• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

'n Mens moan nie met 'n mond vol kos nie

 

Moan, kerm en kla het ʼn nasionale sport geword. Dit is deesdae so deel van die Afrikaner kultuur soos braaivleis en rugby. Ons kuier nie meer nie, ons moan. Daar word veral gekerm om die kospotte en by die braaivleisvure. Dit is nogal ironies wanneer mense so met monde vol kos moan. In die meeste ander lande word die eet van groot stukke vleis gesien as ʼn luuksheid, iets om oor dankbaar te wees.

Nou is daar ʼn oom of tante wat baie kwaad is omdat ek hulle stokperdjie so beledig en wil weet of ons dan nou net moet terugsit en toekyk hoe dinge uitmekaar val? Natuurlik nie, maar is moan die enigste alternatief? As jy dan wil moan, gaan moan dan by die regeringskantore waar dit dalk kan saakmaak. Om by die kerkbazaar of braaivleisvure te moan help niemand nie, dit maak net die kinders negatief.

Die gemoan het ook weer deesdae al hoe meer ‘n rassistiese klankie. Ek onthou hoe ek in 1991 in lang toue gestaan het en maande gesukkel het om ʼn afspraak vir my leerlinglisensie te kry. "Dit is tipies staatsdiens," was oral die reaksie op hierdie tipe swak diens. Dieselfde swak diens word vandag ʼn rassekwessie. Dis nie meer "die staatsdiens" nie, dis nou "die swartes".

ʼn Ander groot pyn is die Suid-Afrikaners wat iewers in die buiteland woon en net so nou en dan terug surf om hier te kom moan. Op amper elke Afrikaanse internetforum of briewekolom kry jy hulle. Dit is asof hulle met al die gekerm aan die land (en hulleself) wil bevestig dat dit die regte ding was om te trek.

ʼn Tannie Moana sê nou die dag: "Ja, maar dit is juis omdat ek so omgee oor wat van ons land se mense word dat ek so moan". "So is dit die nuwe plan? Gaan ons nou die moeilikheid in die land reg moan?" vra ek. Die tannie verstaan omgee verkeerd. Om om te gee beteken tog presies dit: om - te - gee. As jy omgee sit jy nie net en moan nie - jy is besig om te gee. Jy gee jou tyd, jou vaardighede en jou geld. Jy gee jouself. Werklike omgee is nie selfsugtig gemotiveerd nie. Moenie jouself bluf nie, tannie, omgee en moan het niks met mekaar te doen nie. Jesus het gesê om te gee sal jou gelukkiger maak as om te ontvang. Moaners is nie besig om te gee nie en daarom is hulle so suur.

Daar is ʼn engelse spreekwoord wat sê: "It is better to light one candle than to curse the darkness". Die gemoan in ons land maak donker tye net nog meer skrikwekkend. Dink jy regtig God het ons in die land gesit ter wille van ons eie gemak? Ek en jy is tog juis hier omdat dit so donker is en as dit in Suid-Afrika beter gaan moet ons dalk na Bangladesh of Sudan emigreer om daar ʼn lig te wees! Wie wil nou ʼn lig wees waar dit lig is? As jy nie besig is om ʼn positiewe impak op die wêreld om jou te maak nie, is die wêreld waarskynlik besig om ʼn baie negatiewe impak op jou te maak (soos dat jy heeldag sal sit en moan...).

Wat my die meeste pla is dat die voorste moaners "gelowiges" is. Dit is vreemd, want die Bybel is nie ʼn verhaal van kerkmense wat in gemak geleef, naweke gebraai en jaarliks op vakansie gegaan het nie. Van begin tot einde is dit ʼn verhaal van mense wat uitgestaan het in moeilike tye. Groot dele van die Ou Testament speel af teen die agtergrond van slawerny in Egipte, die Assiriese bedreiging, die Ballingskap en die Persiese onderdrukking. In Jesus se tyd is dit die Romeinse oorheersing. Kort daarna lees ons in Handelinge van die vervolging van die vroeë kerk deur die Romeine en Jode. Die Bybel draai nie doekies om oor die realiteit van die stukkende wêreld waarin ons `n verskil moet maak nie.

Die mense wat so kerm dat dit vandag erger gaan as ooit te vore, weet nie waarvan hulle praat nie. Hoekom moet ek en jy dit beter hê? Wat maak ons so spesiaal? Christenwees is en was nog nooit vir sissies nie!

As ʼn Eskom kragonderbreking jou histeries aan die moan sit, wees bly jy leef vandag, want ʼn Babiloniese ontvoering of Assiriese aanval sou jou verander het in ʼn totale senuweewrak. God se mense het regdeur die geskiedenis juis hulle merk in die donkerste tye gemaak. Die moeilikheid het hulle gemaak wie hulle was. Dink jou in: ʼn Moses sonder ʼn Egipte, ʼn Dawid sonder ʼn Goliat of ʼn Daniël sonder ʼn leeukuil.

As jy dan iets wil sít en doen, bid eerder. Onthou net gebed is nie in die eerste plek ʼn poging is om God se wil te verander nie, maar om sy wil te leer ken. Dit is ʼn manier om aan te meld vir diens. Opregte gebed mobiliseer die een wat bid. Ons kan regtig doen met minder moaners en meer bidders in hierdie land. Probeer dit ʼn bietjie. As jy weer sinneloos wil begin moan, bid eerder.

Natuurlik besef ek dat ek nou self besig is om te moan, daarom gaan ek nou net hier stop.

(Beeld 06/03/2008)

Jaco Strydom