• This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.
  •  +27 12 331 2341

Trump, Hillary & Christen Amerika

 

Toe Donald Trump homself verlede jaar verkiesbaar gestel het as presidentskandidaat vra iemand of hy ’n Christen is.

Sy antwoord: “Yeah, I drink my little wine and have my little cracker.” Later, in ’n onderhoud op Fox News, verseker hy die kykers dat hy ’n baie toegewyde gelowige is wat gereeld kerk toe gaan, al glo hy nie in iets soos vergifnis nie. Dieselfde week in ’n politieke toespraak voor ’n massa mense skree hy: “I will bomb the sh*t out of them!”

Sy ondersteuners, van wie die meerderheid konserwatiewe, wit Christene is, juig; party kry trane in hul oë, een vrou hou ’n plakkaat omhoog wat sê “Thank you Lord Jesus for president Trump!”

  In ’n TV-onderhoud wat daarop volg, vra die aanbieder hoe hy beplan om radikale Moslems te oorwin. Hy verduidelik hoe hy hulle olievelde gaan bombardeer en voeg dan by: “You will also have to take out their families.”

  Die res van die afgelope jaar was nie anders nie. Hy dryf die spot met ’n gestremde, maak oor en oor blatant rassistiese uitsprake, spog oor sy rykdom en dat hy te slim is om belasting te betaal. In een toespraak noem hy ’n vrou wat hom kritiseer “ ’n oorgewig vark”.

  Selfs Amerika het nog nooit so iets gesien nie.

  Die grootste nuus was egter sy “locker room talk”. Miljoene mense het die video gesien: Trump is op ’n luukse bus. Voor die bus staan ’n vrou wat soos ’n model lyk vir hom en wag. Hy weet nie dat sy lapelmikrofoon aan is nie. Eers vertel hy vir die ou langs hom hoe hy al die “b*tch” in die bed probeer kry het, “en sy was getroud”, voeg hy by. “Jy kan enigiets doen as mens so gewild is soos ek,” sê hy dan, “jy kan hulle sommer net gryp en soen” en dan sê hy (en ek haal direk aan): “. . . you can just grab them by the p*ssy!”

  ’n Paar Christen-tannies was ontsteld, maar die meeste het gemeen dis oukei, ten minste gaan hy die “sh*t uit die Moslems bombardeer!

  Ter verdediging sê hy dit was net “locker room talk”.

  Nou, as ek dit reg het, gaan “political talk” daaroor om vir die mense te bewys dat jy is wie hulle hoop jy is . . . en wys “locker room talk” (wanneer jy dink niemand luister nie) wie jy eintlik is.

  Die ergste is dat dit voorkom asof wit, konserwatiewe Christene (sy grootste groep ondersteuners) vir Trump stem, nie ten spyte van hierdie dinge nie, maar as gevólg daarvan! Hulle stem vir hom omdat hy geweld voorstaan en rassisties en seksisties is. Hy is een van hulle.

  Tony Campolo het ’n boek geskryf met die titel How to Follow Jesus Without Embarrassing God. Dalk ’n goeie tema vir ons tyd?

  Dalk het jy ook al gewonder: Hoe was dit moontlik dat in Duitsland, ’n land met soveel kerke en van die wêreld se voorste teoloë, ’n man soos Hitler destyds tot leier verkies kon word? Wel, hier is jou antwoord.

  Die konserwatiewes sê hulle word gedryf deur “Christen-waardes” (wat veronderstel is om die waardes van Jesus te wees?), maar hulle word eintlik gedryf deur vrees, woede, die droom van rykdom en ’n oordrewe lojaliteit aan die belange van hul eie groep. Trump kry dit reg om op hierdie emosies in te speel. Hy is die klassieke prentjie van die Amerikaanse Droom.

  Hy gaan waarskynlik net-net verloor (’n Mens weet nooit nie, hulle het George W. Bush ’n tweede keer ingestem, selfs nadat hy erken het hy het ’n foutjie gemaak deur Irak in te val). Maar dit verander min aan die feit dat amper die helfte van die Amerikaanse bevolking soos Trump dink. Dít maak ’n mens meer bekommerd as enigiets anders.

  Die grootste tragedie, naas die moontlikheid dat Trump verkies kan word, is dat Hillary Clinton waarskynlik verkies gaan word – self nie een van die mees morele karakters nie. Een van die redes wat aanfgevoer word vir die groot Trump-aanhang is juis dat mense moeg is vir die polities korrekte magspeletjies van politici soos sy.

  Clinton het die afgelope 30 jaar ’n bepalende rol gespeel in die destabilisering van die Midde-Ooste – selfs destyds gestem vir George W. Bush se Irak-inval. Sy was deel van die groep wat bygedra het tot die chaos in Libië, Sirië en Egipte wat uiteindelik die vakuum geskep het vir die opkoms en vereniging van radikale groepe soos Isis. Almal weet sy lieg oor haar e-posse en haar invloed op Wall Street – en wie weet wat Wiki­Leaks nog gaan onthul?

  But what to do? Donald Trump is die alternatief.

  Politici doen nie wat beste is vir die wêreld nie, hulle doen wat nodig is om ingestem te word.

  Trump en Hillary is nie toevallig die twee kandidate nie. Miljoene Amerikaners het die afgelope jaar oor en oor daarvoor gestem. Dit is die wil van die volk. In ’n demokrasie kry jy wat die mense wil hê.

  In ’n land waar meer as twee derdes van die bevolking Christene is, is dit wat die Christene wil hê. Jesus se idees is duidelik onbelangrik en liefde gaan nie wen nie – hulle kon netsowel Sondae gholf gespeel het.

  Ons eie situasie lyk nie beter nie. Lank gelede was dit die Bothas, vandag sit ons met die Zumas. En ons gaan waarskynlik niks leer nie. Die kans is goed dat ons op ’n dag tussen iemand soos Steve Hofmeyr en Julius Malema moet stem.

 

Jaco Strydom

  

  

  

By/Beeld/22-10-2016 http://www.netwerk24.com/Stemme/Aktueel/in-demokrasie-kry-jy-wat-die-mense-wil-he-20161021

14713533_10155380141082519_3251247478441380804_na.jpg

Die kerk en mag - in die tyd van Zuma

The Intention and the Community in Intentional Community

Die illusie van “goeie teologie” (Rapport)

Sê nou die Christene sou vir Jesus volg (Beeld)