Artikels/Articles
Die Malema / ET dilemma - Beeld 14/04/10
Wat dink ek van Julius Malema? Om eerlik te wees, ek hou nie eintlik van hom nie. Hy klink te veel na my Vrystaatse ooms wat almal in die see in wou jaag - met die verskil dat hy die megafoon van die media het om sy rassistiese gedagtes die wêreld vol uit te dra.
Julius Malema en Eugene Terreblanche is eintlik baie dieselfde (behalwe natuurlik vir die feit dat Eugene nou dood is) - miskien gaan hulle straf wees dat hulle eendag vir baie lank langs mekaar moet sit?
Mag Julius en sy groepie se tantrums en die AWB en hulle groepie se gedreig en gekerm ons inspireer om anders te wees. Jesus het gesê geseënd is die vredemakers, lets face it, ons het genoeg moeilikheidmakers.
Die groot gevaar van Julius lê vir my in sy invloed op mense, en nou bedoel ek nie net sy invloed op sy volgelinge nie, maar veral sy invloed op sy teenstaanders.
Ek gesels nou die dag met ʼn baie rassistiese blanke Afrikaner jongman, hy gaan vreeslik te kere en met 'n skok besef ek: hy klink nou nes Malema! As jy jou oë toemaak, sy bitsige prekie in Engels vertaal en twee woorde verander, kon dit netsowel ʼn toespraak by die ANC jeugliga gewees het.
Mense soos Julius het die potensiaal om ons almal soos homself te maak. ʼn Mens word maklik wat jy haat (Dit is waarskynlik wat met hom gebeur het?). Haatspraak is aansteeklik. Party van ons steek by ons eie ooms en oupas aan, ander kry dit by ons vyande.
So, as jy haat wat hy sê, wees dan anders! Reageer dan versoenend en nie rassisties nie. Anders het jy mos geen voet om op te staan nie? As jy haat spreek, is jy dalk nes die ou wat jy haat.
Iemand het eenkeer gesê die lewe maak ʼn mens of bitter of beter. Ons het ʼn keuse. Jy kan tog nie moan en tekere gaan oor die goed waaroor jy geen beheer het, as jy nie beheer neem oor dit wat wel binne jou beheer is nie. Selfbeheersing is ʼn vrug van die Gees.
Ek kyk vanoggend op na die profiel van ʼn outjie op ʼn anti-Malema Facebook groep. Op sy profiel lees jy die volgende:
Political views: Dit voken help niks nie want dis nog als die selfte vandat die k@f3rjies begin oor neem het (sy spelling)
Religious views: Christian
Moet Jesus nie ook Here wees oor ons "political views" nie?!
Jesus leer ons moet opstaan vir geregtigheid en ʼn stem wees vir die stemlose, maar ook om met liefde op te tree teenoor ons vyande. Dit is vir my ook ʼn ongemaklike gedagte, maar ek kan mos nie net kies om ʼn volgeling van Jesus te wees wanneer dit my pas nie.
Sy sienings het mense dikwels ongemaklik gemaak. In die tyd van die Nuwe Testament was daar ʼn groeiende beweging godsdienstige Jode wat geglo het dat die enigste oplossing ʼn geweldadige verset is teen die Romeinse Ryk. Jesus se uitsprake dat jy jou vyande moet liefhê, die keiser moet gee wat hom toekom en díe moet seën wat jou vervloek, het nie goed afgegaan by hierdie groepie nie.
Jy lees ook nooit dat die Nuwe Testamentiese skrywers gekerm en gedreig het, of mense gemobiliseer het om die Romeine pakslae te gee nie. Gelowiges is opgeroep om dapper te wees, aan te hou dien en te bid vir die regering.
Te veel Christene vandag het ʼn siening dat God net daar is om hulle veilig en gemaklik te hou, te min besef dat Hy ons uitstuur die donker in, om ons lewens te gee vir ʼn stukkende wêreld.
Vredemaak kan vandag ʼn ongewilde, en selfs gevaarlike, oefening in Suid-Afrika wees, maar jy maak ʼn groot fout as jy dink hierdie is die donkerste situasie waarvoor Christene nog ooit te staan gekom het. Wees bly jy moes nie ʼn lig wees onder die regering van Nero, of ʼn Duitse Christen in die tweede wêreld oorlog, of ʼn Chinese gelowige onder Mao Tse-tung nie.
Natuurlik moet die gereg sy pad stap. Ons moet bid vir gelowiges soos regter Eberhardt Bertelsmann wat uitsprake moet lewer in sake soos die. Natuurlik het die regering ook ʼn verantwoordelikheid voor God. Ek dink net ons, die gewone gelowiges op die grond, moet eerder deel van die oplossing wees as deel van die probleem - deel van die lig en nie deel van die duisternis nie.
As jy iets wil haat, haat rassisme. Dit is ʼn vieslike ding wat mense dom goed laat aanvang. Eintlik is rassisme niks anders as snobisme nie. Dit kweek ʼn selfsugtige, “ek is belangriker as jy, ek hoort hier en jy nie,” tipe mentaliteit. Dit maak dat ʼn swartman voor die voet kwaad is vir al die blankes oor wat in die verlede gebeur het en dat ʼn witman nou sommer vir die bediende en die plaaswerker kwaad is oor wat Malema gesê het. Rassisme laat mense wat mekaar glad nie eens ken nie op mekaar skel.
Toe iemand vir die Duitse teoloog Karel Barth vra wat hy vir Hitler sou sê was sy antwoord: "Jesus het gesterf vir jou sondes." Dit is hoe vreemd die Christen boodskap is.
Floyd McClung het jare gelede ʼn boek geskryf met die titel: "Learning to love people you don't like." Dit is waarskynlik ons Christene se grootste uitdaging vandag: Om in liefde op te tree, al hou jy nie van dit wat gebeur nie, of die wat dit laat gebeur nie - om ʼn lig te wees in die duisternis.
Romeine 12:21 sê: Moet jou nie deur die kwaad laat oorwin nie, maar oorwin die kwaad deur die goeie." Daar's nou vir jou ʼn uitdaging in hierdie tye!
(Beeld/Burger 2010-11-20)