• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

IS DAAR HOOP VIR JONGMENSE IN NOOD?

 

Om aan jou eie genade oorgelaat te word . . .

kid

 

’n Vyftienjarige meisie kom sien my. Haar oë lyk leeg en haar stem klink moeg. Mienke (skuilnaam) was vir meer as ’n jaar nie in die skool nie en het onder andere betrokke geraak by dwelms. Sy swerf rond en bly tans tydelik by ’n vriendin. Omdat sy desperaat is dat ons haar sal help om weer skool te gaan, vertel sy my haar storie. Haar pa en ma het erg gedrink en gereeld van werk verander, daar was dikwels nie kos in die huis nie. Vandat sy kan onthou, het haar pa haar gemolesteer. Haar ma het daarvan geweet, maar die makliker uitweg gekies en gemaak of sy dit nie sien nie. Op 'n dag het sy al haar moed bymekaar geskraap en met ’n onderwyser daaroor gepraat. Die skool het die kinderbeskermingseenheid gekontak en Mienke sê, sy is nie seker oor wat toe gebeur het nie, maar toe sy daardie middag by die woonstel kom kry sy haar pa se bebloede lyk in die sitkamer. Selfmoord. "Hoe kon jy dit aan ons doen?" was haar ma se eerste reaksie. "Daai dag het ʼn donker ding oor my gekom," sê sy emosieloos. Sy was in graad 6 en nie meer welkom in hulle huis nie.

Liefde en liefdeloosheid het ‘n enorme invloed op jongmense. Ek is nie altyd seker wat die grootste skade aanrig nie - dit wat ouers doen of dit wat hulle nie doen nie. Chap Clark sê in sy boek "HURT - Inside the world of Today's Teenagers", die grootste negatiewe invloed op vandag se tieners is nie groepsdruk, dwelms, pornografie, bose musiek of wilde tiener partytjies nie, maar die simptome van 'n groter probleem wat Clark "Abandonment" noem. Dit is asof iets in 'n kind doodgaan, wanneer die persone wat hom/haar moes beskerm en koester, liefdeloos optree. As jy mooi kyk sien jy dit in hulle oë.

Ek erken dat alle jongmense met gedragsprobleme nie noodwendig selfsugtige ouers het nie en hulle kom nie altyd uit gebroke huise nie, maar dit is selde dat jongmense wat wel in 'n gebroke huishouding grootgeword het nie littekens oorhou nie.

'n Onderskeid wat ek nogal handig vind wanneer ek met hierdie jongmense werk is die onderskeid tussen skuld en verantwoordelikheid.

Wie seskuldis dit dat Mienke se lewe so deurmekkaar is? Natuurlik haar bose ouers sin. (Wanneer ouers hulle kinders verniel en afskeep is dit nie net wreed nie, dit is boos (evil). Die bekende sielkundige Scott Peck sê in sy boek "People of the lie," dat jongmense wat in sulke huise groot geword het, 'n tipe onvermoë ontwikkel om die boosheid in hulle eie ouers raak te sien. Hy wys daarop dat hierdie kinders gewoonlik glo dat hulle nie veel werd is nie en in ontkenning voortleef. Die kans is natuurlik groot dat hulle sal grootword en die voorbeeld van hulle ouers voortsit en dat 'n nuwe geslag kinders weer hieronder sal ly.

Dit is baie belangrik dat hierdie jongmense gehelp word om 'n etiese oordeel te fel. Peck vertel dat hy dikwels 'n denkbeeldige verhoor sou hou in sy spreekkamer waar die ouers in die beskuldigdebank is. Innerlike genesing kan eers begin as die waarheid rou op die tafel lê. Die waarheid is dat die ouers skuldig is - wat gebeur het was boos, onnodig en verkeerd. Iemand moet mos eers skuldig wees voordat hy vergewe kan word? Die vinnige, goedkoop vergifnis wat dikwels deur sekere Christelike beraders aangemoedig word lei baie keer net tot 'n dieper vorm van ontkenning van ware emosies by die kind - wat op die lang termyn die proses van heling net verder kompliseer en uitrek.

Die volgende vraag is: wie severantwoordelikheid is die tiener se geestelike welstand nou? Ons weet sy was 'n slagoffer, die vraag is nou of sy een moet bly. Baie mense, jonk en oud, val maklik vas in die "blame-game". Eerlikheid en die neem van verantwoordelikheid vir jou eie geestelike groei en welstand, is ‘n ongelooflik belangrike beginsel op die pad van geestelike genesing en groei.

Natuurlik het die ouers ook 'n belangrike verantwoordelikheid en waar dit moontlik is moet daar saam met die ouers gewerk word. Die realiteit is dat baie van die ouers soos Mienke se ma, so vasgevang is in haar eie leuens dat sy waarskynlik jarelange terapie nodig het. Intussen word Mienke (en die soos sy) groot en word hulle waardes en gedrag gevorm. Met die tyd vorm die sere in jongmense se harte eelte. Daar is hordes jongmense waarmee ons weekliks te doen kry wat reeds op een of ander wyse vervreemd is van hulle ouers. Vra maar enige maatskaplike werker na die behoefte aan plekke van veiligheid, veral vir hoërskooltieners wat dit nie meer by die huis kan hou nie, of nie meer welkom is nie.

Die enigste uitweg is dikwels om die jongmense te help om ontslae te raak van 'n slagoffer gevoel en verantwoordelikheid te neem vir hulle eie geestelike welstand en toekoms. "Jy kon nie kies watse ouers jy gekry het nie, maar jy is besig om te kies watse ouer jy gaan wees", sal ons vir jongmense sê. Maklik vir ons om te praat, ek weet, maar wat is die alternatief?

Die uitdaging is om eerlik te probeer wees oor die verlede en verantwoordelikheid te neem vir die toekoms.

Ons hou elke nou en dan 'n Afpakkamp by ECHO. Een van die oefeninge wat ons kinders laat doen is om vir elkeen 'n groot klip te gee om vir 'n dag lank saam te dra. Aan die einde van die dag gesels ons oor hulle ervaring. Hoe het dit gevoel? Op watter stadium het jy kwaad geword vir die ou wat vir jou die klip gegee het. En dan die groot vraag, hoe sou dit wees as ons 'n proefneming sou doen en jy 'n klip vir 'n paar jaar lank saam met jou moes dra?

Daar is baie moontlikhede, maar ek dink te minste twee goed sou gebeur. Die eerste is voor die hand liggend. Dit sal potensiaal steel. Dit sal jou moeg maak, jou lewe swaar maak. Dit sou selfs beserings aan jou en die mense naby jou kon veroorsaak. Aan die ander kant sal daar waarskynlik iets veel ergers gebeur. Jy sou gewoond kon raak daaraan. Jy sou begin dink dit is maar hoe ek is.

Hoe maak 'n mens met so 'n klip?

Baie mense lewe met die vals hoop dat die persone wat hulle seergemaak het, dit weer op 'n dag sal kom beter maak. Dit gebeur selde, indien ooit. Iemand het dalk iewers langs die pad vir jou 'n klip gegee wat jou lewe swaar maak, maar die klip is nou in jou hande! Net jy kan besluit wat jy daarmee gaan doen in jou toekoms.

Dit is nodig om te ontdek dat die keuses vir die pad na geestelike groei in ons eie hande lê. God se genade is nie 'n keuse wat Hy namens ons maak nie, maar 'n geleentheid om self weer te kan kies.

Een van my gunsteling verhale is dié van ʼn tweeling broers. Die een sit in die tronk en die ander is gelukkig getroud en vandag 'n suksesvolle besigheidsman in die Ooste van Pretoria wat baie moeite doen om ander te help. As jy hulle vra hoekom dit vandag met hulle gaan soos dit gaan, vertel hulle altwee dieselfde hartseer verhaal van jare se mishandeling in 'n baie disfunksionele ouerhuis. Vir die broer in die tronk is dit sy ouers se skuld dat dit vandag so sleg met hom gaan. Hy is bloot 'n slagoffer van die onreg wat hom aangedoen is. Sy ouerhuis is sy verskoning. Hy doen maar net wat hy geleer het. Vir die ander broer is sy gebroke ouerhuis sy motivering om die wêreld 'n beter plek te maak. Die een is besig met verskonings en die ander neem verantwoordelikheid. Daar word kragtige energie gegenereer deur onreg en krisisse in ons lewens en dit kan positief of negatief aangewend word.

Dit help natuurlik baie as jy hierdie pad nie alleen hoef te stap nie.

Een van die goed waarmee kinders die meeste worstel is 'n gevoel van eensaamheid. Mienke het nodig dat iemand saam met haar sal opstaan, sy het nodig om te voel dat sy nie alleen is nie. Sy het meer as net berading en terapie nodig, sy kort ’n nuwe geestelike gesin. Mense wat die gaping in haar lewe kan vul en geduldig is met haar terwyl sy gesond word. Die vryheid van ʼn veilige ruimte.

Die kerk het ’n reuse rol om te speel in jongmense soos Mienke se lewens. God roep ons mos om ’n familie te wees vir die eensames. Kinders soos Mienke sal dalk weer kan begin glo dat God hulle liefhet, as sy liggaam hulle liefhet.

Die Evangelie leer ons dat hoop meer is as ’n lewensuitkyk of ’n filosofie. Hoop daag op in hierdie wêreld in die vorm van ’n teenwoordigheid, hoop is ’n persoon: Jesus. Hy bring nie net die hoop vir die wêreld nie, Hy is die hoop. En die manier waarop Hy vandag kies om sy teenwoordigheid in hierdie wêreld te demonstreer is deur sy liggaam. Jesus het nie net vir ons iets gestuur nie, hy het self gekom - en dit is ook ons grootste roeping, om op te daag, om daar te wees.

Mense in nood het meer as net ons boodskap nodig, hulle het ons teenwoordigheid nodig. Ons word geroep om nie alleen hoop te bring nie, maar die hoop te wees – teenwoordig te wees juis waar daar hopeloosheid is. Om hoop “te bring” vra dat ek iets gee, om hoop “te wees” vra dat ek myself gee.

Die koste hiervan is groot. Dit vra dat ons nie net sal uitreik na jongmense in nood nie, maar dat ons saam met hulle sal wees, ook wanneer hulle verkeerde keuses maak. Seer mense soos Mienke het meer nodig as ons liefdadigheid en preke, sy het ’n langtermyn liefdevolle teenwoordigheid nodig, ’n nuwe familie. ʼn Familie waar sy die kans kry om weer te leer kies.

 

 

Jaco Strydom