• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Laat die kind die bidwerk doen

Ek en my vriend, Jaco Swanepoel, het vliegkaartjies persent gekry om die Mission Possible sendingkonferensie in Nijkerk naby Amsterdam by te woon. Ons het - om geld te spaar - 4km buite die dorp op 'n melkplaas in die veld gekamp (alles was fine tot ons een koue aand na twaalf terugstap en met 'n skok besef die koeie slaap binne in geboue en ons in tente in die veld!).
   'n Klomp belangrike sprekers het opgetree, onder andere Broer Andrew van God se Smokkelaar, Loren Cunningham en Heidi Baker.
   Die mense wat my egter die meeste gefassineer het was 'n klompie kerkleiers uit geslote lande - lande waar dit teen die wet is om die evangelie te verkondig. Daar was kerkleiers van Mayamar, Bhutan, Noord Korea(!), die Midde Ooste en ander plekke.
   Van hierdie kerkleiers het die geleentheid gekry om hulle stories te deel, waarna daar tyd uiteengesit is om vir spesifieke Christene wat tans vervolg word te bid.
   Die een oggend het 'n kerkleier uit 'n land in Asië (wat ek nie hier mag noem nie) vertel van 'n man wat ses jaar tronkstraf gekry het omdat die Lukas Evangelie is sy huis gevind is. Hy was reeds jare in die tronk. Almal het saam vir hom gebid.
   By die volgende sessie kon ek 'n vreemde opgewondenheid onder die organiseerders opmerk. Hulle het die betrokke kerkleier gevra om vorentoe te kom en te verduidelik. Hy vertel toe dat hy net na die vorige sessie  - waar hulle gebid het vir sy “broer wat in gevangenisskap is” - terug is na sy kamer om sy epos te antwoord. Toe hy sy rekenaar aansit kry hy 'n epos wat pas gestuur is en sê dat die betrokke broer heeltemal onverklaarbaar 'n halfuur gelede vrygelaat is, sy familie verstaan glad nie wat aangaan nie, maar hy is op pad huis toe! Die ou het baie opreg oorgekom en ek kon nie anders as om hom te glo nie.
   Maar ek kon ook nie help om te dink aan die baie gelowiges wat nié vrygelaat word nie, al bid ons. Wie weet watter pyn mense op hierdie oomblik verduur bloot omdat hulle vir Christus dien. Wreedheid teenoor Christene is wêreldwyd aan die toeneem.
   Gebed is 'n misterie - wat die een wat bid op allerhande maniere verras.
   Ek was nou die dag verbaas toe ek hoor hoe Richard Rohr 'n groep gelowiges aanspreek omdat “daar nie meer gebid word vir siekes nie”. Dit is tog 'n opdrag in die Bybel merk hy op en vertel toe van twee geleenthede waar hy persoonlik teenwoordig was toe mense tydens gebed genees is.
   Tony Campolo het die misterie van gebed vir my die mooiste saamgevat toe hy jare gelede by 'n funksie in Pretoria opmerk: “I don’t understand prayer, but I tried to pray and I tried not to pray . . . and praying works better!”.
   Miskien was Carl Jung reg toe hy geobserveer het dat daar dikwels meer as een persoonlikheid in ons aan die werk is. Ek kom agter dat, al wil die ongelowige filosoof in my alles bevraagteken en uit-redeneer, ek die kind in my moet toelaat om te bid. Die kind bid beter! Ek hoef hom partykeer nie eens te vra nie - nou die dag het die kind byvoorbeeld sommer vanself begin bid toe 'n Zambesihaai my boei gryp en my begin sleep op ’n spearfishing trip saam met my vriend Chris.
   Alles is wonderwerke. Dit is so dat God altyd oral in alles is en ons niks daaraan kan verander nie (ons kan dit bloot ontdek en waardeer en toelaat dat dit ons verander). Tog skets die Bybelskrywers God se hier-wees nie as 'n passiewe-teenwoordigheid nie, eerder 'n aktiewe-teenwoordigheid. God is besig. Sy Gees beweeg.
   Gebed is nie in die eerste plek 'n poging om God se wil te verander nie, maar 'n poging om God se wil te leer ken, sal ek dikwels self sê, ons kan Hom nie beweeg nie, Hy beweeg ons. Dis alles waar, maar lets face it, die misterie is ook groter as dit!
   Om te ontken dat Hy dikwels buitengewoon toetree en die normale verloop van sake omverwerp, is om die kind in ons te probeer stilmaak (al sê Jesus nooit dat ons moet “glo” soos kinders nie, maar eerder dat ons moet “word” soos kinders).
   Op die ou einde is dit belangriker om te bid, as om gebed te probeer verstaan en verduidelik. 'n Mens hoef nie 'n misterie uit te figure om dit te waardeer nie.
   Ons bid mos in elk geval nie omdat ons in gebed glo nie, maar omdat ons in God glo.

(Kerkbode rubriek 19/06/2015)

Jaco Strydom

 

 

  

Lees ook:

Die kerk en mag - in die tyd van Zuma

Die skoolhoof se vreemde woorde

'n Mens moan nie met n mond vol kos nie