Die tannie, die taxi en die kerk

Nou die dag ry iemand reg voor my in. Onmiddellik is ek sommer die duiwel in. Dan sien ek wie bestuur: Dis tannie Marie, ek ken haar, ek weet sy’s nie lekker nie - veral na haar laaste beroerte. “Hallo tannie Marie,” waai ek vriendelik. Skielik kom ek agter ek is glad nie meer vies nie. Hoe kan ek, ek ken mos die tannie?

Later die dag ry ’n taxi voor my in. Die keer sak my gemoed nie so maklik nie. Dit is makliker om vir iemand kwaad te wees wat jy nie ken nie. Die spreekwoord sê mos: onbekend is onbemind.

Hier in Pretoria het ons die afgelope tyd gereeld vir Steve Hofmeyer in ’n advertensie oor die radio hoor sê dat ons NIE DIESELFDE IS NIE, so asof dit nou nuus is - en grootste probleem in Suid-Afrika vandag is dat almal nou skielik te gelyk behandel word en dat “ons mense”, wat so anders is, nie ons andersheid genoeg vier nie.

Is dit waar? Of is die probleem eerder dat ons mekaar nie goed genoeg ken of wil ken nie?

Reuse vooroordele bestaan tussen mense wat ’n klipgooi van mekaar af woon.
Dit is maar hoe dit is, sal mense sê (veral die rykes).

As daar een groep mense is wat grense behoort oor te steek, is dit die kerk. As sy met haar boodskap van liefde en vrede dit nie regkry nie, bly daar maar min hoop oor vir die res van die land.

’n Tyd gelede is ’n groepie van ons saam op ’n gemeenskapsprojek by die Matlala Hospitaal. Vroeg een koue oggend loop ons deur een van die stil gange op soek na die morning prayer meeting. Die volgende oomblik kom daar 'n groot verpleegster by een van die sydeure ingebars en sy begin uit volle bors te sing en handeklap. Een vir een daag mense uit alle rigtings op. Eers was dit net 'n paar verpleegsters en skoonmakers, maar toe kom die pasiënte! `n Sewejarige dogtertjie met haar drup in die een hand, 'n ou tannie in vuil nagklere, 'n man in 'n rystoel en selfs twee ouens uit die psigiatriese afdeling  –  die een kom aangevlieg soos `n hippie op moon flower. Swartes, kleurlinge, Indiërs, wittes, dokters, verpleegsters, skoonmakers, klerke, pasiënte en malles . . .  Almal in een vrolike morning prayer! Saam toy toy ons toe die gang af. Die groot suster dans voor en die psigiatriese pasiënt vlieg agter. Dit was seker die mooiste openbaring van kerkwees wat ek ooit gehad het!

Vir Christene behoort diversiteit geen bedreiging in te hou nie. Inteendeel, die Nuwe Testament beskou diversiteit as iets wonderliks wat gekoester behoort te word. O, die Joodse godsdienstige ooms het nie daarvan gehou nie. Elke groepie moes maar liefs by hulleself hou en veral sekere mense was uit - Samaritane, melaatses, tollenaars . . .  Hulle was vies vir Jesus, want Hy het die een oomblik in die bodorp uithang by die sinagoge en die volgende oomblik partytjie gehou saam met die sondaars in die onderdorp – baie kerkooms vandag sou ook vies gewees het.

Die Evangelie het nog altyd ’n manier gehad om die vreemdste mense bymekaar te bring. In Kolossense 3:11 sê Paulus: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal”.

Die voorbeeld en die boodskap van Jesus daag ons uit om hoogmoed en vrees te oorwin deur nederigheid en dapperheid.  Ons word uitgedaag om eerlik na onsself te kyk en dit te waag buite die gemaklike grense van dit wat vir ons bekend is.

Rassisme gevoer deur vrees en hoogmoed steek maar gedurig kop uit, tog wil dit voorkom asof die grootste gaping tussen mense nie net ’n kultuurgaping is nie, maar toenemend ’n sosio-ekonomiese gaping.

Jy sal byvoorbeeld hier en daar mense van verskillende kulture kry wat saam kuier, maar ’n gesin uit die Ooste van Pretoria sal nie sommer ’n gesin uit ’n plakkerskamp (wit of swart) oornooi vir ’n braai nie – en hier praat ek nie van die uitsondering liefdadigheids aksies nie, maar die bou van langtermyn vriendskappe.

The problem is not that people don’t care about the poor, the problem is that they don’t no the poor,” sê Shane Claiborne in sy boek The Irresistible Revolution.

Die kerk kan díe plek in ons samelewing wees waar armes en rykes en mense uit uiteenlopende kulture mekaar beter kan leer verstaan. Ons het baie om te leer by mense wat anders as ons is.


Ongelukkig is die teendeel waar: die kerk funksioneer te dikwels nog soos een of ander kultuurvereniging. Dit is vreemd, want die kerk is in haar wese nie ’n organisasie nie maar ’n klomp mense, God se mense, uit verskillende kulture oor ekonomiese grense heen.

Sy het nie nodig om te probeer om divers te wees nie, sy is dit klaar! Dalk moet sy dit net weer ontdek en moet dit meer sigbaar gevier word in haar byeenkomste?

Miskien moet sy bietjie die dik lae grimering afvee, haar kapsel ’n bietjie losmaak, daai formele klere uittrek en net vir ’n slag weer mooi na haarself, kaal, in die spieël kyk?

As nou die Saterdag die einde was, het wit en swart en bruin en arm en ryk nou in elk geval saam in dieselfde koor gesing.

 

(Beeld 12/10/2011)