke samelewing.

Volgens Gerhard Lenski het die sosiale hiërargie in die tyd van die Nuwe Testament so gewerk: die koning was heel bo (hy het 25-50% van die land se totale bates besit), dan was daar 'n groepie burokrate en ander heersers, dan die instandhouers (offisiere, amptenare, geestelike leiers was moes toesien dat chaos nie oorneem nie en dat die koning sy geld kry), heelwat laer in status was die handelaars, boere, vakmanne en handarbeiders, onder op die lys was die onreines en dan, selfs onder hulle, die mense wat Lenski, “the expendibles,” noem, die bedelaars, kreupeles, diewe . . . mense wat weggewens was deur samelewing.

Dis presies hierdie hiërargie wat Jesus op sy kop keer. Dink maar aan Sy verduideliking oor wie die eintlike geseëndes is in Luk 6:20-26.

Volgens Jesus moes regeerders dienaars wees - soos Hy. In sy koninkryk is 'n koning iemand wat mag opgee en homself weerloos maak ter wille van ander se groei.

"Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens:Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense” (Matt 20:24-26)

Die koninkryk van Jesus is 'n vreemde plek. Die met die minste status is die belangrikste - soos kinders.

Jesus het nie net vreemde idees gehad oor hoe 'n heerser moet lyk nie, maar ook oor die Joodse kultuur/godsdiens.

Hy doen dinge wat die godsdienstige Jode ontstel: was nie sy hande volgens die rituele voorskrif nie, vas nie op die gebruiklike vasdag nie, laat sy dissipels koring pluk op die Sabbat, Hy eet saam met sondaars en spreek mense vry van hulle sondes buite die tempel.

Die Joodse godsdienstige leiers het sekerlik amper iets oorgekom toe Jesus 'n Samaritaan gebruik as voorbeeld oor wie “ons naaste is,” en nog meer so toe hy opmerk dat Hy by 'n Romeinse offisier(!) groter geloof vind as by enige iemand in die hele Israel.

Van die mees skokkende goed wat Jesus gesê het, het betrekking gehad op die gesin. Die antieke mens se hele identiteit en menswees was gebaseer op die gesin waaraan hy/sy behoort.

Dis teenoor jou gesin wat jy in die eerste plek met eer of skaamte opgetree het. Meeste Nuwe-Testamentici meen dat Jesus se, “Wie is my moeder, en wie is my broers?” uitspraak in Mattheus 12, uiters moeilik moes afgaan in die antieke tyd. Dit was om die minste te sê skokkend vir die eerste hoorders (ook sy opmerkings in Mattheus 19:28 en 8:21,22).

Richard Rohr merk op dat Evangeliese Konserwatiewes vandag dikwels familiewaardes voorhou as redes vir eksklusiwiteit, maar tog, sê hy, sukkel hulle om 'n enkele vers in die vier Evangelies te kry om dit te staaf!

"For Jesus, family values means treating other people in the community as if they were your biological siblings or your mother, and that's extraordinary," sê Amy-Jill Levine in, The Misunderstood Jew.

Wanneer Jesus iemand op die Sabbat genees, was die godsdienstige leiers ontsteld.

Dis asof hulle besig was met die vraag: “Wat is die implikasies hiervan vir die godsdienstige instelling?” (waaruit hulle natuurlik self voordeel getrek het). Vir Jesus het dit gegaan oor die mens wat nou hier voor hom staan. Hy het ménse “innig jammer gekry”. Jesus was nie besig om 'n godsdienstige instelling te probeer bou of regop hou nie. Toe sy dissipels opmerk hoe mooi die tempel is, het Hy gesê, dit gaan val.

Jesus het nie “klein klemverskuiwings” voorgestel nie!

By die geldwisselaars by die tempel keer Hy dinge letterlik op hulle kop (maar laat ons nie nou weer oor daai uiters ongewilde onderwerp praat nie).

Hy was (soos Siddhartha Gautama en ander) 'n rebel in die godsdienstige beweging van sy tyd. Jesus was nie die deur in die godsdienstige boks in nie, maar 'n deur uit die boks uit.

Sy vreemde interpretasie van die wet word sekerlik die beste saamgevat deur die woorde wat Hy in Mattheus 9 sê en dan weer in Mattheurs 12 herhaal: “Gaan leer wat dit beteken, ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.”

Wanneer ons in die eerste plek lojaal is aan God se Koninkryk, word individue belangriker as die godsdienstige instelling (en God belangriker as die godsdiens!). Die gevaar is dat die manier waarop ons onsself organiseer ’n eie identiteit ontwikkel, en dat ons verlief raak op die instelling, eerder as op Jesus en die mense vir wie Hy sy lewe gegee het. Dietrich Bonhoeffer het gesê: "He who loves community destroys community, but he who loves brothers and sisters builds community."

Van die gesprekke vandag in die kerk laat my soms wonder of ons besig is met die regte vrae. Dit kan gevaarlik wees vir die kerk as om te veel te fokus op kerksake, sê Alan Roxburgh. Jesus het sy lewe gegee vir die wêreld en Hy vra dit ook van sy kerk.

Jesus se Koninkryk het die potensiaal gehad om die hele sosiale struktuur van die wêreld waarin Hy geleef het om te keer, ons wêreld van vandag het dit ook nodig.

 

(Korter weergawe in Kerkbode rubriek 23/11/2014)

 

 

Jaco Strydom