• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

As die rykes moan, wat moet die armes doen?

 

My dogters weet ons is ryk. Skatryk. Ryker as meeste mense op aarde - ons bly byvoorbeeld in 'n steenhuis, het krag wat gereeld trip en ek en Marina het elkeen ons eie kar. Dis belangrik dat hulle dit weet. Niks is erger as rykmense wat moan nie.
   Ek is eintlik al baie lank ryk.
   Van daai tyd af toe ek vir ’n jaar in Indië gaan woon het. Ek het as 'n arm student gegaan en skatryk teruggekom - met minder geld. Kon nog nooit weer arm voel nie. Selfs al slaap ek 'n aand op straat, is dit omdat ek wil, nie omdat ek moet nie. Al is my geld soms min is, is my konneksies steeds baie. Al roof hulle my van alles, het ek 'n klompie kennis en ervaring - te danke aan kinderjare vol geleenthede en blootstelling aan goeie skole en Universiteite - wat niemand kan afvat nie.

   Nou die dag is ek in 'n blanke plakkerskamp hier buite Pretoria. Terwyl ons tussen omheinde wendy-huisies loop besef ek dat Karabo, 'n vlugteling seun uit Midde-Afrika wat saam met ons was, waarskynlik nie 'n idee het waaroor ons praat en watse plek die nou eintlik is nie. “What do you think about this place?” vra ek hom. “Hooo! It’s nice!” sê hy, “Is it a holiday place?” Net daar besef ek hoe relatief armoede en rykdom is. As hierdie mense volgens hom ryk is, wat is ek!
   Ek praat dikwels met middelklas Afrikaanse jongmense. Die meeste van hulle is in goeie skole, hulle ouers ry mooi karre, hulle braai elke naweek en hulle gaan gereeld op vakansie. Die lewe is goed vir hulle hier in sonnige Afrika.
   Tog loop ek elke nou en dan een van hulle raak wat nie ʼn goeie woord oor Suid-Afrika te sê het nie. Sien geen toekoms nie. Kan nie wag om te immigreer nie. Vra jy wat gebeur het, gaan dit selde oor 'n krisis wat persoonlik ervaar is. Hulle het maar gehoor wat sê die ooms om die braaivleisvure en dinge gelees in die koerant.
   Selfs die werkloosheidsargument werk nie so lekker nie, want alhoewel Suid-Afrika ʼn skokkende werkloosheidsyfer van meer as 25% het, is dit die werkloosheid onder blankes minder as 7%, baie dieselfde as Europa en eintlik heelwat beter as lande soos Spanje, Italië, Griekeland, Frankryk en Portugal.
   Die oumense het armoede en rykdom anders verstaan. My oupa en ouma het in die goeie jare hulle eie lêhenne gehad, self hulle groente geplant, vrugte gedroog en hulle eie knope aangewerk. Ek was al op hoërskool toe hulle die eerste keer krag op die plaas kry - sonder 'n geiser.
   Nou en dan sou my oupa wel vertel van die jare “toe dit swaar gegaan het”. Die mans moes vis skiet in die Wilgerivier en die vrouens seep kook en gaan verkoop op die dorp gedurende die depressie jare. Hulle klere was gelap en daar was nie geld vir skoene vir die kinders nie.
   Ek het al baie gewonder wat sou die Voortrekkers, die boere in die boereoorlog of die vroue in die konsentrasiekampe sê as hulle kon sien waaroor ons vandag so te kere gaan en hoe jammer ons onsself kry.
   Om nie eers te praat van die mense in die tyd van die Bybel nie!
   Van die voorste moaners vandag is mos "gelowiges". Dit is vreemd, want die Bybel is nie ʼn verhaal van kerkmense wat in gemak geleef, naweke gebraai en jaarliks op vakansie gegaan het nie.
   Van begin tot einde is dit ʼn verhaal van mense wat uitgestaan het in moeilike tye. Groot dele van die Ou Testament speel af teen die agtergrond van slawerny in Egipte, die Assiriese bedreiging, die Ballingskap en die Persiese onderdrukking. In Jesus se tyd is dit die Romeinse oorheersing. Kort daarna lees ons in Handelinge van die vervolging van die vroeë kerk deur die Romeine en Jode. Die Bybel draai nie doekies om oor die realiteit van die stukkende wêreld waarin ons ‘n verskil moet maak nie.
   Die mense wat so kerm dat dit vandag erger gaan as ooit te vore, weet nie waarvan hulle praat nie.
As ʼn Eskom kragonderbreking jou histeries aan die moan sit, wees bly jy leef vandag, want ʼn Babiloniese ontvoering of Assiriese aanval sou jou verander het in ʼn totale senuweewrak. God se mense het regdeur die geskiedenis juis hulle merk in die donkerste tye gemaak. Die moeilikheid het gewys wie hulle was. Dink jou in: ʼn Moses sonder ʼn Egipte, ʼn Dawid sonder ʼn Goliat of ʼn Daniël sonder ʼn leeukuil.
   Iemand het eenkeer gesê: “Ek sal wees soos 'n rubberbal, hoe harder die lewe my gooi, hoe hoër sal ek hop!”. Soos 'n lig wat al helderder skyn soos dit al donkerder word. Hierdie gesindheid het ons nodiger as geld, gemak en vurkieheinings. Niks is gevaarliker as die goed wat in ons eie koppe aangaan nie.

 

 

Jaco Strydom (artikel in Maroela Media)

Louisa-Crispin-Feather-I.jpg