• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Is al die goed nie veronderstel om die lewe makliker te maak nie?


 

Marina kan nie uitgepraat raak nie. Iets groots het in ons huis gebeur. Sy vertel dit vir almal wat kom wyn drink: haar man het vir die eerste keer in veertien jaar sy studeerkamer reggepak (en, voeg ek dan by, besluit om dit van nou af elke veertien jaar te doen).

Ek moes van 'n massa goed ontslae geraak. Stupid onnodige goed waarmee ek deur die jare leer saamleef het.

Vandag is my studeerkamer minimalisties: 'n enkele stoel, 'n matras, ’n meditasiematjie en 'n boekrak (die lessenaar is ook gefire). Ek kan dit weer daar binne waag. Ek hoef nie meer oor goed te klim om op by my stoel uit te kom om te lees of skryf nie. Dis lekker om weer huis toe te gaan. My huis is skoongemaak. Dis so lekker, party aande slaap ek sommer daar - tot Marina se ontsteltenis.

As dit waar is wat mense sê, “dat studeerkamers eintlik baie sê oor die mense wat daar uithang”, gaan dit nou sommer baie beter met my.

Meeste van die goed het ek oor meer as 'n dekade versamel met die hoop dat dit my lewe makliker en lekkerder en mooier sou maak, maar op die ou einde het dit presies die teenoorgestelde uitwerking gehad.

In die tyd waarin ons leef is die voorwaardes vir “'n gelukkige lewe” groter as ooit.   Ons het meer goeters nodig as ooit te vore in die geskiedenis van die mensdom. So min as twintig jaar gelede, was dit byvoorbeeld nog heeltemal moontlik om gelukkig te wees sonder 'n selfoon (en sonder internet). 

Tye het verander. Nou die dag gaan lewer ons 'n kospakkie af by 'n arm gesin hier in die Moot wat “krepeer van die ellende” - die pa en ma het nie werk nie, die kinders gaan slaap honger . . .  Maar hulle het selfone! Die ergste was toe ek in die sitkamer kom en sien hulle het DSTV.  Armoede is nie meer wat dit was nie!

Dis ook waar van kerkwees. Jy het min nodig gehad om kerk te wees in die eerste drie eeue - die tyd toe sy die vinnigste in die kerkgeskiedenis gegroei het. Vandag is dit nie meer so maklik nie. 

Om kerk te wees vandag het jy ten minste vyf of ses van die volgende goed nodig: 'n kerkgebou of ouditorium, teologiese opleiding,’n koster, belydenisskrifte, kerkreg, 'n sinode, 'n saakgelastigde, 'n jaarlikse ringsitting, 'n kalender, 'n Bybel, ’n website, ’n konsistorie, 'n klanksisteem, 'n pastorie, 'n letterbord, liturgiese handleidings, 'n dataprojektor, 'n klomp geld, 'n orkes, beligting, kontrakte, kommissies, ’n preekstoel, 'n toring met 'n hoender op . . . - en deesdae selfs 'n vurkieheining! 

Daar is natuurlik redes vir die feit dat kerkwees vandag so ingewikkeld is. Een van die redes is kerkgroei. Dit was een ding om 'n paar huiskerke in Rome of Jerusalem te organiseer, maar skielik heel 'n ander storie toe getalle in die honderde-duisende begin draai. 

Moeilikheid groei dikwels saam met getalle - en met die verloop van tyd. 

Teologiese studie was byvoorbeeld minder nodig in die vroeë kerk, omdat hulle geleef het in die konteks waarin die Nuwe Testament geskryf is. Ons aan die ander kant, moet moeite doen om te verstaan. Ons is aliens in hulle wêreld. 

Vandag kan ons onsself ook nie kerkwees sonder 'n Bybel voorstel nie. Tog het die vroegste gemeentes net fragmente gehad het van dít wat ons vandag “die Bybel” noem - die 66 boeke van die Bybel soos ons dit vandag ken is eers in die vierde eeu bymekaar gesit in “een boek”.  Meeste gemeentelede in die eerste eeue kon nie lees nie.

Maar, kan 'n mens met reg vra, is groot getalle, teologiese studie, kerkgeboue en van die ander middele tot ons beskikking vandag, veronderstel om 'n verskoning of 'n aanmoediging te wees? 

Iemand het op 'n keer gesê: “Maturity is mastering the basics". Die kerk is vandag geseën met meer middele as ooit te vore. Tog, ironies genoeg, maak juis dít die uitdagings om weer die “basics" te probeer bemeester groter. 

Die lyn tussen 'n seën en 'n vloek is soms baie dun.

Kerkbode Rubriek 04/2015

 

Jaco Strydom