• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

HOEKOM IS DIE SUSTERS ALTYD LAAT?!

 (Beeld 03/10/2010)

 

Dit was vir baie mense sekerlik wonderlik om te verneem dat die Hervormde kerk (of ten minste ʼn paar van hulle, blyk dit nou) uiteindelik besluit het "apartheid is sonde".

   Ek was egter meer geskok as bly. Moenie ʼn fout maak nie, ek pik nie nou net op hulle nie. Ek het dieselfde gevoel gehad destyds toe die NG kerk uiteindelik tot hierdie slotsom gekom het, ʼn gevoel wat ʼn mens dikwels by ons susterskerke kry, ʼn gevoel van: is sy nie ʼn bietjie stadig nie?

    O, die susterskerke het hulle goeie eienskappe, maar spoed en ratsheid was nog nooit ʼn sterkpunt nie.

    "Die kerk is soos ʼn olietenkskip wat stadig draai," het ʼn kerkoom my eenkeer verduidelik. Gaan gee daai kompliment vir jou vrou en kyk of sy gevlei voel, het ek by myself gedink. Kyk, ek verwag nie dat sy op haar ouderdom gimnastiek toertjies moet doen nie, maar dit sou baie help as sy so bietjie vinniger van begrip was - sou byvoorbeeld wonderlik gewees het as die susters op ʼn dag in 1980 al opgespring het en met passie aangekondig het: apartheid is sonde!

     Hoekom is die susters altyd laat?!

     Kan iemand so stadig wees? Dit herinner aan soortgelyke gebeure in die verlede toe die kerk na jare lange worsteling die laaste instelling was om te erken dat die aarde nie plat is en op pilare staan nie of dat Galileo toe reg was, dat die son toe nie om die aarde draai nie.

     Nou sien ek al hoe die kerkooms vir my skryf: Hoekom is jy nie ʼn bietjie vriendeliker nie, hoekom sien jy nie eerder net die positiewe raak nie. Maar dit is van net vriendelik wees met ons "eie mense" en net die positiewe dinge raaksien, dat apartheid so lank gefloreer het in ons kerke!

     Dit sou een ding wees as dit net die etiese oordeel van een of ander sonde van ʼn paar "sondaars" in die breë gemeenskap hier ter sprake was, maar veel groter vrae word hier oopgekrap:  Het die susterskerke in Suid Afrika dalk ʼn groter rol gespeel in die instandhouding van apartheid as die uitwissing daarvan? Miskien was hulle juis so laat met die erkenning daarvan, omdat hulle so besig was met die instandhouding daarvan? Tot hulle eie voordeel? Doen hulle dit dalk steeds? Wat ʼn gedagte!

     Is een van die belangrikste rolle van die kerk nie juis die van ʼn profeet nie? Iemand wat bereid is om te praat as almal stilbly - nie wanneer almal al bietjie uitgepraat is oor die tema nie. Iemand wat kant kies teen ongeregtigheid, alreeds wanneer dit nog ongewild is om dit te doen?

     Die susters het in die verlede te veel soos tipiese politici en te min soos profete gelyk. Politici is snaakse mense, hulle vra nie in die eerste plek wat is die regte ding om te doen nie. Die groot vraag waarmee hulle hulleself besig hou, is eerder: wat kan ek doen en sê om aan bewind te bly? Hoe kan ek die massa agter my hou.

     Moenie my verkeerd verstaan nie, persoonlik dink ek ook demokrasie is ʼn goeie idee. My enigste probleem is die voorveronderstellings dat die massa die beste weet, dat die massa reg is. Sê nou die massa is verkeerd? Dan is ons geskroef!

     Profete is heel anders. Hulle is dikwels ongewild, selfs eensaam. Individue en groepe wat profeties optree is baie keer ʼn pyn. Hulle het amper ʼn gawe om die massa te ontstel, omdat hulle dinge sien wat ander nie sien nie.

     Ja, daar was profete in die verlede, enkelinge, maar dit was selde die amptelike stem van die hoofstroom kerke.

     Praat jy oor hierdie goed dan word daar baie vinnig uitgewys hoeveel die susters vir die nood in die gemeenskap doen. En ja, ek erken daar gebeur mooi goed, maar kom ons wees net ʼn bietjie eerlik oor die omvang daarvan - en wat ons sou kon doen as ons regtig al ons middele (soos eiendomme) effektief sou begin aanwend. Die alternatief vir “krummels gooi vir die armes” is nie om brode te gooi nie, maar om ʼn maaltyd te deel. Nie om net uit te reik na mense in nood nie, maar om  saam met hulle kerk te wees.

     Gelukkig is kerke meer as die som van die uitsprake van hulle sinodes. Oral loop jy deesdae die wonderlikste groepies gelowiges raak wat passievol beweeg en dapper betrokke raak daar waar die nood die ergste is. Die feit is: daar is (en was nog altyd) gemeentes wat beweeg, ten spyte van die lompheid van groter strukture.

     Die susters is dalk stadig, maar die geskiedenis bewys dat hulle momentum nie sommer gestop gaan word nie. Dit kan ʼn goeie ding wees, veral as daar soos nou weer ʼn nuwe rigting ingeslaan word.

     Dit is maklik vir ander kerkgroepe om vinger te wys na die Hervormde kerk, maar onthou vir ʼn oomblik dat daar in praktyk nog reuse uitdagings vir ons almal voorlê. Die grootste weeklikse "racial divide" in Suid Afrika is steeds hier rondom 10h00 op ʼn Sondagoggend - en dit sê iets oor die breë Christen gemeenskap. Die toets vir "goeie teologie" lê in die praktyk. Die kerk was nog altyd big on talk.

     Die NG Kerk praat nou al jare oor Belhar.

     Daar is weer ʼn klomp goed wat dringende optrede vra. Die kerk het die potensiaal om ʼn massa mense te mobiliseer. Die susters (en die res van die familie) het genoeg geld, geboue, vaardighede en mannekrag (/vrouekrag) om reuse impak te maak op goed soos armoede, werkloosheid, morele verval, die ekologiese krisis, kerkeenheid(!) om net ʼn paar te noem.

     Kom ons hoop sy gaan die keer betyds wees.

 

(Beeld 03/10/2010)

 

Jaco Strydom