• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Die skoolhoof se vreemde woorde

 

Nou die dag gesels ek met ʼn skoolhoof van ʼn multikulturele skool op die platteland. Voor ons gesprek moes ek met die kinders op die vierkant praat. Dit was wonderlik om te sien hoeveel wit, bruin en swart jongmense staan en gesels - daar was selfs ʼn paar Chinese. Dit was die tipe prentjie wat ʼn mens hoop gegee vir Suid-Afrika (daar is eintlik heelwat sulke prentjies, as jy een wil sien in Pretoria, gaan loer gerus by Hoërskool Hendrik Verwoerd).

Na die tyd drink ons saam koffie en wens ek die hoof geluk met die skynbaar onmoontlike wat hy op die platteland regkry.

“Wow meneer,” sê ek, “ek wens die kerk kan dít regkry.” Sy antwoord het my totaal verstom. “Julle neuk nie met die kerk nie!” sê hy “Daar moet darem nog

die een plek wees waar ʼn mens ʼn Afrikaner saam met ander Afrikaners, in Afrikaans, kan wees!”

Die skoolhoof het verwoord wat baie mense voel. Ek verstaan waar hy vandaan kom, maar die waarheid is dat die kerk nooit bedoel was om 'n kultuurvereniging te wees nie - daarvoor is daar die FAK en die ATKV. Die kerk word geroep om grense oor te steek in die poging om mense met mekaar en met God te versoen - ’n vredemaker te wees.

“Broer en “suster” was van die sterkste moontlike woorde waarmee jy jou verbintenis met iemand in die Nuwe Testamentiese

tyd kon verklaar. Jou hele identiteit het saamgehang het met die gesin waarvan jy deel was.

Paulus en die vroeë kerk se idee dat gelowige Grieke, Jode, Samaritane, Ethiopiërs, Romeine . . . deel kan word van 'n nuwe volk in Jesus se nuwe koninkryk, waar hulle mekaar “broer” en “suster” noem, was nie baie gewild onder die konserwatiewe Joodse godsdienstiges nie.

Dis vandag ook so hier by ons.

'n Tannie wat voel ons moet “net ons eie mense help” kom kla vir die soveelste keer by my oor “die swartes” in een van ons Echo huise.

Hulle gedra hulle nie soos Christene nie, sê sy.

Ons moet maar geduldig wees, sê ek, hulle is nuut hier, kyk net hoe lank vat dit vir tannie . . . en tannie is al meer as sewentig jaar in die kerk.

Die ironie van ons tyd is dat van die mees basiese beginsels van die Evangelie so ongewild is onder kerkmense.

Ons kan nie in ʼn land waar miljoene wit, bruin en swart Christene elke Sondag vir ten minste ʼn uur lank stilsit om te hoor “wat sê die Here,” versuim om reguit te praat oor die dinge wat die grootste invloed op ons samelewing het nie. Veral dinge soos groeiende rassespanning. Ons sal saam met ons mense weer moet leer wat die kuns en die koste van vredemaak is.

Die laaste ding wat ons nodig het is kerke wat meer en meer soos kultuurverenigings funksioneer.

As versoening nie vir die kerk met haar goeie nuus moontlik is nie, is daar min hoop vir die res van die land. Suid-Afrika het 'n dapper kerk nodig wat nie bang is vir haar eie mense nie.

Baie Afrikaners gaan aan asof ons eintlike Jode is. Dis 'n leuen. Ons voorouers se voorouers was Europese heidene wat deur Christene van ander kulture bereik is.

As die vroeë kerk 'n volkskerk was, was die Evangelie nou nog steeds net in Israel. As Paulus ʼn rassis was, was nie een van ons vandag ʼn Christen nie.

As die vroeë Christene so min gevoel het vir kerkeenheid, soos dit nou blyk 'n baie groot groep NG Gemeentes doen, was daar nie vandag 'n kerk in Suid-Afrika nie.

 

(lees in Beeld / Netwerk 24)

 

 

 

Jaco Strydom