• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Tussen die Jode en die Palestyne

 

 

Ek sukkel om kant te kies, tussen die Jode en die Palestyne. 

Kyk ek na 'n YouTube video vanuit die Jode se perspektief, lyk dit of hulle net hulle eie land probeer verdedig. Dan dink ek, ja, ek sou ook so gevoel het as ek 'n Jood was. 

Kyk ek die Nuus op Al Jazeera en lees die statistiek (dat amper 2000 mense al dood is in Gaza, waarvan meer as 85% gewone mense en kinders), is ek weer kwaad vir Israel. Hoe kan jy besluit om 'n hele woonstelblok of skool te bom, met die hoop om 'n paar terroriste te tref? 

Sê nou daar kruip 'n groep booswigte weg by 'n skool hier in Pretoria. Bom ons dan sommer daardie skool? Of in 'n woonstelblok? Al skiet hulle op ons? Jy moet bitter min waarde heg aan die lewens van die mense rondom daai terroriste om dit te doen. Die een berig op CNN het gesê dat die Israelies 'n VN skool gebom het, want drie Hamas terroriste het daar weggekruip (drie!).

Daar  is natuurlik baie propaganda aan beide kante.

Dit is 'n probleem wanneer mense Etnies kant kies - in beginsel vir die Jode of teen die Jode, vir die Palestyne of teen die Palestyne - en nie op grond van wat daardie bepaalde groep op daardie bepaalde tydstip doen nie. 

Die Moslem wêreld kan byvoorbeeld nie uitgepraat raak oor die amper twee duisend Palestyne wat doodgemaak is in Gaza deur Israel nie, maar hulle is maar bra stil oor die letterlik honderde duisende Moslems wat vermoor word deur ander Moslems in Sirië en Irak. Hoe inkonsekwent kan ’n mens wees! Dit wil voorkom of baie van hulle eintlik eerder kwaad is vir die Jode, as bekommerd oor die lewens van Moslems. 

Is ’n lewe so min werd?

Konserwatiewe Christene wêreldwyd vat gewoonlik die kant van die Jode. Hulle hou daarvan as die Jode die Palestyne “pakslae gee”.

Volgelinge van Jesus wat van oorlog hou! Goeie genugtig, lees hulle nie die bergpredikasie (Mattheus 5 tot 7) nie? Hulle teologie klink meer na die van die Farriseers as die van Jesus. 

Met die Amerikaanse inval in Irak destyds het almal gesê, dis nie die Christene wat die Moslems aanval nie. Maar toe begin ek wonder, veral toe George Bush vir die tweede keer verkies word as President. Sy grootste ondersteuners was mos die konserwatiewe Christene in die VSA, veral in die Suide. En was die oorgrote meerderheid van daardie soldate nie Christene nie? Het daar nie voor amper elke kerk 'n Amerikaanse vlag gehang om te wys dat hulle hulle soldate ondersteun nie?

Dan was dit mos eintlik die Christene wat die Moslems in hulle eie land aangeval het, nie waar nie?

Elke nou en dan vertel 'n oom my die grappie van Yasser Arafat wat destyds samesprekings met Ariel Sharon gehad het. Dit gaan so:

 Ariel Sharon sê, voor hulle begin, wil hy net eers hê hulle moet 'n kwessie bespreek wat in die tyd van Moses gebeur het. 

Waarop Yasser Arafat verontwaardig antwoord: “Maar daar was nie eens Palestyne in Israel daai jare nie!”. 

Ariel Sharon sê dan: “Nou dat ons dít uitgeklaar het, kom ons praat oor die grond kwessie!”.

'n Lekker grappie vir meeste Afrikaner ooms om oor te vertel. Tot Julius Malema daai trick trek! Skielik is die grappie glad nie meer snaaks nie. Dis net snaaks as ons die Jode is, nie as ons die Palestyne is nie.

Jesus het gesê geseënd is die vredemakers. 

Mag nuusberigte van gebeure in die Midde Ooste, ons as volgelinge van Jesus, eerder op knieë bring, by 'n plek van empatie met die mees weerloses.

 

 

 

(Beeld Rubriek 20/08/2014)

 

Jaco Strydom