• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Lesse by my ghoeroes

God is not just great because nothing is too big for Him. God is great because nothing is too small!” Greta het hierdie woorde uit 'n boek van Mark Batterson vir my voorgelees toe ek nou die aand hulle nuwe huis in Garsfontein vir hoërskoolmeisies in nood besoek. Die eerste meisie het pas ingetrek en saam met ons in die sitkamer gekuier. 'n Heilige oomblik.

   Greta is 'n dominee by NG Moreletta, Su-Ann werk by 'n hoë profiel finansiële instelling. Hulle het albei onlangs uiters gemaklike woonplekke opgegee om in te trek in 'n kamer in die nuwe huis, met die hoop om 'n familie te wees vir tienermeisies wat aan hulle eie genade oorgelaat is. Nog meisies sou deur die loop van die week intrek.

  Ek het my verwonder aan Greta en Su-Ann se entoesiasme en opgewondenheid al weet hulle maar alte goed dit gaan geen sondagskoolpiekniek nie, slapelose nagte, baie konflik, min persoonlike ruimte en wie weet wat alles nog lê voor.

   Net die vorige dag was ek in 'n vergadering met 'n klomp van die jong werkende mense en studente wat kies om hulle lewens te deel met die tieners in ons hoërskoolhuise in Villieria. Terwyl ons praat oor nuwe kinders wat intrek, wie gaan kosmaak, een van die meisies wat soek is na sy weggeloop het, studiehulp vir die kinders wat sukkel met leerwerk, wie gaan wie wanneer rondry, wie gaan waarvoor vroeg opstaan . . . dink ek by myself: hierdie mense gee régtig hulle lewens vir hierdie kinders!

  Ek voel so bevoorreg om hulle te ken! Hulle is my heroes. Die mense wat dít leef waaroor ek dikwels maar net kan skryf en praat.

   Hulle het 'n ander idee oor kerkwees - nader aan die aarde. Hulle glo 'n lewe is 'n lewe werd, dat Jesus nie net sy lewe kom gee het sodat ons mekaar daarvan sal vertel nie, maar sodat ons ook óns lewens sal gee. Hulle het 'n passie vir Jesus, maar ook die passie van Jesus. Hulle glo dat jongmense in nood net sal weet dat God vir hulle lief is, as sy liggaam vir hulle lief is. Hulle glo presence makes the difference - dat liefde nie oor 'n afstand geskree kan word nie. My Guru in following Jesus is a community of selfless weirdo’s!

  Jaco Smit, almal noem hom Bushy want daar is te veel Jaco’s in ons gemeenskap (jy moet weet hoe lyk hy as hulle hom Bushy en my steeds Jaco noem), woon amper vyf jaar in een van die naskool kommunes genaamd, Vyfster. Hy woon nie net in die huis nie maar deel ook sy kamer met iemand in nood: op 'n stadium met 'n ou wat op sestien toegesluit is vir moord en vir ses jaar in die tronk was, later met iemand wat geskors is uit 'n kinderhuis, onlangs met 'n outjie uit 'n skuiling vir straatkinders . . . Toe ek hom nou die dag vra waarom hy van sy kar ontslae geraak het en nou eerder kies om fiets en bus te ry (’n vreemde ding vir iemand met 'n graad in beleggingsbestuur!) was sy antwoord, “Maar hier is mos baie karre!”.

  Dit het my herinner aan 'n gesprek wat ek verlede jaar met Shane Claiborne gehad het. “The life of simplicity is only possible in community,” het hy gesê. Wanneer almal alles deel, het elkeen soveel minder nodig.

  Ek loop vreemde mense soos hierdie deesdae oral raak. Daar is Cawood en Erica van Oeboentoe wat 'n hele lot kinders in hulle huis ingeneem het, ander werk by PEN en TLF in die middestad van Pretoria, by MES in Hilbrow en City Missions in Kaapstad, daar is Dominique en Happy wat saam met Themba hulle lewens gee in die Olievenhoutbosch plakkerskamp . . . in elke stad in elke gemeente kry jy hulle. Mense wat juis die donker opsoek om daar 'n lig te wees, wat die gewone lewe verruil het vir die avontuur van Jesus.

Gister praat ek met Marita. Sy is 'n lidmaat van 'n Gereformeerde gemeente hier in die Moot en 'n onderwyseres by 'n skool vir kinders met getremdhede. 'n Paar jaar gelede het sy 'n erg gestremde seuntjie in haar klas ingeneem in haar huis. Hy is vandag nog by haar.

  My nuwejaarsvoorneme is om by hierdie mense te leer.

  Toe ek nou die dag hieroor praat vra iemand of dit nou beteken dat ons almal skielik klein Moeder-Teresatjies moet probeer wees? Nee, antwoord ek, ek dink nie Moeder Teresa sou daarvan hou nie. Allermins! Sy sou eerder wou hê dat ons ook moet probeer om soos Jesus te wees.

 

 

(Kerkbode rubriek 01/2015)

Jaco Strydom