• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Vryheid en die gesteldheid op besit

Vader Maximous El-Antony is ’n Koptiese monnik van die oudste klooster in Afrika (die vierde eeu ná Christus) in die woestyn in Egipte.

Hy lyk soos iemand uit Lord of the Rings met ’n swart kleed, goue borduurwerk en spierwit baard en hy leef ’n lewe van afsondering, stilte en toewyding.

Ek het hom vir die eerste keer by ’n ekumeniese byeenkoms ontmoet. Toe iemand in ’n lesing vra hoe hy in dié leefstyl beland het, antwoord hy: “You know, I just loved God so much.” Net dit en toe ’n lang, vreemde stilte.

Almal het gewag dat hy verder verduidelik, maar dis al wat hy gesê het.

​Nie wat hy gesê het nie, maar hóé hy dit gesê het, het my diep geraak. Dit was een van daai heilige oomblikke.

Ek kon aanvoel dié man ken geheime wat nie met woorde beskryf kan word nie.

Ons ontmoeting het my opnuut laat nalees oor die Woestynvaders, mense van eenvoud, dissipline en wysheid wat die stem van God in die wind kon hoor.

’n Tyd gelede loop ek hom weer raak op ’n konferensie, dié keer is daar meer tyd om te gesels.

Voor ons gesprek was daar ’n aanbieding deur Sibusiso Zikode van die South African Shack Dwellers’ Movement wat sy hart uitgepraat het oor die tema “No freedom with­out land”.

Hy het ons gehelp om iets te begryp van die frustrasies wat mense in plakkerskampe beleef. Aan die ander kant was ek diep bewus van die kompleksiteit oor grondbesit in Suid-Afrika. Vir dié wat wel grond besit, is dit dikwels ’n uiters emosionele aangeleentheid.

Nee, hy verstaan nie die debat nie, sê vader Maximous toe ek hom uitvra oor Zikode se aanbieding.

Hoe kan jy net vry wees as jy grond besit? Soos hy die Evangelie verstaan, moet ’n mens minder hê as jy vry wil wees, nie meer nie. En toe haal hy Jesus aan uit die bergpredikasie.

Hy het my sy eie storie vertel. Hoe hy jare gelede, ná ’n gesprek met ’n heilige man op sy sterfbed, besluit het om sy lewe totaal aan God oor te gee en ’n monnik in die woestyn te word.

Sy ouers was ongelukkig – hy het pas sy studie in ingenieurswese voltooi. Laat een aand het hy weggeloop van die huis af. Twee dae lank het hy deur die woestyn gestap.

Toe hy uiteindelik die klooster in die verte sien, het hy gestop, sy sakke leeg gemaak, sy arms oopgestrek en die laaste bietjie geld wat hy besit het op die woestynsand neergegooi.

Hy sê ’n onbeskryflike gevoel van vryheid het oor hom gekom.

By die klooster aangekom het hy sy sandale stukkend gesny – sodat hy nie weer sou kon terugstap nie. Vandag is hy een van die groot stemme in Egipte vir vroue- en kinderregte en betrokke by verskeie gemeenskapsprojekte.

Ek het arm gevoel in sy teenwoordigheid, al besit ek baie meer as hy!

Ons het so baie om by dié mense te leer oor die eenvoud en vryheid waarvan Jesus gepraat het.

Nou die dag sê iemand ’n mens hoef nie iets te besit om dit te kan geniet nie.

Dit het my laat nadink en ek het besef hoe dikwels ek my op wonderlike plekke in die natuur bevind het waar ek nie die grond “besit” nie.

As ’n mens ’n volgeling van Jesus is en wel iets soos eiendom of grond besit, laat dit jou eintlik met ’n groot verantwoordelikheid teenoor die res van die wêreld.

As Christene bely ons mos dat nie net ons lewens nie, maar alles wat ons besit aan God behoort in diens van sy Koninkryk.

Dat die lewe van eenvoud so ’n radikale idee is, is een van die grootste ironieë van die Christendom vandag.

 

 

(Beeld rubriek - Augustus 2015)

 

Jaco Strydom

 

 

 

Screen_Shot_2015-09-14_at_8.12.58_PM.png