• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Seksueelgefrustreerd

 

Ek het in graad drie die eerste keer gehoor van seks. Ons was op pad skool toe. My suster en haar vriendinne het effens senuweeagtig en geheimsinnig gefluister - en elke nou en dan ge-“jiggie!”. Vanwaar ek ʼn ent agter hulle loop, kon ek my ore nie glo nie. Nadat ek iets gesê het soos: “Siesa man, julle jok,” het hulle my verseker dat volgens alle betroubare bronne, dit wel moontlik is en dat dit eintlik redelik algemeen onder grootmense gebeur. Ek het saggies by myself gewonder of my pa en ma al hiervan gehoor het.

In graad vier wou ek ook soos meeste seuns 'n wildbewaarder word. Ek koop toe met my spaargeld 'n boek oor wilde diere by die CNA-Rooibanduitverkoping. Op pad huistoe, wys ek die boek vir my ma en sy kry sy so 'n snaakse uitdrukking in haar oë en sê ek moet bietjie vir my pa vra wat beteken "mating". Ek besef alles is nie pluis nie en scan die boek se binnekant. Daar sien ek toe die vreemdste fotos van allerhande soorte diere wat mekaar abba. Eers het ek die arme diertjies wat skynbaar nie op hulle eie kon loop nie en gedra moet word baie jammer gekry, maar toe merk ek op dat meeste van hulle eintlik besonder gelukkig lyk (veral die een skilpadjie het gelyk of hy glimlag).

Die boek se naam was "The mating game". Toe ek uiteindelik besef waaroor dit gaan, het ek die boek gaan wegsteek, uit vrees dat my pa sou probeer verduidelik - en dat ek sou moes maak of ek vir die eerste keer in my lewe hoor van seks!

Hoe belangrik is seks?

Wel, baie belangrik. As almal vandag ophou seks hê, sterf ons uit. So eenvoudig soos dit. Baie kenners meen die seksdrang is die mees primitiewe oorlewingsdrang van die mens - so relax, jy is normaal.

Seks is lekker en seks is nodig, maar seks is ook gevaarlik. Hormone wen dikwels in ʼn geveg teen breinselle. Dink maar aan die hottentotsgot mannetjie wat eenvoudig met ʼn gogga glimlag sy vrou gryp, al weet hy sy gaan na die daad letterlik sy kop af byt en hom opvreet (what a way to go!). Sy seksdrang is blykbaar selfs groter is as sy vrees vir sy psigopatiese vrou. Sy lus is groter as sy vrees, selfs sy vrees vir die dood. Die seksdrang is ʼn wonderlike, maar ook 'n verskriklike verskynsel!

Jy sien dieselfde ding by mense - die vrou wat die man se kop afbyt (grappie) - mense wat eenvoudig blindelings hulle hormone gehoorsaam met reuse langtermyn konsekwensies. Die HIV virus floreer byvoorbeeld op hierdie swakheid van die mens.

Praat jy met enige tienermeisie, is swanger-word een van die laaste goed op haar agenda, sy het eintlik ʼn groot vrees dat dit op hierdie vroeë stadium van haar lewe kan gebeur. Tog is daar in een van die vooraanstaande skole in Pretoria, reeds 14 meisies swanger – en dis nou eers Maart (Desember was ʼn besige maand).

Daar's niks fout met seks nie, maar wees gewaarsku: jou seksdrange kan jou stupid goed laat doen.

Selfbeheersing en vryheid loop saam, veral by belangrike goed, soos seks.

 

ʼn Paar belangrike beginsels vir tieners om te onthou:

 

-     Dit is nie net 'n mite nie, seks lei regtig tot die geboorte van babas. Ek moes al meer as een keer vir 'n tienerseun vertel dat hy pa gaan word. Elke keer was die outjie baie geskok.
"Het jy gedink die biologie juffrou het vir jou gejok?" vra ek dan. Die meer as 6 biljoen mense op aarde vandag is almal via seks gemaak.

-     Moenie jou hormone onderskat nie. As jy naby die afgrond speel kan jy dalk net glip en val (so to speak). ʼn Student sê nou die dag wanneer hy en sy meisie vry, kan hy voel hoe sy hormone se rev's so optel dat dit later in die rooi gaan lê. En dan wil sy hom skielik in reverse sit! Hy sê hy het al die ergste gevrees vir sy ratkas. Wees versigtig, jy kan jouself maklik in ʼn situasie bevind waar julle hormone die oorhand kry. Keep way clear of the cliff!

-     Seksueel oordraagbare siektes is nie ouvroustories nie. Net omdat jy niemand ken wat dit het nie, beteken nie dat niemand dit het nie. Sou jy daaroor gebrag het? Meer mense het seksueel oordraagbare siektes as wat jy dink!

-     Die rede waarom jy nie nou al moet seks nie, is nie omdat seks boos is nie (gaan lees bietjie die mooi "seksuele" gedig in Hooglied 7). Wanneer ons nie wil hê dat ʼn 14jarige outjie met ʼn 1000cc motorfiets see toe moet ry nie, beteken dit nie dat hy of die motorfiets boos is nie. Die risiko's is net te groot. Binnekort sal hy op ʼn tyd en ʼn plek in sy lewe arriveer waar hy oud genoeg is om ʼn lisensie te kry om dit te kan doen. Vir nou moet hy maar ʼn bietjie geduldig wees.

-     Selfs van die wildste jongmense met wie ek praat, sê hulle sal nie wil hê dat hulle kinders eendag voor hulle getroud is moet seks hê nie. As ek vra hoekom, is hulle antwoord: “As jy lief is vir iemand wil jy die beste vir hom of haar hê.”

-     As jou ou sê: “As jy my liefhet sal jy”, is hy waarskynlik nie "die regte ou nie". Vra vir hom: “Is it love or is it lust?”, kanse is groot dat hy meer lus is as lief. Drop hom dan en soek ʼn ou wat ʼn beter definisie van liefde het.

-   Daar is nie so iets soos vryheid sonder selfbeheersing nie. Vryheid beteken: Jy kan kies. Moenie dat jou hormone vir jou lieg nie.

-    Jesus wil Here wees ook oor die belangrike goed in jou lewe - soos seks.

 

 

 

Jaco Strydom