• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

’n Minder godsdienstige belewenis van God (Beeld 05/03/14)

 

Die Fariseërs en ander godsdienstiges in Jesus se tyd kon God hanteer solank Hy iewers in die geskiedenis was, in ʼn boek of in ʼn tempelboks, op godsdienstige feesdae . . . maar nie ʼn God wat asemhaal en rondloop nie - veral op minder godsdienstige plekke - en allermins nie ʼn kaal God aan ʼn kruis nie.

 

Wanneer die godsdienstige instelling haarself begin verkoop as dié een wat op "sekere plekke" en "sekere tye” belewenisse van God se teenwoordigheid vir mense moontlik maak, kry sy skielik ondenkbare mag - g’n wonder politici is dwarsdeur die geskiedenis dikwels saam met godsdienstige leiers in die bed gevang nie.

 

Om bewus te leef van God se teenwoordigheid is ʼn baie belangrike saak. Richard Rohr waarsku in sy boek, The Naked Now, dat sonder “belewenisse van God se teenwoordigheid”, die teologie leeg is en eintlik maar net nog ʼn magspel word - in ʼn magsbehepte samelewing.

 

Baie gelowige mense beleef ʼn groeiende gaping tussen hulle godsdienstige lewe en die “groter wêreld daar buite”. Hoe ironies is dit nie dat die “godsdienstige wêreld” toenemend gesien word as die “kleiner, begrensde wêreldjie” nie?

 

Die gevaar van georganiseerde godsdiens is dat dit God probeer vasvang - "sodat die mense kan kom kyk . . .”

 

Jy kan natuurlik ʼn lewe maak uit 'n vreemde wese in ʼn hok. ʼn Mens kan geld maak met God!

 

Maar laat ek nou nie weer op daardie band-wagon klim nie.

 

Die waarheid is dit: God laat Hom nie vang nie! Daai wese in die godsdiens hok, hoe interessant of vreesaanjaend hy ook al mag voorkom, is nie God nie.

 

Dit het die Fariseërs en ander "bestudeerders van God" byvoorbeeld erg ontstel toe Jesus se dissipels koring pluk en Hy siekes begin genees op die Sabbat; toe hy saam met sondaars begin uithang; toe Hy nie sy hande was volgens die godsdienstige gebruike van die Jode nie en nie die gebruiklike vasdag hou nie . . .

 

Jesus het soveel anders gelyk as dít wat op daardie stadium in hulle godsdienstige hokke was.

 

Maar, sou jy met reg kon vra, is dit nie ook waar dat God se teenwoordigheid op sekere plekke en spesifieke tye, sterker en duideliker beleef kan word nie?

 

Ons glo tog byvoorbeeld dat die Bybel God se wil aan ons openbaar. Juis daarom sit ons spesifieke tye opsy om die Bybel te bestudeer. Jesus het homself dikwels gaan afsonder op “eensame plekke” om in die natuur te gaan bid. En selfs Paulus sê God openbaar Homself in die natuur (Rom 1:20).

 

Alles waar, Jesus self het mense in sinagoges die waarhede van die ou geskrifte geleer, maar volgens Jesus word God ook veral beleef op minder godsdienstige plekke, daar waar mense lief is vir mekaar en omgee vir vreemdelinge en vir weerloses, Hy leer ons dat God ook saam met sondaars eet.

 

Wat bly oor? Niks! God is oral.

 

Die kerk het soms die manier om die Evangelie onnodig ingewikkeld te maak, veral deur belewenisse van God se teenwoordigheid te probeer skeduleer en formaliseer.

 

Vreemde dinge gebeur wanneer mense bewus word van God se heilige teenwoordigheidook op minder godsdienstige plekke - ons gedra onsself mos oor die algemeen beter op heilige plekke.

 

Klassieke godsdienstige byeenkomste en die kerklike kalender kan dien as geestelike katalisators wat help om hierdie ander groter, holistiese bewustheid te stimuleer. As dit gebeur word die kerk meer as net 'n plek waar mense “kan kom kyk hoe lyk God”, sy word 'n gemeenskap wat eerlik saam soek.

 

Die groot funksie van die godsdienstige beweging is tog nie om God te probeer vang nie, maar om mense te bevry en te help om te ontdek, dat Hy toe al die tyd nader is as 'n hartklop.

 

Paulus en Silas het Hom beleef in die tronk; Petrus het ontdek dat Hy by hom was toe hy in ongeloof begin sink het - selfs toe hy Jesus verloën; Paulus sien Hom tussen die heidene in Athene in die standbeeld van die “onbekende God” en selfs in die gedigte van Griekse skrywers (Hand 17 en Tit 1:12); die tollenaars en sondaars ontdek tot hulle verbasing dat Hy saam met hulle eet - en ʼn bruidegom dat Hy daar is toe sy wyn opraak . . .