• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

GEMEENTES IS VERONDERSTEL OM 'N VOORBEELD TE WEES . . .

(take your talk for a walk!)
 
 
’n Groepie Christene het glo na aanleiding van al die moeilikheid in Suid-Afrika besluit genoeg is genoeg. Hulle maak toe ’n plan om al die belangrike plekke in Pretoria (die Uniegebou, banke, polisiestasies, ensovoorts) te salf en in gebed aan die Here te wy.
    In beginsel het ek nie ’n probleem daarmee nie. Ek wonder net of die effek nie veel groter sou wees as hulle sou begin deur hul eie gemeente se eiendomme en hul eie huise en karre en ondernemings aan die Here te wy nie?
    Vat ’n kaart van enige dorp en merk al die eiendom wat aan kerke behoort met ’n highlighter. Die kans is goed dat jy skielik ’n baie kleurvolle kaart het.
    As die kerk wil hê die politieke en sakewêreld moet verander, moet sy dalk begin deur die alternatief te demonstreer.
   Het ’n materialistiese kerk, wat sy eiendomme deur die week óf toesluit óf bloot gebruik om geld te maak (’n inkomste waarvan meer as 90% weer aan die gemeente self bestee word) enigiets te sê vir ’n materialistiese ­wêreld?
   Kan ons vra dat die Here ons nog meer sal seën as ons nie ’n seën is met dit waarmee hy ons reeds geseën het nie?
   Dis natuurlik makliker om te bid vir die wêreld as vir onsself en aan te meld vir diens. Hoe ons bid, sê baie oor ons teologie, ons prentjie van God en die wêreld.
  Partykeer vra ons dinge van God wat hy eintlik van ons vra.
  Wanneer kerkmense byvoorbeeld bid vir vrede, moet hulle bereid wees om self daai vrede te help maak – al is vredemakers dikwels ongewild, veral onder hul eie mense.
 ’n Mens sou verwag dat gemeentes doelbewus sou poog om ontmoetingsplekke te wees waar uiteenlopende mense van verskillende ekonomiese groepe en kulture mekaar kan leer ken, respekteer en aanvaar as broers en susters – soos in die vroeë kerk (Kol. 3:11;
Gal 3:28).
  As eredienste ’n weerspieëling hiervan is, lyk die prentjie nie goed nie - gebeur dit selde, indien ooit.
  Dis nie asof hierdie dinge nie teologiese ­prioriteite is nie. Kerkleiers was nog altyd goed met praat.
  Dinge sou egter kon verander wanneer dít wat as prioriteite in die teologie gesien word, ook begin uitstaan as prioriteite op gemeentes se kalenders, begrotings, hantering van kerk-eiendom en die inrigting van byeenkomste.
  As ons teologiese prioriteite nie in die dag tot dag praktyk van ons kerkwees weerspieël word nie (as ons krummels vir die armes gee, eiendom selfsugtig bestuur of ons byeenkomste soos kultuurverenigings lyk) dan ís ons dalk so skynheilig soos die wêreld sê ons is.
  Groeiende rassehaat en xenofobie in Suid-Afrika laat ernstige twyfel oor die vermoë van kerke om hul eie mense te motiveer om Jesus te volg – ongeveer 80% van die Suid-Afrikaanse bevolking noem hulself Christene.
  Wanneer dit só gaan in ’n land met soveel kerke, is dit waarskynlik nie net die politici se skuld nie.
  Miskien is dit juis ons as kerkleiers, meer as enigiemand anders in ons land, wat gebed en bekering benodig.
 
 
Beeld Rubriek
 
 
 
As die artikel jou ontstel, moenie hierdie een lees nie: Skatryk kerke in 'n brandarm wêreld
 
 
church.jpg