Op laerskool het ek gereeld gedagdroom.
Aanvanklik was dit heel onskuldige drome. Ek onthou hoe ek heel aan die begin van my laerskool loopbaan gedroom het dat ek eendag as ek groot is, 'n honderd lucky-packets gaan koop en dit alleen in my huis gaan sit en oopmaak, of ʼn emmer KFC by myself opeet.
Ek het ook besluit dat ek eendag baie ryk gaan wees en ʼn hele lot van daai “game-masjiene" wat destyds in die kafees gestaan het en met muntstukke werk in my sitkamer gaan hê – en dan elke aand na werk speel ek en my vrou tot in die vroeë oggendure Pac-Man, Space Invaders en Street Fighter!
Later het my drome minder onskuldig begin raak.
Ons asbes laerskooltjie se atletiek held was heelwat ouer as ek. Hy het om een of ander rede niks van my gehou nie en my gedurig voor die ander kinders geboelie en verkleineer. Hy was dan ook die hoofkarakter in baie van my minder onskuldige drome.
Ek het byvoorbeeld in my geestesoog gesien hoe ek eendag-as-ek-groot-is ʼn baie fris WWE stoeier word, met ʼn Kung-Fu agtergrond. En dan een aand, loop ek hom raak in ʼn donker stegie. Hy herken my nie. Vir ʼn paar oomblikke kyk ek hom vreesloos stip in die oë. Hy word bang en soek verskrik rond. Daar is niemand om hom te help nie. Dis net ek en hy. In my droom gryp ek hom om sy nek en gooi hom op die grond en terwyl ek sy neus in sy kop inslaan, sê ek met elke hou: “Onthou - jy – wat – jy – gedoen – het – toe - ek – in – standerd – twee – was?!!” en dan huil en soebat hy dat ek hom asseblief nie verder moet seermaak nie.
Sou my droom egter waar word, sou ek natuurlik op daardie oomblik geword het wie hy destyds was. Ek sou dan die boelie wees. 'n Mens word maklik wat jy haat.
Ek het ook later begin droom dat ek eendag vyf keer ʼn dag, op sewe verskillende maniere seks met my vrou gaan hê . . .
Kan jy dink hoe die wêreld sou lyk as ons almal se drome altyd waar geword het?