As ek moet uitvind dis n liegstorie...

Die gesprek in die media oor die opstanding is baie soos ʼn sepie. Jy kry die vervelige storie met gemak gevolg al mis jy meeste van die episodes.

Ereck het in een van ons huise by Echo gebly. Op 'n dag kry hy ‘n belangrike oproep van 'n meisie. Nadat hy homself vriendelik uit die geselskap verskoon, gaan staan hy binne hoorafstand 'n entjie van die mense af en raak net daar in ʼn baie diep en passievolle gesprek betrokke. Die vurige gesprek was ʼn paar minute aan die gang toe sy foon skielik hard in sy oor lui. Hy was besig om almal te fool en nou was hy die fool.

Die gesprek oor die historiese opstanding van Jesus gaan nie vir my soseer oor presies hoe dit histories gebeur het nie. Dit is eerder ʼn vraag na die realiteit van Jesus vandag. Is hy hier of is hy nie hier nie? As ek bid, is daar iemand aan die ander kant van die lyn? As ek praat, is daar 'n Jesus wat luister? Praat God? Of fool ons onsself en die wêreld.

Vir die meer ekstreem liberale teoloog is die Jesus van vandag slegs 'n gekonstrueerde werklikheid - ʼn imaginary friend. Hy het ons nie gemaak nie, ons het Hom gemaak.

As ek op ʼn dag sou agterkom dat die hele storie oor Jesus fake is, sal die kerk en die teologie die laaste plek wees waar jy my kry. Hoe kan jy jou lewe gee vir iets waarin jy nié glo nie? Dit is soos om die green-spokes-person te wees by ʼn groot olie firma wat reuse skade aan die ekologie aanrig.

My vraag aan die Jesus seminaar ouens / nuwe hervormers / erg liberales (of wat ook al hulle hulleself deesdae noem): wat soek julle by teologiese opleidingsinstansies - van alle plekke? Hoekom wil jy jou lewe daaraan wy om studente op te lei vir ʼn leuen? Vir wat? Daar is tog sekerlik meer opwindende maniere om ʼn lewe te maak? As dit die slotsom is waartoe ek vandag sou kom, word ek ʼn duikinstrukteur by ʼn mooi plekkie langs die see.

Ek het baie te doen met mense wat hulleself buite die Christendom posisioneer, en ek beleef meeste van hulle verskriklik eerlik en opreg. (Miskien is dit vir hulle makliker, omdat hulle nie finansieel afhanklik is van die kerk of teologiese instellings nie?) Hierdie ouens en ongelowige teoloë deel dalk dikwels dieselfde teologiese siening, maar is op twee uiterstes van die etiese skaal.

Hier praat ek nie van iemand wat eerlik worstel met God en deur tye van vertwyfeling gaan nie – meeste van ons doen - maar mense wat blykbaar tot ʼn slotsom gekom het en bewyse aanvoer. Van hierdie ouens is dikwels verbasend modernisties in hulle benadering al doen hulle dit onder die vaandel van die post-modernisme.

Van die mees uitgesproke skeptici wat ek die afgelope tyd raakloop, is dominees, dikwels met doktorsgrade in teologie. Eintlik baie nice mense. Hulle is baie opreg en vriendelik en kan ure praat oor wat ʼn mens nie moet glo nie. Aan die ander kant is hulle gewoonlik baie rigied en dogmaties in die verdediging van ongeloof en het eintlik besonder min ruimte vir ander sienings. Hulle hanteer die buite Bybelse geskiedenis, dikwels tipies modernisties, as voldwonge wetenskaplike feite – net die Bybelskrywers lieg. Tog is meeste van hulle groot aanhangers van die kerklike tradisies.

Nou die aand by ʼn funksie - na ʼn paar wyne - vertel ʼn dominee, wat oortuig is Jesus is eintlik morsdood, van ʼn professor wat hom uitstekende raad gegee het oor hoe hy steeds op Sondae vir goed-gelowige mense ʼn goeie preek kan afsteek - Sonder dat hulle dit agterkom? (Wat 'n edele kuns om te bemeester)

Ek kry die idee dat hulle dink ek lieg as ek sê dat ek regtig in Jesus glo - of net dink ek is erg oningelig. Dit lyk soms of van hulle my eintlik jammer kry. Hulle voel ek is te fundamentalisties, die ironie is, van my evangeliese vriende dink weer ek is vreeslik liberaal. What to do!? Dit is eintlik fine met my, ek voel lankal nie meer tuis in een van hulle ekstreme groepies nie. Iewers tussen ongeloof bygeloof lê geloof. Ek is nie heeltemal seker waar nie, maar die ekstreme fundamentaliste en erg liberales maak te dikwels asof jy net in hulle kamp of in die ekstreme ander kant kan wees.

Ek wens hulle wil ophou karring aan Jesus. Ek hou van hom soos hy is - thank you very much - al maak hy my party keer bang en dikwels erg ongemaklik, al verstaan ek hom ook nie altyd lekker nie en wens ek party keer ook hy was nie ernstig met wat hy gesê het nie.

As ek my lewe moes gee vir iets waarin ek twyfel, sou ek dit eerder wou doen as ʼn postmoderne (post-postmoderne?) twyfelaar - modernistiese twyfelaars het net te veel ongeloofsekerheid vir my gestel. Die postmodernis is ten minste gedurig onseker oor sy eie ongeloof. Die misterie kan hom nog altyd verbaas. Hy sal maar te bly wees as hy verkeerd is.