(ongeredigeerde weergawe)
 
 
Net na Donald Trump sê hy gaan “die sh@t uit Moslem fundamentaliste se olievelde bom” skree hy “I love war!”. Die skare juig. Hy gaan ook 'n muur bou om immigrante uit te hou - waarvoor Mexico gaan betaal - en dit gaan 'n mooi muur wees, voeg hy by, want kanse is goed dat die muur eendag “The Trump wall” genoem gaan word.
 
    Vir die wat Donald Trump ken is dit nie vreemd nie, wat wel vreemd is, is die feit dat die oorgrote meerderheid van die groep mense wat hom toejuig Christene is. Volgelinge van Jesus - wat van geweld hou.
 
    Dit herinner aan George Bush. Sy grootste ondersteuning was ook vanuit Christen-Amerika, die sogenaamde “Bible belt" in die Suide. Hulle het só geglo in wat hy doen, dat hulle hom vir 'n tweede termyn ingestem het, selfs na dit duidelik geblyk het dat hy Irak onnodig binnegeval het - hy erken vandag self daar was geen wapens van massavernietiging nie.
 
    Daar is sekerlik ruimte dat Christene vir verskillende politici in 'n verkiesing stem, maar 'n mens kry die idee dat as Doland Trump teen Jesus sou staan, hy meer stemme by die Christene sou kry as Jesus. Al staan wat Jesus sê lynreg teenoor wat Trump sê, gaan lees Mattheus 5-7.
 
    Dieselfde is natuurlik ook waar vir die ondersteuners van Jacob Zuma wat ook vir 'n 2de termyn ingestem is (80% van Suid-Afrika verklaar hulle is Christene). Om nie eers te praat van die ou Suid-Afrika nie.
 
    Die feit is, as 'n wêreld waarin daar soveel Christene is, lyk soos ons wêreld vandag lyk, is dit omdat die Christene dit kies.
 
    Dieselfde is natuurlik ook waar vir die keuses wat Moslems maak in die Midde Ooste.
 
    Jy sou natuurlik nou kon argumenteer dat godsdiens die groot probleem in die wêreld is, maar die wêreld van Stalin, Mussolini, Kim Jong-un, Mao Tse-tung en 'n klomp ander ateïste was nie beter nie.
 
    Sou ons Christene egter doen wat Jesus voorstel, by onsself begin en eers die balk uit ons eie oog haal, sou ons die woorde van Ghandi ernstig opneem: “I love your Christ, but I despise your Christianity”.
Hy sê dit in reaksie op die Britse Christene wat sy mense in hulle eie land verdruk en 'n enorme klomp goed gesteel het - soos die Koh-i-Noor diamant in die koningin van Engeland se kroon.
 
    Die probleem met politiek en oorlog is natuurlik dat diefstal nie meer diefstal is nie en moord nie meer moord nie. Dié dat die Engelse destyds ons boere se plase kon stroop en sewe en twintig duisend vroue en kinders kon laat sterf in konsentrasie kampe. Daai Britse soldate was almal Christene.
 
    Die hele apartheid regime ook.
 
    Leiers wat Jesus volg bestaan nie in ons wêreld nie. En as hulle bestaan het was die kans maar klein dat die toenemend bloeddorstige en materialistiese Christene van vandag hulle sou instem.
 
    Wat is die grootste uitdaging vir die kerk vandag: Morele verval? Armoede? Moslem ekstremiste?
 
    Om Christene te kry om vir Jesus te volg!
 
 
Jaco Strydom 
 
JEAN_LOUIS_THEODORE_GERICAULT_-_La_Balsa_de_la_Medusa_Museo_del_Louvre_1818-19_2.jpg