• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die kerk en mag - in die tyd van Zuma

 

'n Mens hoor dikwels hoe iemand sê, “as ek net een dag ryk is” of “as ek eendag ʼn belangrike posisie beklee,” dan gaan hy/sy dit of dat doen om die wêreld ʼn beter plek te maak. Ook in die kerk kry ons die gedagte: dat die Afrikaanse kerke in Suid-Afrika byvoorbeeld al minder van ʼn rolspeler is, omdat sy toenemend minder mag het onder die ANC regering (anders as in die tyd van die NP), want ʼn mens het posisie en mag nodig as jy verandering wil sien. Reg? Nie noodwendig nie.

Die Amerikaanse sosioloog, Tony Campolo, vertel die verhaal van ʼn stad in Amerika waar daar ʼn inrigting vir geestelik gestremdes was. ʼn Groepie mense het die visie gehad om van die pasiënte met ʼn goeie prognose te herintegreer in die gemeenskap deur ʼn paar huise te ontwikkel in residensiële woonbuurte.

Die inwoners was woedend. Hulle hou toe ʼn vergadering in die stadsaal. Die plek was stampvol. ʼn Verteenwoordigende raad het voor op die verhoog gesit. Na die voorsitter ʼn klomp besware aangehoor het, het hy voorgestel dat hulle tot stemming oorgaan. Soos jy jou kan indink was die stem oorweldigend teen die beplande huise.

Hulle was net reg om huis toe te gaan toe daar skielik ʼn roering agter in die saal is. Almal het omgekyk. Hulle kon hulle oë nie glo nie. ʼn Vreemde stilte het oor die plek toegesak.

Moeder Theresa was op ʼn besoek in die stad. Sy was laat en het amper die vergadering gemis. Die mense het haar dadelik herken, díe stokou, klein, geplooide vroutjie wat stadig met haar kromgetrekte rug tussen hulle deurstap. Moeisaam het sy opgeklim teen die trappe van die verhoog en op haar knieë gaan staan voor die raadslede. Sy het met ʼn sagte stem gepleit en gevra of hulle nie asseblief weer sal stem nie.

Die voorsitter het oor die mikrofoon vir die inwoners gesê van moeder Theresa se versoek.

Hulle het weer gestem en die keer is daar eenparig besluit dat die ontwikkeling van die huise vir die gestremdes kan voortgaan. In elke koerant was daar glo die volgende oggend ʼn berig oor die vreemde voorval. Niemand kon dit glo nie - maar niemand het gewaag om die nuwe voorstel te beveg nie.

Na Campolo die storie vertel het vra hy die vraag: Wat is dit wat aan ʼn klein, kromgetrekte ou vroutjie met ʼn sagte stem soveel outoriteit gee?

Na aanleiding van navorsing in die sosiologie maak hy dan ʼn saak uit vir die verskil tussen klassieke magstrukture en hierdie vreemde vorm van outoriteit.

Die twee grootste magstrukture is politieke mag en ekonomiese mag. In kontras hierteenoor staan hierdie vreemde outoriteit wat kom deur selfopoffering en diens.

Waar mense aan magstrukture MOET antwoord - anders is daar moeilikheid - het hierdie vreemde outoriteit ʼn ander tipe invloed. Dit gaan nie soseer oor wat ʼn bepaalde persoon sê, of hoe hy of sy dit sê nie, maar eerder oor hoe die een wat dit sê, leef.

Die vroeë kerk was ʼn goeie voorbeeld hiervan. Die historiese sosioloog Rodney Stark wys in sy boek, The Triumph of Christianity, hoe die vroeë kerk haarself dikwels in tye van totale magteloosheid bevind het. Maar ook dat dit juis vanuit hierdie posisie van solidariteit met die weerloses is, vanwaar sy met ongekende spoed gegroei het (van ʼn paar duisend tot twintig miljoen in die eerste drie eeue), sonder enige politieke of ekonomiese mag of status.

Die kerk was selde in die verlede goed met mag, sy is op haar beste ʼn bediende!

Dit is goeie nuus vir die magteloses, maar wys ook op die ongelooflike outoriteit wat iemand wel met politieke en ekonomiese mag skielik het, wanneer hy/sy eerder kies vir ʼn lewe van selfopoffering en diens.

Ek het die aankondiging van die nuwe Pous verlede jaar op die TV dopgehou. Dit was baie interessant om te sien wat die sekulêre media daarvan gemaak het. Oor een ding kon CNN, die BBC en selfs Aljazeera, nie uitgepraat raak nie. Oor en oor het joernaliste met oë wat flikker van verwondering vertel dat hierdie pous ʼn nederige man is. Dat hy in ʼn eenvoudige woonstel gewoon het as kardinaal. Dat hy nie met die Limousine gery het nie maar saam met die ander met die bus. Dat die nuwe pous iemand was wat homself met die armes vereenselwig het en dat hy deur sy lewe dikwels opgestaan het teen sosiale ongeregtigheid.

Ek weet nie of hy so goed is soos almal sê nie, maar die reaksie van die media wys daarop dat die wêreld vreemde outoriteit gee aan ʼn leier wat omgee vir weerloses en ʼn reputasie het van selfopoffering en diens.

Mense luister eenvoudig eerder na iemand wat omgee.

Die Russiese skrywer Leo Tolstoy het in die laaste derde van sy lewe heelwat geskryf oor die beginsel dat boosheid nie met boosheid oorwin kan word nie; dat ʼn mens mag nie met mag beveg nie, maar juis in die "teenoorgestelde gees". Hy was amper obsessief oor die bergprediking, veral Matt 5:38-48 waar Jesus sê dat ons ons vyande moet liefhê en dien.

Vreemd genoeg was dit die Hindoe leier, Mahatma Gandhi wat Tolstoy se interpretasie van Jesus se woorde ernstig opgeneem het. (Gandhi het dikwels na homself as ʼn dissipel van Tolstoy verwys en selfs ʼn “Tolstoyan Community” net buite Johannesburg bedryf). Later sou die woorde van Jesus soos beskryf deur Tolstoy in sy boek, “The Kingdom of God is within you,” ook groot impak hê op die denke van mense soos Martin Luther King en selfs Nelson Mandela.

Selfs die magtiges kan impak hê, as hulle bereid is om te dien!

Ek het al gewonder, sou Julius Malema ʼn paar jaar gelede sy huis in Sandton verlaat en sy politieke agenda dryf, uit ʼn plakkershuis, of hy nie skielik ongekende outoriteit sou hê nie - en of enige iemand hom dan kon stop - maar toe kies hy eerder die pad van politieke en ekonomiese mag . . .

By baie Afrikaanse kerkmense hoor jy vandag stemme dat hulle magteloos voel. Dat die nuwe magsisteme in die land hulle al meer marginaliseer. Wat natuurlik nie heeltemal waar is nie, want al het die Afrikaner vandag kwynende politieke mag, is ʼn groot klomp ekonomiese mag steeds in hulle hande - ons is steeds die base op die plase en besit steeds ʼn reuse klomp besighede en eiendom in hierdie land. Hoe dit ook al sy . . . of ons nou mag het of toenemend magteloos voel, as ons vir Jesus volg en ons wil verandering sien sal ons moet leer om te dien.

Daar is dinge wat nie met ekonomiese krag en politieke mag reggebuig gaan word nie, dit gaan “reg gedien” moet word. Van onder af.

Jesus self het gesê: "Julle weet dat dit by die nasies so is dat die regeerders oor hulle baasspeel, en dat die groot manne die mag oor hulle misbruik. Maar by julle moet dit nie so wees nie. Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen wat onder julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees. So is dit ook met die Seun van die mens: Hy het nie gekom om gedien te word nie maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Matt 20:24)

Miskien berus te veel van ons hoop (of wanhoop) in Suid-Afrika op ons verwagtings van die politici en ekonomie? Is dit waar ons hulp vandaan kom?

Natuurlik moet ons bid vir die mense in magsposisies - ons moet veral bid dat hulle minder bewus sal wees van hulle status en meer bewus van hulle verantwoordelikheid tot diens ten opsigte van hierdie land en sy mense. Dalk moet ons bid dat hulle Jesus se voorbeeld sal volg en ook ʼn bietjie afkom aarde toe.

As die Evangelie dan die beste gekommunikeer word, nie vanuit ʼn posisie van mag nie, maar vanuit ʼn posisie van weerloosheid, is die Suid-Afrika van vandag dalk toenemend 'n ideale plek om te probeer kerkwees!

Nou die dag lees ek in ʼn koffiewinkel op ʼn kaartjie die volgende woorde: “As ʼn groot klomp mense elkeen iets kleins doen sal die hele wêreld verander.” Ek het amper geval daarvoor, maar toe ek bietjie dink besef ek dat Jesus presies die teendeel gesê het.

Hy het gesê: “As ʼn klein groepie mense alles gee - hulleself gee - sal die hele wêreld vernader.” Hoe vreemd is die boodskap van die evangelie nie!

Dis goeie nuus! Want sou dit so wees dat net die magtiges impak kon hê was die potensiaal vir positiewe verander gereserveer vir ʼn baie klein groepie bevoorregtes. Was dit so dat ʼn mens baie moes hê om gelukkig te wees, sou lewensgeluk vir min mense moontlik wees. Maar nou kom sê Jesus, daar is outoriteit in selfopoffering en diens; en lewensgeluk lê daarin om te gee eerder as om te ontvang.

Skielik is die grond gelyk want almal, ryk en arm, magtig en weerloos kan dien. Almal kan gelukkig wees want almal kan gee, van Sageus die hooftollenaar tot ʼn paar eenvoudige vissermanne.

Dalk is die hele idee van baie Afrikaners dat ons deur God geroep is om "te heers in Afrika", waar ons die groot fout maak? Ons is eerder geroep om onsself te gee en haar te dien! Veral as ons onsself volgelinge van Jesus noem.

   Die duidelikste voorbeeld van verandering deur selfopoffering en diens - van hierdie vreemde vorm van outoriteit - is natuurlik Jesus self, en een van die beste opsommings daarvan is geskryf deur Paulus in Fil 2:5-11:

"Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was: Hy wat in die gestalte van God was, het sy bestaan op Godgelyke wyse nie beskou as iets waaraan Hy Hom moes vasklem nie, maar Hy het Homself verneder deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word . . ."

(Beeld Rubriek)

 

 

Jaco Strydom