• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die Kerk en Geld (Kerkbode 07/03/2014)

 

Ons kan praat (en preek) soos ons wil, maar ons ware prioriteite wys uiteindelik op begrotings en kalenders.

Nou die dag hoor ek van die soveelste gemeente wat daarop roem dat hulle tien persent van hulle omset gee vir “sending” en “diens van barmhartigheid”.

Wat beteken dit wanneer 'n gemeente, 'n tiende gee? Is dit iets om op trots te wees?

 

 

 

Hier is ’n woordsom vir die ooms en tannies op gemeentes se finansiële kommissies:

 

Krummels” is daai stukkies wat oorbly na ons almal klaar genoeg gehad het, reg? Die teenoorgestelde van “prioriteite”.

 

 

 

Sou dit lelik wees om te sê 'n goeie voorbeeld hiervan is daai tiende - van mense se tiendes wat in offergawe mandjies gegooi is “vir die uitbreiding van die koninkryk” - wat uiteindelik uitkom by die sending en diens van barmhartigheid? Met ander woorde, dít wat gegee word ná al die amptenare wat hierdie betrokke “fiktiewe gemeente" (want hierdie is net 'n woordsom) bedien en die gemeente se geboue ens. betaal is. Dit wat oorbly?

 

Ek is nie baie goed met somme nie, so, kyk of u met my saamstem:

 

’n Tiende van 'n tiende is een persent, reg?

 

 

 

En ons almal weet, die meeste mense gee nie tiendes nie, maar eerder “twintigstes" of “vyftigstes”, wat die gemeente se tiende, 'n tiende van van twintigstes en vyftigstes maak, reg?

 

Hier is die vraag: Watter persentasie van hierdie gemeente se omset gaan WERKLIK vir die “uitbreiding van die koninkryk”? Van dit wat ingaan, hoeveel kom uit?

 

As die nood in die wêreld 'n prioriteit is, is hierdie gemeente nie 'n bietjie swaar op “over-heads” nie?

 

Sou dit wys wees, van u of my, om gemeentelede met 'n passie vir “die nood in die wêreld” en die “uitbreiding van die koninkryk” aan te raai om dit te doen via die strukture van hierdie gemeente? Waarom sê u so? 
(As u ongemaklik raak met wat ek hier sê, gaan Matt 16:19-28 u erg ontstel)

 

 

Dit is dalk op hierdie punt belangrik om te onthou dat Jesus nie veel te sê gehad oor tiendes nie. Hy het wel kom wys hoe ware omgee lyk, toe Hy homself gegee het. Die alternatief vir, “krummels gooi vir die armes”, is nie om brode te gooi nie, maar om 'n maaltyd te deel.

Tog, is dit te veel gevra dat ons teologiese prioriteite op ons begrotings reflekteer?

Daar is ʼn sterk teenargument hiervoor, dit begin so: “Maar alles is mos eintlik sending.”

David Bosch het gewaarsku, dat as alles missionaal is, is niks later meer missionaal nie. Hy skryf dat dit sekerlik waar is dat alles wat die kerk doen ʼn missionale “dimensie” moet hê, maar ook hoe belangrik dat daar sterk missionale “intensie” sal wees.

Te dikwels word die argumente vir missionale dimensie vandag in die kerk gebruik om die tekort aan missionale intensie te regverdig.

Missionale “intensie” vra dat ons hierdie wêreld nie net per ongeluk sal raak leef nie, maar aspris. Dat ons intensioneel sal betrokke raak waar daar nood is. Doelbewus die donker opsoek om ʼn lig te wees. Doelbewus grense oorsteek, projekte aanpak en verhoudings bou buite die gemeente-groepie. Doelbewus offergawes gebruik om hoop te bring, veral op dié plekke waar daar die minste hoop is.

Ek besef daar is werk wat na binne gedoen moet word, maar negentig (of selfs tagtig) persent van 'n gemeente se omset?

"Maar op ʼn onoffisiële manier maak die kerk tog ʼn groot verskil," sal kerkleiers vinnig opmerk. Kyk wat doen kerkmense dikwels eintlik heel onsigbaar in privaat hoedanigheid. En kyk na al die kinderhuise en die die CMR en wat doen organisasies soos byvoorbeeld PEN, MES, Stabilis en Straatwerk in die naam van die Here.

Ek stem 100% saam! Dit is presies my argument. Belê sommer direk in hierdie inisiatiewe. Hulle is ligter op brandstof en bereik meer op plekke waar daar regtig nood is - en hulle is in elke teologiese sin van die woord net soveel “kerk” soos die plekke met die torings. Of gee jou bydrae direk vir iemand wat swaarkry - ek dink nie Jesus sal omgee nie!

Natuurlik kan jy dit vir jou gemeente gee. Maak tog net seker hulle gee reeds om met wat hulle reeds ingesamel het. Om watter rede moet gemeentelede byvoorbeeld aanhou om by te dra by gemeentes wat miljoene op belegging het?

In teenreaksie hierop sou 'n mens kon poog om 'n teologiese argumente daarvoor uit te maak dat die missionale roeping van die kerk oordryf word - dat die kerk eintlik maar terwille van haarself bestaan. When it’s difficult to practise what we preach, we might be tempted, to preach what we practise.

Geld is die mees sensitiewe onderwerp in die kerk. Eintlik mag ʼn mens nie hieroor praat nie. Ek weet. “Want,” sê die ou nou die dag vir my, “jy is lekker krities, maar aan die ander kant is jy vinnig om gemeentes se geld te ontvang vir julle werk onder jongmense in nood.”

My antwoord hierop? Kritiseer my gerus as ons daardie geld gebruik vir ʼn veilige belegging in die bank; of om ʼn gebou wat net een uur ʼn week gebruik gaan word daarmee te koop; of as ons die meeste van dit wat ons inkry, gebruik vir personeel wat net weer personeel bedien.

 

 

(Kerkbode - Rubriek 07/03/2014)