Dis maklik vir Paulus om te sê "die man moet die hoof van die huis wees,” hy was nie getroud nie.

    As jy nou wil chaos sien, maak iemand soos ek die hoof van 'n huis!

Ek weet ek moet eintlik sê ek en my vrou is heeltemal gelyk, maar dis eenvoudig nie waar nie. Dalk in waardigheid voor die genade van die Liewe Here, maar nie in vermoë nie, nie in die dag tot dag uitvoering van basiese take nie.

   Marina is 'n fascinating hoof, baie dankie, sy is slimmer (het byvoorbeeld 'n PhD), werk harder, is meer selfbeheersd, het beter onderskeiding, is mooier (rêrig!), is besonder well spoken en kan dinge doen waarmee ek sukkel, soos uit haar kop uit reg spel (selfs in Engels sonder spellcheck) - en sy kan goed in 'n groep saamwerk.    

    I submit, not by force, but by the natural order of things! Meeste van die tyd (so nou en dan het ek 'n glipsie en is ek die baas).

    Ek kan nou nie namens Paulus praat nie, maar ek vermoed, dat sou hy met my vrou getroud wees, hy anders oor die saak sou voel. En dan was daar vandag vroue dominees in die Dopper kerk en was die Pous dalk 'n vrou - al hou ek nogal van die een wat ons nou het.

    Ek kan ook nie van alle huwelike praat nie, net my eie (daar is glo gesinne waar die teendeel goed werk).

    Jy dink natuurlik nou dat ek hier probeer opstaan vir die regte van vroue ter wille van vroue, maar jy is verkeerd, nie dat ek dink dis nie nodig nie, inteendeel, vroue word oor die algemeen steeds baie sleg behandel, maar ons almal lei hieronder, ook mans.

    Emma Watson (Harry Potter se vriendin), het verlede week 'n baie mooi feministiese toespraak by die Verenigde Nasies gelewer. Sy het opgemerk dat feminisme te dikwels in die verlede geassosieer is met “manne-haat” en daarop gewys dat mans ook slagoffers is in 'n chauvinistiese samelewing. 

    In haar eie woorde: "We don't often talk about men being imprisoned by gender stereotypes but I can see that they are, and that when they are free, things will change for women as a natural consequence."
    Feministe, soos Emma Watson, vra nie in die eerste plek vir regstellende aksie nie. Regstellende aksie mag 'n plek hê as aktiveerder, maar dit blyk toenemend of dit op die lang termyn die teenoorgestelde effek het. Die alternatief vir ongelykheid is nie om byvoorbeeld mense in posisies aan te stel bloot op grond van hulle geslag (of ras) nie, maar die skep van 'n gelyke speelveld.

    Waarom is dit so 'n moeilike begrip? Veral in die kerklike omgewing?

    Jesus self het oor hierdie onregverdige grense van mense begin trap in 'n tyd toe vrouens byna geen aansien in die gemeenskap gehad het nie.

    Kerkmense wat glo dat "die vrou haar plek moet ken", soos in “die Bybel se tyd,” is gewoonlik nie baie konsekwent nie. Hulle is teen slawerny, al praat die Bybel positief daaroor, en meeste van hulle is byvoorbeeld krities op Moslems wat verwag dat vroue hoofbedekkings dra - al het Paulus ook so gevoel.

    Die historiese sosioloog, Rodney Stark wys daarop dat, sou Paulus se siening oor die rol van die vrou, beoordeel word binne die antieke konteks, ons sou vind dat hy eintlik heel liberaal was. Nou, as Paulus reeds “liberaal” was binne daai konteks, kan jy dink hoe liberaal hy hieroor sou wees binne ons konteks vandag?

    'n Mens hoor dikwels in Christen kringe die opmerking dat dit so sleg gaan in ons samelewing omdat die man nie meer sy posisie inneem “as die hoof van die gesin” nie. Die waarheid is dalk eerder 'n tekort aan liefde en selfopoffering.

   Dalk is Emma Watson reg, dalk is groepsdruk die groot rede waarom ons as mans so sukkel om dit te aanvaar. Tog is dit nie net mans wat die chauvinistiese agenda dryf nie, maar ironies genoeg dikwels ook kerktannies! 

 

(rubriek in Beeld / Netwerk24 - 10/2014)

 

starssry_nigjhht_sky_by_barbarapavlic-d72ad89_2.jpg