• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die diversiteit was skrikwekkend - en beautiful

Daar was sowat twee honderd mense die aand bymekaar in die Anglikaanse katedraal. Stephan de Beer het gevra of ons kan afsluit met die lied wat regter Albie Sachs vroeër in sy aanbieding gesing het. Ek was nie seker van al die woorde nie, toe kom die regter vorentoe, vat die mikrofoon en sing saam: “It’s me, it’s me, O Lord, standing in the need of prayer!”. Dit was die eerste keer wat ek “worship gelei” het saam met 'n regter, en díé regter was nie eens 'n Christen nie.

En dit was net die begin, die eerste aand van die IUM Konsultasie oor Urban Ministry in Pretoria. Die diversiteit was skrikwekkend. Die mees uiteenlopende mense is genooi om eerlik te wees oor die uitdagings in ons land.

Interessante, dapper mense.

Suster Aine Hughes, 'n Franciskaanse non, het die oggend oordenkings gelei. Stephan vertel dat hy haar die eerste keer gesien het 'n paar jaar gelede, by een van die vlugtelingkampe wat opgerig is tydens die Zenophobia krisis. Die polisie het rubber koeëls geskiet, die vlugtelinge het klippe gegooi . . . die volgende oomblik stap díé klein vroutjie in haar nonne-gewaad reg tussen die twee groepe in. Stephan sê sy eerste gedagte was: “Díé non moet ek leer ken!”

Sibusiso Zikode van die South African Shack Dwellers' Movement het sy hart uitgepraat oor die tema “No Freedom without Land”. Hy het ons gehelp om iets te begryp van die frustrasies wat mense in plakkerskampe beleef.

Na die praatjie gesels ek met Vader Maximus El-Anthony van Egipte, ’n Koptiese monnik (met ’n swart kleed en 'n wit baard) uit die oudste werkende klooster in Afrika. Nee, hy verstaan nie die debat nie, sê hy. Hoe kan jy net vry wees as jy grond besit? Soos hy die Evangelie verstaan moet 'n mense minder hê as jy wil vry wees, nie meer nie. En toe haal hy Jesus uit die bergpredikasie aan.

Hoe stry 'n mens met iemand wat die dag toe hy besluit het om 'n monnik te word, al sy geld gaan weggooi het in die woestyn? Wat sy skoene stukkend gesny het toe hy jare gelede uiteindelik na dae se stap by die klooster in die middel van die woestyn aangekom het, sodat hy nie weer kon terugstap nie.

Ek het een van die sessies bygewoon waar die Amerikaanse filosoof, Drucilla Cornell - groot aanhanger van Sampie Terreblanche - gepraat het oor die euwels van kapitalisme, en onder andere 'n baie oortuigende saak uitgemaak vir “Demokratiese Sosialisme”.

Mense het hulle stories vertel. Nigel Branken het vertel hoe hy en sy gesin (5 kinders) Hillbrow toe getrek het, omdat hulle dink dit is wat Jesus sou doen. Charmain Phillips het vertel hoe sy destyds in misdaad betrokke geraak het, haar tyd in die tronk en haar worsteling vandag.

Dan was daar Joel van Dyke, wat onder die bendes in Guatemala City in sentraal Amerika werk. Daar was ook akademici: Drew Smith van Pittsburgh Theological Seminary, Prof Nico Botha van Unisa en Vuyani Vellem van die Universiteit van Pretoria, en natuurlik Stephan de Beer self.

Ek wens meer dominees wil na Stephan luister (nooi hom!). Hy is tans dosent by die Sentrum vir Kontekstuele Bediening by UP. Iemand sê nou die dag: “David Bosch is dood, maar ons het darem nog vir Stephan de Beer!” Min mense het my al geïnspireer soos hy. As tien persent van die dominees sy passie sou hê, was hierdie land vandag 'n ander plek!

Stephan is ook die man agter die IUM Consultation (al is dit die jaar saam aangebied deur o.a. TLF, PEN en ECHO). Die Institute for Urban Ministry het die Konsultasie sedert 1996 saamgeroep.

“Dit het gegroei uit die besef dat ons stede onherroeplik verander en dat die kerk nie gereed en toegerus is om by te hou nie,” sê Stephan.

Baie mense glo diversiteit is ons grootste probleem in Suid-Afrika, die byeenkoms het weereens die teendeel bewys; dat diversiteit 'n wonderlike seën kan wees. En dat die kerk die ontmoetingsplek kan wees! Dat die nood in die gemeenskap ons kan help om nuwe solidariteit met mekaar en God te ontdek.

Alan Roxburgh skryf dat die probleem met die kerk vandag is dat sy te besig raak met “kerkvrae" (Hoe kan die kerk oorleef? Hoe gaan ons die kerk weer laat groei? Waar moet ons kerke plant . . ?). Hy sê ons moet eerder besig wees met “wêreldvrae” - Jesus het mos sy lewe gegee vir die wêreld. En presies dít, dink ek, was die geheim van hierdie jaar se IUM byeenkoms.

(Kerkbode Rubriek 11/08/2014)

As ons werklik omgee vir hierdie wêreld, moet ons bereid wees om te luister, ook na  stemme met wie ons nie saamstem nie.

Die groot kuns is om te probeer om met ons ore te luister en nie met my ego's nie.