• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Skel my uit as 'n broer

Jy kan van my verskil. Jy mag my reghelp (asseblief). Jy kan my selfs slegsê (ek is teen hierdie tyd al redelik hate-mail fiks), maar sê my sleg as 'n broer, nie as 'n heiden nie.
   Goeie genugtig. As dit so is dat ons ons eenheid vind in byvoorbeeld ons siening oor gays, is Jesus lankal nie meer die middelpunt nie, dan het hy ver in die agtergrond ingeskuif. Dan het ons eie teologiese sienings belangriker begin word as Jesus self.
   As ons só wil redeneer is die dominees van die Gereformeerde kerk nie ons broers nie, want hulle glo nie vroue moet in die amp wees nie - ook baie Charismatiese kerke. Dan is Baptiste pastore nie ons broers en susters nie, want hulle het 'n ander siening van die doop (of is doop nie 'n belangrike teologiese kwessie nie?).
   Die feit is, hierdie mense ís my broers en susters - in Jesus se definisie, selfs meer as ongelowiges in my eie biologiese gesin.
   Iemand wat byvoorbeeld nie met die sinodale-gay-besluit saamstem nie, kan mos sê, “Ek stem nie met jou saam nie. Ek lees die Bybel anders. Ek self gaan nie gays bevestig in verhoudings of die amp nie . . .” en dan aangaan in eenheid?
   Waarom nie?
   Hoe ironies is dit tog, wanneer dominees en kerkrade in die naam van “suiwer teologie” dreig om “weg te breek”. Is eenheid met ander gelowiges met ander woorde teologies minder belangrik?
   Ek is van mening dat ons so min werklike diep teologiese debat vandag in die kerk sien, juis omdat die verhouding gedurig op die spel geplaas word.
   Die dominee kan nie régtig eerlik wees oor moeilike sake soos rassisme, seksualiteit of evolusie nie, want 'n paar ooms en tannies op die kerkraad dreig gedurig om te loop. Daarom praat die dominee maar liewer versigtig - en word die spanning tussen sy/haar private en publieke teologie al hoe groter. Op 'n dag bars die bom en dan is dit uiters moeilik om met al die emosie in die lug oor dinge soos konteks en skrifgebruik te wil praat. Dis jammer, want dit sou baie beter wees as ons met vrymoedigheid oor moeilike dinge kon praat, lank voor die bomme bars.
   Dis eers wanneer ons ooreenkom dat ons met mekaar sal aangaan "maak nie saak wat nie”, dat ons werklik eerlik kan wees.
   Christen broers en susters het mekaar al in die verlede as vyande beskou oor dinge soos die nagmaal, doop, vroue in die amp, kleredrag, Sondagsport ens. Toe daar destyds oor hierdie dinge geredeneer is was daar baie emosie, maar na 'n paar jaar kan jy amper nie glo, “dís waaroor mense gestry het” nie. Dit sou goed wees as ons kerkmense bietjie vinniger tot daai besef kom en nie altyd eers baie jare later nie.
   Die idee om die tipe spanning wat diversiteit bring te verdra ter wille van eenheid is nie vreemd aan die Nuwe Testament en die vroeë kerk nie.
   Al was etiese kwessies vir Paulus geensins onbelangrik nie, lyk dit of eenheid onder Jesus se mense altyd vir hom 'n hoër prioriteit geniet het. Of dit nou gegaan het oor die eet van vleis wat aan afgode geoffer is of sy siening dat bekeerlinge uit die heidendom hulle nie hoef te besny nie (hy laat byvoorbeeld tog vir Timoteus besny ter wille sy interaksie met die Joodse gelowiges).
   In die hart van ons geloof is daar ruimte vir 'n diversiteit van sienings.
   Sekerlik een van die beste voorbeelde hiervan is dat die leiers van die vroeë kerk besluit het om nie te kies tussen die vier Evangelies nie, maar om al vier in te sluit (om nie die spanning op te los nie, maar om dit te handhaaf) al verskil die Evangelieskrywers se inhoud baie en het elkeen duidelik 'n ander beklemtoning.

   As ons vandag hieroor moes besluit, sou ons waarskynlik “die regte een” wou kies. Dit sou jammer wees, want juis in die verskillende weergawes van die evangelieskrywers groei ons insig.
   Miskien is waarheid nie soseer 'n voorwaarde vir eenheid, as wat eenheid 'n voorwaarde is vir waarheid nie.
   Dalk moet ons opnuut ontdek dat ons mekaar se onderskeie sienings nodig het in ons soeke na God. Saam is ons beter - al maak ons foute.
   'n Ou het eenkeer gesê: “If you find the perfect church, don’t join it, you’ll spoil it!”

 

 Kerkbode rubriek 16/11/2015

 

Jaco Strydom

 

Lees ook:  Wanneer om te rebelleer en wanneer om dit . . . . kort te knip

 

starssry_nigjhht_sky_by_barbarapavlic-d72ad89_2.jpg