• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Vredeslesse by vreemde wesens

 

Ons was op die pawiljoen, die skoolopening was net verby. Iemand het van agter half teen my geval, ek het my vererg, omgeswaai en die ou terug gestamp en met 'n skok besef hoe groot hy is. Ek was 'n gewone grote graad agt en hy 'n buitengewoon volwasse (nie in die geestelike sin nie) graad nege, met 'n stoppelbaard en 'n besondere lang nek. Hy wou my slaan, maar daar was te veel onnies. Die ou het afgebuk en teen my gesig gefluister, hy kry my pouse.
   Ek was bang en het om 'n hoek my toebroodjies gesit en eet toe hy en 'n paar vriende opdaag. Hulle het gesê ek moet saamstap, die groot ou wou die ding “ordentlik” uit-fight.
   Dit het gevoel of ek gevonnis is en begelei word na my teregstelling, my bene was lam en my lippe droog, maar ek het by myself gedink ek gaan probeer om ten minste een “ordentlike” hou in te kry - voor my dood.
   Hy het sy nek heen en weer beweeg en die geveg begin met 'n hou in my maag. Ek het met 'n geweldige hou geantwoord en sy neus heeltemal mis geslaan - en geweet dis verby. Toe, skielik, staan daar ’n eienaardige maer outjie tussen ons.
   Ek kan nie onthou wat hy gesê het nie, maar op die ou einde het ek en die graad nege met die lang nek bladgeskud.
   Dit was die eerste keer dat ek 'n vredemaker in aksie sien. Hy was in graad elf en sy naam was Gobabis (bless his soul), die skool se groot daggaroker. Hy was die tipe ou “wat nie kon sit en kyk hoe een ou 'n ander ou boelie nie,” - en ons het waarskynlik die rus en vrede op sy rookplek versteur.
   Nou die dag hoor ek van 'n laerskool wat kinders oplei om vredemakers te wees. Die kinders wat deelneem aan die program dra selfs balkies wat sê: “Peacemaker”. Die skoolhoof vertel dat wanneer daar 'n geveg uitbreek by die fietsloodse - en die kinders skree “Baaanie! Baanie!” - dit dikwels gebeur dat wanneer die onderwyser aan diens uiteindelik opdaag, daar reeds 'n vredemaker tussen die twee bakleiers staan - partykeer is dit 'n dogtertjie tussen twee groter seuns.
   Justice Tsungu vertel my hoe 'n groep mense in die laat tagtigs opgedaag het met klippe en petrol en gedreig het om hom dood te maak en sy huis af te brand. Joseph Chauke, ’n evangelis, het tussen die mense deurgestap met 'n Bybel in sy hand. Hy het langs Justice voor sy huis gaan staan, sy Bybel gelig en vir die skare gewys hy wil iets sê. Toe hulle stil raak vra hy of hy net eers kan bid. Hy en Justice het op hulle knieë gaan staan tussen die skare en die huis.
   Justice Tsungu sê jy kon letterlik hoor hoe die mense hulle klippe op die grond laat val. Na die tyd het hulle een vir een weggestap. Hy sê Joseph Chauke is die dapperste man wat hy ken en ek kon dit beaam - ek het jare gelede saam met oom Joseph agter 'n skelm aan gehardloop en gesukkel om by te bly al was hy dubbel my ouderdom. Behalwe vir dapperheid het Joseph Chauke en Justice Tsungu nog iets in gemeen: hulle is twee van die kortste mense wat ek ken - klein oompies.
   Nou die dag by die optog teen Xenophobia in Pretoria, sien ek weer iets hiervan. Daar was duisende mense. Al was dit nie 'n kerkbyeenkoms nie was daar heelwat Katolieke en Anglikaanse priesters (min NG-mense). Aartsbiskop Makgoba het die byeenkoms begin deur 'n voorlesing uit Levitikus en Mattheus 25 - waar God sê hy neem dit persoonlik op as mense lelik is met vreemdelinge - en gebid vir vrede. Vreemde dinge het gebeur, soos 'n klomp plaaslike mense (met ANC T-hemde) wat begin sing en dans het met 'n massiewe Somaliese vlag bo hulle koppe.
   In die middel van dit alles sien ek weer ’n klein, dapper vredemaker. Die keer was dit Wilna De Beer van TLF met 'n plakkaat: “Jesus was Lekwerekwere!” (skelnaam vir vreemdelinge).
   Vredemakers is vreemde wesens. Daar is ten minste twee dinge wat ons as kerk by die wat ek hier noem kan leer:
   Die eerste is om op te daag. Vredemakers moet wees waar daar onvrede is. As ons nie naby is nie, is teologiese praatjies sinneloos.
   Die tweede is die beginsel van “klein-wees”. Dit wil voorkom asof vredemakers klein genoeg moet wees om in die delikate spasies tussen vyande in te pas. Vredemakers se krag lê in hulle weerloosheid.
   Die kruis getuig dat dapperheid en weerloosheid saamloop waar vrede gemaak word.

(Kerkbode rubriek 05/2015)

 

 

Jaco Strydom

 

 

Screen_Shot_2015-05-22_at_11.10.29_PM.png

 

 

Lees ook:

Die kerk en mag - in die tyd van Zuma

Die skoolhoof se vreemde woorde

'n Mens moan nie met n mond vol kos nie