• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

HOE GEMAAK MET n LAND WAT BRAND?

 

Die land brand, sê ʼn oom nou die dag. ʼn Bietjie dramaties, dink ek, want dit gaan sekerlik nie nét sleg nie. Hier in Pretoria skiet nuwe winkelsentrums en meenthuiskomplekse oral op soos luukse paddastoele en ek hoor dat jy jou toenemend vrek sukkel om vakansie verblyf in Desember op die Suidkus te kry. Dalk is dit die rook van braaivleisvure op Saterdae wat die oom laat dink die plek is aan die afbrand - of dalk was dit die halsnoermoord verlede week op die nuus?

 

Die oom oordryf dalk ʼn bietjie, maar hy het ʼn ook punt beet. Nou die dag by binnelandse sake kon ek duidelik ruik iets brand, nie seker wat nie - by die onderwys departement weet ons ten minste dit is skoolboeke wat brand. Al is die héle plek duidelik nie aan die afbrand nie, is daar ʼn klomp vure aan die broei wat neig om hande uit te ruk- soos die wegholbrand by Lonmin. Vure van armoede, bitterheid, gesinsverbrokkeling, misdaad en werkloosheid voorspel niks goeds nie en is besig om te versprei na ander meer onskuldige plekke in ons land.

 

Goed, so die land brand. Wat nou

 

Daar is gewoonlik drie soorte mense betrokke wanneer ʼn plek besig is om af te brand: Eerstens is daar die brandstigters. Die ekstreme linkses en regses - mense soos die ANC Jeugliga en die AWB, dan is daar misdadigers, korrupte politici, lui regeringsamptenare, rassistiese godsdienstiges, geldgierige besigheidsmanne, kwaad stokers - moeilikheid makers.

 

Die tweede groep is die toeskouers, skynbaar baie onskuldig, want hulle kyk mos net. Mense wat weg beweeg en die veilige en gemaklike plekke opsoek, met ʼn goeie uitsig oor die chaos. Hulle het sterk opinies oor wat gedoen en nie gedoen moet word nie. Hulle WEET wat aangaan want hulle lees koerant en kyk elke aand nuus. Hierdie groep is die grootste groep in ons land. Te veel van hulle is kerkmense. Daar is ʼn spreekwoord wat sê: “Evil conquers when good men do nothing”

 

En dan kry jy hierdie groepie vreemde mense. Die tipe ou wat by ʼn brand opdaag en dadelik vra waarmee hy kan help. Wanneer almal veilige plekke opsoek ver van die krisis af, stap hy in die vuur in en soek na die plekke waar die nood die grootste is om juis daar te help. Ons noem hulle brandweer”manne” maar baie is natuurlik vroue.

 

Die kerk kan ʼn groot rol speel in ʼn land wat brand, want evangelie het ʼn manier om van ʼn toeskouer of ʼn brandstigter ʼn brandweerman te maak.

 

Nou die dag vertel Justic Tsungu my weer sy aangrypende verhaal. “My hele lewe het verander, destyds toe ek by een van God se mense gesteel het,” begin hy en vertel dan hoe hy as straatkind by ʼn vrugte stalletjie gesteel het, die vrou wie se stalletjie dit was en haar man, die dorp se skoolhoof, het hom na die diefstal in hulle huis in geneem en die hom geleentheid gegee om skool te gaan. Later word hy toe self ʼn skoolhoof en bekende radio en televisie persoonlikheid - en ʼn vredemaker, ʼn “brandweerman”!

 

Temba Maluleke, wat pas aangewys is as Suid Afrika se jong ontwikkelaar van die jaar vir 2012, vertel verlede week baie die selfde storie op E-TV. Die Bybel is natuurlik vol hiervan. Dink maar net aan Paulus se verhaal.

 

Die mees positiewe mense wat ek raakloop in ons land is mense wat kies om baie naby aan die nood - waaroor almal so kla - te leef en werk. Gaan gesels maar byvoorbeeld met die mense van PEN in die middestad van Pretoria, of Mes-aksie wat in die hartjie van Hillbrow werk.

 

Die anderkant is natuurlik ook waar: Die negatiefste mense is die toeskouers wat dinge net op die nuus volg, mense wat baie praat, maar nooit hulle voete in ʼn plakkerskamp sit nie.

 

Vra jy ʼn brandweerman, wat soek hy alewig op plekke wat brand, sal hy antwoord dat vure-blus sy werk is, dit is waar sy lewe die meeste sin maak. Sou hulle ons as volgelinge van Jesus vra wat soek ons op die donker en gevaarlike plekke in Suid Afrika, moet ons kan antwoord: “Maar dit is mos juis in die donker waar ʼn lig die meeste sin maak!”. Vredemakers is mos nodig waar daar onvrede is?

 

ʼn Ou wat die beginsel verstaan sê die ander dag met oë vol hoop, hy is nou so besig hy weet nie waar gaan hy tyd kry vir ʼn midlife-krisis nie

 

Hoe maak ʼn mens as ʼn land brand? Jy moan hom nie reg nie, jy gooi hom nie met petrol nie, jy stap nader en help blus en terwyl jy dit doen daag jy die massa toeskouers uit om besig te raak met dit waarvoor hulle op aarde is, want moeilikheid is ons besigheid!