• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die groeiende vryheid in die kerk doen meer goed as kwaad

Daar is 'n nuwe vryheid aan die groei in die kerk wêreldwyd, ook hier in Suid-Afrika. Die army-oom wat ons destyds in weerbaarheids periodes laat bid het teen Mandela se vrylating, “want hy gaan die Christene vervolg,” het sy fout besef. Al hou hy nie van Zuma nie is dit vir hom lekker om vandag met 'n oopknoop hemp kerk toe te gaan.

Dis nie deesdae so maklik om die ooms en tannies kwaad te maak nie. Hulle wil actually hê die dominee moet eerlik wees. Hulle is moeg gevlei. Hulle soek die waarheid al is dit moeilik, ongemaklik, selfs lelik. Hulle soek nie meer predikers wat “net sê wat hulle graag wil hoor” nie - die uittog na die APK is verby.

Meeste kerkmense wat ek teëkom gee regtig om vir hierdie land en haar mense. Daar is ontsteltenis oor dinge wat in die politiek gebeur - enigiemand wat omgee sal ontsteld wees - maar daar is ook 'n verfrissende nuwe diep soeke na spiritualiteit.

Kerkmense, selfs in die susterskerke, het die afgelope twintig jaar begin uit-figure dat Jesus belangriker is as die kerkorde en dat die kleur van jou das eintlik glad nie saak maak nie. Dat die “regte belydenis” sonder liefde niks is nie - al het jy die geloof om berge te versit (1Kor 13:2).

Wat 'n verligting.

Ons mag deesdae reguit praat oor dinge wat regtig saak maak. Goed soos: politiek, rassespanning, geld en seks - al is die gay kwessie by baie kerke nog 'n taboe. Die ergste wat deesdae gaan gebeur is dat 'n oom opstaan en uitstap uit die erediens (of hate-mail van 'n sekere tannie in Richardsbaai).

Niemand gaan jou martel by Vlakplaas nie. Jou huis gaan nie deur die veiligheidspolisie dopgehou word nie. Hulle gaan nie jou foon tap omdat jou teologie verkeerd is nie. Jy hoef jou nie te bekommer dat iemand vir jou 'n briefbom gaan stuur (soos destyds vir Vader Michael Lapsley) nie.

Die vervolging is verby!

Al daai boeke by die teologie fakulteite wat apartheid uit die Bybel regverdig het, het saggies verdwyn. Die Broederbond is vir alle praktiese redes saam met die NP dood. Selfs die Hervormde kerk sê deesdae dit was verkeerd om swart broers en susters te verbied om saam met wit Christene te aanbid.

Ook die sinode sal jou niks maak nie - veral as jy in die NG Kerk is - anything goes!

En ek verkies dit so, al is dominees en dosente met “ongeloofsekerheid” vir my 'n vreemde gedagte (daar is enkeles). Hier praat ek nie van iemand wat eerlik worstel met God en deur tye van vertwyfeling gaan nie, meeste van ons doen, maar mense wat tot ʼn slotsom gekom het en bewyse aanvoer. As dít die slotsom is waartoe ek sou kom - as ek daai tipe sekerheid sou kry - bedank ek die amp en word 'n duikinstrukteur by ʼn mooi plekkie langs die see.

Maar eerder hierdie ongekontroleerde vryheid as die vroom voorskriftelikheid van ouds!

Ek verkies dit om in 'n tyd te lewe waarin Wilhelm Jordaan eerlik kan wees oor sy twyfel, by die kerk en in die koerant. Sy artikel verlede week in Beeld was bewonderenswaardig. Ek hoef nie met alles saam te stem om dit te waardeer nie - daar is baie mooi goed in die lewe wat ek glad nie verstaan nie. Maar wanneer 'n man iets doen waarvoor min mense kans sien, sy hart heeltemal oop maak, kan ek nie anders as om dit te bewonder nie.

Wilhelm verkondig nie, dat “God nie bestaan nie”, dat “Jesus nie opgestaan het nie”, hy getuig oor sy eie worsteling met sy eie geloofstradisie. Hy is onseker en eerlik daaroor. Hy wys dat “onseker” en “ongelowig” nie noodwendig sinonieme is nie.

Wat 'n wonderlike vryheid om dit te mag sê sonder om getug te word. Ons het meer eerlike worstelings soos Wilhelm s’n in die kerk nodig. En dit wil lyk of die kerk oor die algemeen vandag meer oop is vir hierdie gesprek.

Dis 'n stappie nader aan die tuin van Eden waar ons weer kaal kan leef sonder om skaam te wees. Die kerk moet mos díé plek wees waar ons dit kan waag om ons maskers af te haal.

Nou en dan hoor jy nog van 'n kerkraad wat wil hê die kerk moet weer 'n kultuurvereninging of 'n bless-me-club wees, maar dis toenemend die uitsondering. Daar is nog moeilike ooms en tannies oor - hulle sal altyd met ons wees - maar ons hoef nie meer bang te wees vir hulle nie!

Ek wil glo daar is iets groters hier aan die gang. 'n Meer algemene tendens. 'n Skuif. 'n Nuwe openheid gebore uit 'n eerlike innerlike honger, uit 'n gatvolheid vir goedkoop antwoorde. 'n Dieper dors. Mense weet die kerk het in die verlede vir hulle gelieg en hulle is moeg daarvoor. Hulle kan nou Google.

Die wonderlike ding is dat meeste van hulle nie opgegee het op die Evangelie nie. Hulle sit steeds Sondag na Sondag vir 'n uur lank om te luister, om saam met ander na God se stem te soek.

Wat 'n geleentheid is dit nie vir die kerk nie, in ’n wêreld met byvoorbeeld soveel rassehaat, met soveel uitdagings! Wat 'n wonderlike kans om die vredemakers uit te daag om vrede te maak. Om mense aan te moedig om van die meer as vier miljoen weeskinders in te neem. Om diversiteit te ontdek vir wat dit kan wees, 'n seën en nie 'n vloek nie. Om bitterheid te ontbloot en liefde en verdraagsaamheid te help kweek. Om Jesus te volg!

Maar hoor die mense wat Sondae in die kerk sit hierdie goed?

Gebruik kerkleiers die hierdie nuwe vryheid genoeg? Word gemeentelede aangemoedig om met hulle swart bure te kuier of om die Pakistani by die selfoonwinkel oor te nooi vir ete? Hoor hulle dat hulle moet lief wees vir hulle werkers en hulle nie moet uitbuit met minimum lone nie? Word hulle uitgedaag om eerlik te wees, ook oor die dinge waarin hulle twyfel?

In 'n land waar meer as 80% van die bevolking deel is van een of ander vorm van kerk, waar meeste grond en besighede aan kerkmense behoort, het die kerk 'n enorme rol te speel.

Die groot vraag is natuurlik of ons as dominees, priesters en pastore hierdie kans gaan aangryp - dit lyk of die nuwe pous dit doen!

In die verlede was die verskoning dat ons oor sekere dinge nie gedurf praat het nie, wat is nou die verskoning? Nou dat ons mag praat, doen ons dit?

Die geloofsgemeenskap waarvan ek deel is moet tog weet dat as ek die dag by die slotsom sou kom dat Jesus nie was wie die Bybelskrywers gesê het Hy was nie, ek dit vir hulle van die kansel af sal sê. Dat ek met hulle oop en eerlik sal wees oor my geloof en oor my twyfel, eerlik oor wat ek dink God van ons in hierdie tye vra, al is dit ongewild.

Dat ek vir hulle lief is en daarom nie vir hulle sal lieg nie. As ons nie kan eerlik wees by die kerk nie, waar dan?

(Beeld 29/07/2014)

 

Jaco Strydom

 

 

Screen_Shot_2015-10-10_at_7.14.33_AM.png