• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

"Ander" kerke...met of sonder torings (Beeld)

Link na artikel in Beeld

Ek het al saam met die broers wat soos monnike lyk by Taize op die Franse platteland gemediteer en ge-chant, deurnag gebid saam met wild charismatiese Christene in Indië, mooi regop getaan in ʼn NG kerk en Psalm 100 gesing, op en af gespring by ʼn jeugfees, in tale probeer spreek by Rhema, die mis gebruik saam met ʼn Ierse katolieke priester in Oos Afrika, "Amen!" geskree saam met duisende mans by Mighty Men....

Ek beleef die verskeidenheid in spiritualiteit as iets baie positief - oral vind ek ʼn stuk opregte soeke – en baie om te leer. Dit is OK dat ons krities is oor "ander kerke", solank ons net die mooi ook kan raaksien.Die kerk is eintlik maar net ʼn baie vreemde klomp mense wat op verskillende maniere na God se wil soek. As jy my vra, is ons almal ewe confused - met dalk een of twee uitsonderings (wat meer confused is). Dankie tog vir genade van bo!

Dit is jammer dat daar soveel geestelike hoogmoed tussen die volgelinge van Jesus is - veral wanneer dit oor iets soos aanbiddingstyle gaan, wat volgens my mening, dikwels meer met persoonlikheidstipes te doen het as wat ons wil erken.

ʼn Tyd gelede het ek ʼn jeugweek gelei by `n Dopperkerk en net daarna opgetree by ʼn Volle Evangelie gemeente (praat van verskeidenheid in God se familie!). In albei hierdie hoogs uiteenlopende kerke het ek die wonderlikste mense raakgeloop wat baie toegewyd aan God probeer lewe. Die spreekwoord sê “onbekend is onbemind,” en dit is waar. Dit is baie makliker om op ʼn afstand oor ander te oordeel.

Een van die wonderlikste gewaarwordings vir my persoonlik is die ontdekking van kerke sonder torings - gemeentes buite die tradisioneel denomenasionele strukture. Hulle bestaan dikwels uit klein kreatiewe geloofsgemeenskappies wat in huise bymekaarkom, tydens etensure by die werk kerkhou of sommer in ʼn parkie of onder ʼn boom aanbid. Hierdie groepe bly doelbewus weg van geykte etikette en formaliteite, plaas ʼn hoë premie op vryheid en is dikwels baie toeganklik vir soekende mense wat nie tuis voel binne ʼn formele kerkstruktuur nie. Hulle herinner ons weer opnuut dat die kerk nie in die eerste plek ʼn struktuur is nie, maar ʼn beweging. Ek is seker dat hierdie ouens voor God, in die ware sin van die woord, nie minder kerk is, as hoofstroomkerke nie.

Vir te lank het ons eenvormigheid gesien as ʼn voorwaarde vir eenheid. As ons eenheid binne verskeidenheid kan vind het ons eintlik baie om te vier - en baie om te leer!

Dit is seker so dat daar mense is wat eenvoudig te ver gaan. Hier praat ek nou van die erg liberales wat soms dreig om te verval in totale ongeloof en aan die ander kant die ekstreme fundamentaliste wat weer neig na super geestelike bygelowigheid. Albei hierdie groepe tree dikwels baie modernisties op – net hulle is reg en enigiemand wat nie in hulle kamp is nie, word geëtiketteer as deel van die ander ekstreem. Alhoewel hulle met tye nogal ʼn groot geraas kan maak, is my gevoel dat hulle eintlik maar ʼn klein groepie is en dat daar selfs tussen hulle dikwels ʼn opregte soeke na waarheid is.

ʼn Nuusberig aan die begin van die Amerikaanse oorlog in Irak lui soos volg: “ʼn Amerikaanse konvooi is aangeval deur een van hulle eie vegvliegtuie. Vier mense dood, drie gewond, ...” Ek kon my ore nie glo nie! ʼn Weermag skiet sy eie soldate?! Wat `n vreemde gedagte. Dink jou in, ʼn offisier kom by die ma van een van die oorledenes en vertel haar die tragiese nuus oor die dood van haar seun en sy vra: “Hoe is hy dood?” en hy moet verduidelik: “Ons het hom geskiet“.

Baie soldate sterf in oorloë deur friendly fire - `n onverskillige skoot uit ʼn medesoldaat se wapen. Ongelukkig is dit ook dikwels die rede vir beserings in God se weermag, sy kerk op aarde. Van die ergste littekens waarmee baie mense vandag loop is toegedien deur medegelowiges. Die kerk het die potensiaal om haar eie grootste vyand te wees.

Dalk is dit tyd dat ons opnuut besef dat ons almal soldate is van dieselfde vredesmag. Daar is nie kompetisie in die hemel oor watter kerk die beste vaar nie. Ons mag nooit meer lojaal wees aan ons eie gemeente of denominasie as aan God se koninkryk nie.

As gelowiges deel ons dalk nie altyd dieselfde teologiese oortuigings nie, maar ons deel die nood in die gemeenskap en ons is tog almal eens dat ons geroep is om ʼn lig te wees waar dit donker is. Ons eenheid en ons getuienis is onlosmaaklik verbind aan mekaar. In Johannes 13:35 sê Jesus: “As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is”. In Johannes 17:35 bid Jesus dat ons een sal wees sodat die wêreld in Hom sal glo as God se gestuurde. Ons integriteit as gelowiges het verskriklik baie te doen met hoe ons mekaar behandel. Die Bybel waarsku ons dat ons nie vir God, vir wie ons nie kan sien nie, kan liefhê, as ons nie ons broers liefhet, wie ons wel kan sien nie. Jy kan tog nie vir God lief wees en nie vir sy liggaam nie?

Natuurlik is geen kerk perfek nie - inteendeel! Ons mag (en moet) gedurig krities na onsself kyk, maar daar is ʼn groot verskil tussen opbouende kritiek wat daarop uit is om die kerk meer effektief te maak en ʼn sinnelose geskinder, gekla en gekerm. Iemand het eenkeer gesê: “Hy wat klippe gooi verloor grond.”

Miskien is dit nodig dat ons almal bietjie van tyd tot tyd ʼn draai gaan maak by ʼn paar “ander kerke”, onthou net: “If you find the perfect church, don’t join it - you’ll spoil it!”

 

Link na artikel in Beeld

 

Jaco Strydom