• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Buite die strukture, maar nader aan die aarde? (Renaissance Konferensie: Geloof buite die kerk)

Wanneer jy water in 'n houer gooi, help die houer om die chaos te beperk, dit help dat die water nie die wêreld vol hardloop nie. Dis die hele idee met meeste strukture.

Ongelukkig het bewaring dikwels ook 'n inhiberende effek. Die probleem is dat die houer nie net die inhoud beskerm nie, maar dat dit ook vorm - die water neem die vorm van die houer aan.

Dit gebeur ook in sosiale strukture soos die kerk.

Die geboue met die torings en die hoenders op - of die ouditoriums met die flashy klank en videoskerms - word meer as blote hulpmiddels vir die kerk. Dit word só 'n integrale deel daarvan, dat kerkwees sonder dit 'n onmoontlike gedagte word. Die strukture word die kerk. Dit is waar van die effek van fisiese kerkstrukture maar ook van ander strukture wat poog om te beskerm, soos die kerkreg en belydenisskrifte.

As daar een ding is wat die kerk reggekry het, veral na Konstantyn, is dit om die Evangelie te kompliseer.

Te kompliseer met beheer!

Jesus het meer gepraat oor hoe ons moet lewe, as oor wat ons moet glo. In die kerk se dogma is dikwels presies die teendeel waar. Ons is só bang mense glo verkeerd.

Ek is van mening dat juis die kerk se beheptheid met bewaring en selfhandhawing haar bedreig; dat beheptheid met sekuriteit haar grootste vyand is. Niks is gevaarliker vir 'n kerk as om veilig te speel nie!

Gemeentelede hier in die middestad het 'n paar jaar gelede, een oggend, in die middel van die winter afgekom op die lyk van 'n hawelose man op hulle kerkgebou se stoep. Hulle het dadelik 'n vergadering beroep. 'n Plan moes gemaak word. Die plan was om 'n vurkieheining op te sit.

As daar een gevaar is wat kerkstrukture inhou, is dit dat dit ons wegvat van die aarde af.

Onlangs praat ek by 'n ekumeniese byeenkoms met 'n klompie pastore en dominees. Ek het baie gewonder oor wat my tema moet wees. Op die ou einde het ek besluit op die tema: “Jesus het afgekom aarde toe, dalk moet sy gesante dit ook probeer!”

Die kerk moet mos voortdurend besig wees om af te kom aarde toe?

Ons manier van kerkwees vandag is dikwels net te netjies en te smart, te gekultiveerd vir 'n stukkende wêreld.

En afstand met die wêreld het 'n groter effek op ons eie teologie as wat ons besef.

My probleem met die Evangeliese Fundamentalisme, is nie dat hulle te veel Jesus nie, maar dat hulle te min Jesus!

Maar as die reaksie op die Fundamentalisme bloot 'n filosofiese club is, is ek ook nie so seker of ek deel wil wees daarvan nie. Richard Rohr waarsku dat die teologie as filosofiese oefening maklik maar net nog 'n magspeletjies kan word in 'n magsbehepte samelewing - waar die kompetisie gaan oor die beste argument of filosofie.

Groot ego’s is ook die groot vyand van die kerk (ons is nie só uniek nie!). Shane Claiborne praat van “spiritual masturbation”.

Dalk het ons minder teologie nodig, nie méér nie. Kleiner teologie, nie groter nie. Ons probleem is allermins 'n tekort aan inligting. Dalk eerder die teendeel.

'n Ou sê nou die dag, wat hom die meeste frustreer, is nie die honderde Bybelverse wat nie sin maak nie, maar daai paar wat wel sin maak!

Henry Nouwen het opgemerk: "I did not leave the university - after twenty years - and move in with people with disabilities at L’arche because I wanted to help them, but because I needed better teachers . . .”.

Leo Tolstoy beskryf in A Confession, sy ontnugtering met die natuurwetenskappe, die kuns, die filosofie, wêreldgodsdienste en die kerk, maar dan, wanneer hy uiteindelik by die konklusie kom dat selfmoord die enigste morele oplossing is, ontdek hy tussen die armes (peasants) 'n vreemde vorm van geloof, wat hom weer na God laat gryp. Dis die eenvoud van die geloof van eenvoudige mense wat hierdie nuwe bewustelikheid vir God se teenwoordigheid by hom wakker maak.

By Jesus kry ons hierdie vreemde idee dat ons lewens meer en meer sal begin sin maak, nie in 'n beweging weg van die gebrokenheid nie, maar juis in 'n beweging nader daaraan. Dat ons God sal vind naby die aarde.

Dít het alles te doen met ons teologie!

Die teologie is 'n uiters subjektiewe vakgebied. Persoonlike belewenisse het ’n enorme effek op watter vrae ons vra en waarna ons soek - en wat ons uiteindelik vind.

My eie grootste teologiese ontnugtering het gekom vanuit twee uiters uiteenlopende kerklike tradisies: die Katolieke en Charismatiese. Oor die jare is my gereformeerde denke erg verrinneweer deur besoeke aan moeder Teresa se Sisters of Mercy in Calcutta in Indië en onlangs selfs méér so deur ’n besoek aan die uiters charismatiese (in die teologiese sin van die woord) Heidi Baker in Pemba in die noorde van Mosambiek.

Wat my die meeste gefassineer het is hoe baie dieselfde Baker en Moeder Teresa se teologiese uitkyk is.

Almal wat al van Baker se boeke gelees het sal weet dat sy Moeder Teresa as haar grootste menslike rolmodel beskou – al is sy ’n Katoliek! Toe ek Heidi hieroor uitvra, was haar antwoord dat hulle teologie “eintlik dieselfde is”. En as ’n teologiese boom aan haar vrugte geken word, is dit sekerlik waar.

Heidi se bediening, Iris, gee daagliks kos vir meer as 10 000 armes in Noord Mosambiek. Hulle bedryf honderde kinderhuise, skole en klinieke in van dié armste lande ter wêreld.

Haar hele wese skree liefde en eenvoud. Jy sien haar bykans nooit sonder ’n kind op die arm of onder ’n boom besig om in Portugees te gesels met iemand oor hul probleme nie. Die hele “Village of Joy” in Pemba wemel van “haar kinders”. Hulle noem haar “Mamma Aida”. Baie van die jongmense wat vandag leiersposisies in dié gemeenskap beklee, het jare gelede daar aangekom as honger en verwaarloosde baba’s of kleuters.

Wat my die meeste opval van die teologie van Moeder Teresa, Heidi Baker en ander soos hulle, is die eenvoud daarvan. En hoe verbasend baie hulle regkry met bitter min teologie.

Hulle teologie is liefde. So eenvoudig en so moeilik soos dit. Dit is asof hulle hele wese sê: “Jy kan nie jou lewe vir Jesus gee sonder om jou lewe ook vir die wêreld te gee nie!”

Ná my besoeke aan Indië en Mosambiek vra ek myself al hoe meer af of ek eerder in ’n wêreld wil leef waar die meeste Christene soos my teologieprofessors (met hulle goeie teologie) dink, klink en leef, of soos Moeder Teresa en Heidi Baker?

Ek het uiteindelik tot die gevolgtrekking gekom dat goeie teologie en liefde veronderstel is om saam te loop. Maar as daar spanning kom tussen die twee, kies liefde!

Ek sou wou pleit dat, sou dit dan gebeur dat geloof verder van die klassieke strukture beoefen word, dat dit nader aan die aarde gebeur. Dat ons nie die klassiek, formele Bless-Me-Club idee van kerkwees bloot sal verruil vir 'n meer informele, meer filosofiese Bless-me-Club idee nie.

Baie gelowiges het 'n passie vir Jesus, te min, die passie VAN Jesus. Jesus se passie was mense. Hy het sy lewe gegee vir mense. En die kerk word nie net geroep om dit te onthou nie. 'n Werklike dissipels praat nie net oor sy Guru nie, hy deel ook sy passie. Hy/sy begin doen wat die Guru doen.

Dalk is nie geloof, ongeloof (of selfs bygeloof!) ons grootste vyand nie. Dalk ook nie kerkstrukture nie - ons beleef eintlik vandag ongekende vryheid binne die klassieke kerkstukture. Dalk is ons grooste vyand selfbeheptheid - selfsug.

Ons kan doen met al die hulp wat ons kan kry! En ek begin saam met Henri Nouwen wonder of ons nie dalk beter leermeesters nodig het nie. Nader aan die aarde!

(Praatjie by Renaissance se Konferensie oor Geloof buite die kerk 4Okt 2014 http://www.spiritualiteit.co.za/artikel-buite-strukture-nader-aarde.php)