• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Skatryk kerke in 'n brandarm wêreld (Beeld 09/09/29)

Niks is gevaarliker vir die kerk as “om veilig te speel” nie 
- vir die omgee-gemeenskap om nie om te gee nie,
vir die geloofsgemeenskap om nie te glo nie,

vir volgelinge van Jesus om nie hulleself te gee nie . . . 

index.jpg

Rykdom hou ʼn groter bedreiging in vir die kerk as armoede.

Paul Verrayne het 'n paar jaar gelede by ʼn konferensie oor teologie in die stad (aangebied deur Pen) gesê dat die kerk in Suid-Afrika waarskynlik net soveel eiendom soos die staat besit en bygevoeg: “And we all know what Jesus would have done with that!”

Die afgelope tyd het ek vir ʼn hele paar kerkooms gevra waarom dit dan nodig is dat gemeentes sulke groot somme geld op belegging moet hê. Hulle antwoord was dat dit ʼn sekuriteit is vir die moontlike maer jare wat voorlê, ʼn belegging in die toekoms van die kerk.

Dit is dalk nie ʼn slegte besigheidsbeginsel nie, maar dit is baie swak teologie. ʼn Belegging in die voortbestaan van die kerk moet onderskei word van ʼn belegging in die voortbestaan van kerkstrukture en kerkgeboue.

As ons vir Paulus met ʼn tydmasjien kon in-“beam” en vir hom sê dat daardie gebou met die toring en die hoender, ʼn kerk is, sou hy ons eenvoudig nie glo nie. “Ecclesia” was 'n organisme, nie ʼn struktuur nie.

Die vroeë kerk het baie goed gefunksioneer sonder baie van die strukture, geboue en finansiële sekuriteite waaraan ons vandag so vasklou. Hulle grootste bates was juis hulle mobiliteit en waagmoed. Ons groot probleem vandag is dat ons te swaar reis en te veilig probeer speel. Te veel bagasie maak ʼn mens lomp en stadig. Materiële sekuriteite kan ʼn mens dalk baie veilig laat voel, maar dit span dikwels ook jou grense.

In Europa is daar vandag baie voorbeelde van “kerke” sonder mense - en nie omdat die geld opgeraak het nie! Die geboue en strukture is al wat nog staan. As die mense weg is, moet die kerk mos eintlik ook ophou bestaan? Want die kerk ís mense. Die leë doppe is ʼn vals illusie, dit getuig van alles wat “ecclesia” nie veronderstel was om te wees nie.

Daar mag dalk nie fout wees met ʼn kerk wat ryk ís nie, maar mag ʼn kerk ryk bly? Wanneer die kerk geseën word met finansies, eiendomme en ander gawes en selfsugtig daarmee omgaan is daar fout.

Jy lees dalk nou hier en verstaan glad nie waarom ek so tekere gaan nie. Min mense weet dit, maar baie gemeentes en sinodes het, behalwe vir ʼn klomp eiendomme, letterlik miljoene rande op een of ander belegging (ek het onlangs weer gehoor van drie gemeentes met beleggings van tussen twee en tien miljoen rand elk).

Dit is natuurlik ʼn geheim, en ek is seker dat baie finansiële voorsitters se bloed kook omdat dit nou hier uitgelap word - min dinge is meer heilig in die kerk as geld. Gaan vra ʼn bietjie vir jou dominee hoe groot is julle gemeente se finansiële beleggings en hou sy reaksie dop. Natuurlik is daar ook vandag baie gemeentes wat finansieel swaar trek, wat dit nog erger maak dat sekere gemeentes met miljoene rande in surplus fondse sit en hulleself net verder verryk.

Hier is ʼn paar praktiese voorstelle vir ryk gemeentes:

- Verkoop jou goed en gee die geld vir die armes. Dalk kan ryk gemeentes en sinodes lidmate wys hoe?

- As dit te veel gevra is, belê dan eerder jou gemeente se geld in eiendomme. Rig dit in as laekoste-behuisingsprojekte (of gratis behuisingsprojekte?) - eerder as om dit in die bank of geldmark te sit, waar dit niks te doen het met die kernbesigheid van die kerk nie. Let wel, die idee is nie dan om geld te maak uit mense in nood nie!

- Neem ʼn besluit om meer as 50% van die gemeente se inkomste buite die gemeente te spandeer.

- Kry die armste mense in die gemeente om op die finansiële kommissie te dien.

- Vat die eiendomskommissie op ʼn uitreik. Laat hulle byvoorbeeld een aand buite slaap saam met die straatkinders of in ʼn skuiling vir haweloses.

- Gee aan elke gemeentelid ʼn afskrif van al die gemeente se finansiële state (en beleggings!) - en skryf bo-aan: “Ek was honger en julle het my iets gegee om te eet, dors en julle het my iets gegee om te drink, ʼn vreemdeling en julle het my gehuisves…”

- Moedig gemeentelede aan om hulle geld sommer direk vir die armes te gee en nie via die kerkstrukture nie - ek dink nie Jesus sal omgee nie.

Om God te aanbid en sy liefde met die wêreld te deel is die kernbesigheid van die kerk. ʼn Mens kan baie diep teologies hieroor raak, maar die vraag is nie soseer hoe ons hieroor praat nie, maar eerder wat ons doen met wat ons reeds het.

Die verhaal word vertel van ʼn man wat ʼn masjien ontwerp het wat teen ʼn ongelooflike spoed ghries kon vervaardig. “Waar is al die ghries?” vra ʼn joernalis met die bekendstelling van die nuwe masjien. Die ingenieur antwoord rooi in die gesig dat die masjien, as gevolg van al die wrywing en hoë temperature waarteen hy moet werk, al die ghries wat hy vervaardig self weer nodig het om net aan die gang te bly …

Dit is ook die storie van baie kerke vandag. Die geboue, administrasie, strukture en vergaderings van die kerk gebruik dikwels so geweldig baie energie, geld en mannekrag, dat daar maar min oorbly vir die uiteindelike doel waarvoor dit alles oorspronklik veronderstel was om te gaan - en dan word dit wat wel oorbly in die bank gebêre?!

Daar word die laaste tyd baie gepraat oor die morele verval in ons land, gewoonlik met verwysing na ʼn toename in seksuele losbandigheid, alkoholmisbruik en bedrog. Vir my is een van die grootste morele krisisse van ons tyd nie soseer die “sondes van die tradisionele sondaars” nie, maar die “sondes van kerkmense”. As jy gemaklik kerk hou met ʼn paar miljoen rand veilig in die bank (en ʼn boodskap van liefde verkondig!) terwyl daar grootskaalse werkloosheid en armoede oral om jou is, is dit ʼn saak van reuse immoraliteit.

Vandag word ons vir die eerste keer werklik gekonfronteer met die besef dat te veel rykdom ʼn groter bedreiging inhou vir byvoorbeeld die ekologie as te veel armoede. ʼn Klomp groen wetenskaplikes het somme gemaak en besef dat dit nie in die eerste plek die verskriklike armoede en ekonomiese verval is wat die welsyn van die wêreld bedreig nie, maar eerder die moontlikheid van grootskaalse ekonomiese vooruitgang. Ontwikkeling in veral lande soos Indië en China, dreig om af te stuur op ʼn ekologiese ramp.

Miskien is dit ook tyd om ʼn bietjie eerlik in die spieël te kyk na die effek van rykdom op die kerk. Dalk is een van die grootste uitdagings van die kerk vandag nie net om uit te reik na die armes nie, maar om arm te wees saam met die armes. Miskien is die koste te groot?

ʼn Kerk wat die sekuriteit vir haar voortbestaan in finansiële beleggings vind, is ʼn ongelowige kerk. ʼn Kerk wat miljoene rande op belegging het en elke dag verby mense in nood ry, is ʼn liefdelose kerk.

Wie aardse besittings het en sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie - hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Johannes 3:17).

ʼn Beter belegging in die voorbestaan van die kerk is ʼn belegging van hoop in die lewens van mense in nood.

  

Die artikel was in Beeld. Die kerkooms was kwaad. Beeld het sonder my medewete ʼn reuse foto van Moreleta Park Gemeente bygesit - en dit ʼn meer corney opskrif gegee. Ek het ʼn mooi briefie aan Moreleta geskryf om te sê, askies ek het oorspronklik nie eers aan hulle gedink nie, die bedoeling was nie om hulle uit te sonder - of uit te sluit - in die artikel nie. Geld is 'n hot topic! Ek het meer reaksie gekry oor hierdie artikel vanuit kerkkringe as van die AWB en ANC-jeugliga toe ek destyds in ’n hoofartikel in Beeld gesê het Eugene Terreblanche en Julius Malema is eintlik een en dieselfde persoon. Aan die ander kant was daar ʼn klomp mense met eerlike vrae en geldige teenargumente. In antwoord daarop het ek díe volgende geskryf:

     

As ek met tieners praat oor seks is hulle groot vraag altyd: "Hoe ver kan ons gaan?" Praat jy met kerkmense oor geld, kan jy al voor die tyd weet dat hulle gaan besig raak met die vraag: "Hoeveel mag ons vir onsself hou?". Dit was dan ook die grootste vraag in reaksie op die artikel. Daar moes eenvoudig bewys word dat ons eerste vir onsself mag sorg. Dit is jammer, want ek sou dink 'n beter vraag sou wees: "Watter verskil kan ons maak met wat ons in die Here se naam ingesamel het?"

Baie kerkleiers is vinnig om te wys hoe baie die kerk reeds doen. En ek moet saamstem, ʼn klomp mooi goed gebeur. Die verskil tussen my en hulle is dat, waar hulle dink ons moet onsself op die skouer klop, dink ek, ons is tevrede met te min en dat die kerk eenvoudig te swaar is op haar eie brandstof - en te veel begin lyk soos die koöperatiewe materialistiese wêreld waarin ons veronderstel is om ʼn verskil te maak.

Die vroeë kerk het verskriklik baie gedoen met verskriklik min. Ons doen dikwels verskriklik min met verskriklik baie - en dan spog ons nog daarmee! Ek wonder of die kerk al ooit so geseënd was soos vandag met mense, gawes en vaardighede, kommunikasiemiddele, eiendom, finansies, ervaring . . . Mag ʼn mens van ʼn groot kerk, groot impak vra?

“Maar op ʼn onoffisiële manier maak die kerk tog ʼn groot verskil,” sal kerkleiers vinnig opmerk. Kyk wat doen kerkmense dikwels, eintlik heel onsigbaar in privaat hoedanigheid. En kyk na al die kinderhuise wat bedryf word deur kerke en die werk van byvoorbeeld die CMR en die SAVF. Kyk wat doen Christelike organisasies soos PEN, MES en THF in die naam van die Here.

Ek stem 100% saam! Dit is presies my argument. Belê asseblief eerder in hierdie inisiatiewe, as in die ander strukture van die kerk. Hulle is ligter op brandstof en bereik meer op plekke waar dit regtig saak maak. Gee jou bydrae sommer direk vir iemand wat swaarkry - in privaat hoedanigheid - of vir ʼn sendeling of vir een van hierdie missionale organisasies. En as jy dit dan nog steeds vir jou gemeente wil gee, maak tog net seker hulle gee reeds om met wat hulle reeds ingesamel het. My hoop is dat dit juis die nodige druk op dominees sal sit om meer kreatief te wees met die strukture, geboue en beleggings - wat ontwikkel is het met geld wat Sondae in die offergawe mandjies gegooi is vir “die uitbreiding van die Koninkryk”.

Daar is ʼn baie goeie teenargument hiervoor, dit begin so: “maar alles is mos eintlik sending”. Alles is uitreik. Alles is omgee. Alles is missionaal!

David Bosch het gewaarsku, dat as alles sending is, is niks later meer sending nie. In Transforming Missions, skryf hy dat dit sekerlik waar is dat alles wat die kerk doen ʼn missionale “dimensie” moet hê, maar dit is belangrik dat daar ook sterk missionale “intensie” is. Te dikwels word die argumente vir missionale dimensie vandag in die kerk gebruik om die tekort aan missionale intensie te regverdig.

Ek sien dit so. Die missionale “dimensie” wys daarop dat ons hierdie wêreld, dikwels “per ongeluk” raak leef. Ons gaan elkeen eenvoudig as Christene aan met ons eie lewens en op ʼn manier het ons tog ʼn invloed. Dit is natuurlik waar - en nodig.

Missionale “intensie” vra egter dat ons die wêreld nie net per ongeluk sal raak leef nie, maar aspris. Dat ons intensioneel sal betrokke raak waar daar nood is. Doelbewus die donker opsoek om ʼn lig te wees. Doelbewus grense oorsteek, projekte aanpak en verhoudings bou buite die gemeente-groepie. Doelbewus offergawes gebruik om hoop te bring, veral op die plekke waar daar die minste hoop is. Dit vra groter empatie, dat die nood van mense groter prioriteit geniet as die instandhouding van strukture.

Ons sal weer na ons roeping as kerk moet kyk. Daar sal altyd over-heads wees, ek weet, maar dit begin toenemend lyk of die over-heads die kernbesigheid van die kerk geword het.

Die mense is die kerk. Die ideaal is natuurlik dat nie net die kerkbussie die voertuig van die kerk is nie, dat nie net die kerkgebou en die pastorie - en die woonstelblok en die ander huise - as die eiendom van die kerk gereken word nie. Maar dat elke Christen se kar ʼn voertuig van hoop, elke lidmaat se huis ʼn plek van hoop en elke gelowige se besigheid ʼn besigheid van hoop, sal wees in hierdie land. Die probleem is dat as die formele kerk dit nie regkry met die geld wat vir hierdie doel ingesamel is nie, gaan gemeentelede dalk bloot hierdie voorbeeld volg. Sê nou die dissipelskap ding werk en gemeentelede volg bloot die voorbeeld van gemeentes, dominees en pastore . . .

Moet alle gemeentes nou van al hulle eiendomme ontslae raak?

Moet erken, ek wonder soms. Dalk moet die torings val! Maar daar is sekerlik twee kante as ons praat oor kerkstrukture, eiendomme en finansies: Aan die een kant sit ons vandag in die kerk met ʼn klomp materiële goed en kerklike tradisies wat ons geërf het en met wysheid moet probeer bestuur tot voordeel van die koninkryk. Aan die ander kant moet ons krities na onsself kyk en gedurig soek na die primitiewe eenvoud wat die vroeë kerk so effektief gemaak het. Die kerk moet haar mobiliteit herontdek.

Die Bybel sê nie dat ons nie eiendom mag besit nie, maar te dikwels gebeur dit dat ons eiendomme en finansies ons besit. Lets face it, baie gemeentes word eintlik maar bestuur deur finansiële- en/of eiendomskommissies. Dit het ʼn reuse invloed op waar die prioriteite lê (laat die sendingkommisie bietjie die leiding neem!).

Dit is nie ʼn sonde om ryk te wees nie, maar dit is ʼn sonde om nie te deel nie, om selfsugtig te wees met dit waarmee jy geseën is.

Ek is seker dit het baie tyd, kreatiwiteit en “finansiële wil” gevat, om die ronder gebou met toring en die hoeder op só ʼn integrale deel van ons kerkwees te maak. Dalk moet ons weer kreatief te raak? Dalk moet ons nuut kyk na die potensiaal van ons gemeentes en nuwe vra vra oor hoe ons beter kan dien met dit waarmee ons reeds geseën is. Is nog geldmaak byvoorbeeld regtig die enigste moontlikheid vir die baie residensiële eiendomme wat deur die gemeentes besit word? Kan daai pastorie wat verhuur word nie meer direk gebruik word vir die kernbesigheid van die kerk nie? Wat van kategeselokale, en Kerkgeboue? Kan dit net verhuur word vir ekstra inkomste? Kan dit nie direk gebruik word om hoop te bring nie? Woonstelblokke, meenthuiskomplekse, kamptereine, sinodale geboue . . .

Gebruik die kerk se eiendom eerder as plekke van hoop!

My gewaarwording is dat selfs sekulêre besighede en individue graag betrokke raak wanneer ons bietjie meer evangelies met ons eiendomme omgaan. Hulle wag dat ons omgee - dat ons ons eie boodskap glo, maar 'n gemaklike, veilige kerk wat net nou en dan 'n bietjie uitreik, is dikwels die laaste plek waar iemand wat 'n verskil wil maak in hierdie land wil belê.

Hoe gemaak met finansiële beleggings? Ons sal nooit genoeg hê of veilig genoeg wees nie - dit is waar vir individue en gemeentes. Iewers moet ʼn streep getrek word. Die vraag op die tafel moet volgens my wees: "Watter verskil kan ons maak met wat ons het?", "Hoe kan ons tot seën wees met dit waarmee ons geseën is?" ʼn Gemeente moet ʼn rivier wees waardeur God seën vloei en nie ʼn dam wat dit sefsugtig bly opgaar nie.

Een van die voorstelle wat ek in die artikel gemaak het, is dat gemeentes wat sterk voel oor finansiële sekuriteite in die vorm van beleggings, dit moet oorweeg om eerder eiendomme te koop wat dan aangewend word vir bv. huisvesting vir mense in nood. NG Villieria, waar ek deeltyds gekoppel is het ʼn paar jaar gelede ʼn huis gekoop met geld wat op ʼn belegging was en dit ingerig as laekoste behuising vir bejaardes wat nie verblyf in ʼn ouetehuis kan bekostig nie. Die tipe belegging hou nie alleen groot voordele in vir bejaardes in nood nie, maar ook vir die gemeente. Skielik is die "belegging" ʼn sigbare omgee projek waar gemeentelede betrokke kan raak - en mense motiveer om meer te gee - sou mense weet van ʼn belegging in die bank het dikwels die teenoorgestelde effek.

Ek het agter gekom geld is die mees sensitiewe onderwerp in die kerk. Eintlik mag ʼn mens nie hieroor praat nie. “Want,” sê die ou nou die dag, “jy is lekker krities, maar aan die ander kant is jy vinnig om die hoofstroomkerke se geld te ontvang vir julle werk onder jongmense in nood.” My antwoord hierop? Ons gebruik graag die Here se geld vir die Here se werk. Kritiseer my gerus as ons hierdie geld gebruik vir ʼn veilige belegging in die bank - of om ʼn gebou wat net een uur ʼn week gebruik gaan word daarmee te koop - of as ons amper al die geld gebruik om personeel aan te stel wat net weer "personeel" bedien.

  

'n Woordsom vir die ooms en tannies op gemeentes se finansiële- en eiendoms kommissies:

Krummels” is daai stukkies wat oorbly na ons almal klaar genoeg gehad het.

Sou 'n mens kon sê 'n goeie voorbeeld hiervan is daai tiende van mense se tiendes wat in offergawe mandjies gegooi is vir “die uitbreiding van die koninkryk” wat uiteindelik uitkom by die sending of diens van barmhartigheid? Met ander woorde, dít wat gegee word ná al die mense wat hierdie betrokke gemeente bedien en die gemeente (fiktiewe gemeente - want hierdie is net 'n woordsom) se geboue ensovoorts betaal is. Dit wat met ander woorde oorbly?

Ek is nie baie goed met somme nie, so, kyk of u met my saamstem:

n Tiende van 'n tiende is een persent, reg?

En ons almal weet, meeste mense gee nie eintlik tiendes nie, maar eerder “twintigstes" of “vyftigstes”, wat die gemeente se tiende 'n tiende van twintigstes en vyftigstes maak, reg?

Hier is die vraag: Watter persentasie van hierdie gemeente se omset gaan WERKLIK vir die “uitbreiding van die koninkryk”? (Vat 'n raai!) Van dit wat ingaan hoeveel kom uit? Is hierdie gemeente nie 'n bietjie swaar op “over-heads” nie?

Sou dit wys wees, van u en my, om gemeentelede met 'n passie vir “die nood in die wêreld” en die “uitbreiding van die koninkryk” aan te raai om dit te doen via die strukture van hierdie gemeente? Waarom sê u so?

(Ps - as die bogenoemde jou ontstel, gaan jy heeltemal uit-freak as jy sien

wat Luk 16:19-31 hieroor te sê het)

 

Gedagte vir die dag:

 

Jesus het nie veel te sê gehad oor tiendes nie . . .
maar hy het 
wel kom wys hoe ware omgee lyk, toe hy homself kom gee het.

 

Die alternatief vir, “krummels gooi vir die armes”,
is nie om brode te gooi nie, maar om 'n maaltyd te deel.

 

Hoor nou weer van die soveelste gemeente wat heel eerste op hulle
missionale beroting sny om hulle boeke te laat klop...
- minder belangrike goed eerste?

 

 

Jaco Strydom