Hoe voel jy oor die moderne slawehandel (human traficking)? Dit is vandag die wêreld se vinnigste groeiende misdaad. Miljoene mense word steeds elke jaar regoor die wêreld as slawe verkoop. Wat sal jy sê as jy hoor 'n Christen prediker neem hieraan deel? Jy sal uitfreak! Die kerk mag geen deel hieraan hê nie, sou jy pleit.
Maar sê nou iemand sou Bybelversies begin aanhaal ter ondersteuning hiervan. Nie net een of twee versies nie, honderde. Want, lets face it, slawehandel in die tyd van die Bybel was niks minder erg as dit wat vandag gebeur nie. Gaan lees jou Bybel! “Human trafficking" was aan die orde van die dag. ("Human trafficking" vandag is nie in alle fasette dieselfde as slawerny in die tyd van die Bybel nie, toegegee, maar daar is opvallende ooreenkomste - soos die koop en verkoop van mense(!) - veral met betrekking to grootskaalse “Slavery as forced labour" vandag, volgens die UN se Global Report on Trafficking in Persons 2014)
Vir die eerste Christene wat destyds hierteen opgestaan het, moes dit aanvanklik na 'n amper onmoontlike taak gevoel het. Baie priesters en predikante het self slawe besit. Die ganse ekonomie in Europa en Noord Amerika het staatgemaak op slawehandel, al was amper almal Christene - behalwe vir ’n paar Jode en die Vikings in die Noorde van Europa.
Is dit moontlik om te sê Christene moet teen slawerny wees, al sê die Bybel op baie plekke dis reg?
AGS gemeentes het vandag vroue pastore en die NG Kerk vroue dominees - om net twee denominasies te noem - en Greta Wiid preek die land letterlik aan die brand. Kan jy dink hoeveel versies die konserwatiewe kerkooms wat sê, “vrouens mag nie praat in die erediens nie,” tot hulle beskikking het om hierteen te gooi.
Tot onlangs het die NG Kerk en die ander susterskerke apartheid openlik ondersteun. Bybelse tekste is in teologiese fakulteite en sinodesittings aangehaal om te bewys dat mense van ander kulture nie saam met witmense kerk mag hou nie.
God se mense moes al dikwels nuwe tye nuut dink en byvoorbeeld wetenskaplike ontdekkings verreken. Dat die aarde rond is en om die son draai was aanvanklik nie maklike idees om te sluk nie. Moeilike kerkooms het versies aangehaal en selfs gesê dat mense wat dít glo, doodgemartel moet word. Vandag glo ons almal dit. Die waarheid is veronderstel om belangrik te wees vir volgelinge van Jesus.
Hoe kry ons dit reg om vandag onomwonde te sê ons stem nie saam nie? Dat slawehandel, om teen vroue in die kerk te diskrimineer, om nie te erken dat Christene van ander kulture waarlik ons broers en susters is nie, teen die hart van die Evangelie is - jy besef natuurlik die hele gays-in-die-bediening kwessie is ook hier ter sprake.
Op die ou einde is daar geen maklike antwoord nie, maar dalk kan Jesus ons help. Ons moet raaksien dat die enkele uitsonderings waar daar wel in hierdie tipe argumente na tekste in die vier Evangelies verwys is, dit gewoonlik slegs was om aan te dui “wat Jesus nié gesê het nie”. Hy het byvoorbeeld nêrens gesê “beëindig slawerny” nié, Hy het nié gesê “vrouens mag praat in die kerk” nie . . . Soos Stephan Joubert nou die dag met reg opmerk, baie Christene is net goed daarmee om te sê wat Jesus nie gesê het nie, wat Hy wel gesê het is dikwels minder belangrik.
Die feit is, Jesus was anders as die tipiese godsdienstiges van sy tyd - en ons tyd.
In die bergpredikasie reageer Hy byvoorbeeld op gewilde tekste in die Ou Testament wat graag deur die Fariseërs, Selote en ander aangehaal is, oor “'n oog vir 'n oog” en die idee dat vyande gehaat mag word en sê: “Maar ék sê vir julle julle moet julle vyande liefhê”. Vir Hom was barmhartigheid belangriker as wettisisme (Matt 9:13 en Matt 12:7). Jesus wou mense terugbring by die oorspronklike beginsels wat agter die wette staan. Die godsdienstiges van sy tyd was deurentyd verstom en ontsteld oor die mense met wie Hy homself vereenselwig het - soos die Samaritane.
Ons kan nie komplekse etiese sake in die Bybel net so op vandag van toepassing maak, sonder om die konteks te verreken nie (jy is natuurlik welkom om nie saam te stem nie, maar wees dan ten minste konsekwent en gaan koop vir jou vrou 'n hoed vir Sondag se erediens, en maak seker sy bly stil.).
As ons dít wil doen moet ons iemand wat in owerspel betrap is, letterlik stenig. En as jy ernstig is oor Jesus se definisie van owerspel, beteken dít: “almal wat na 'n ander man se vrou kyk en haar begeer”.
Hel, ék is skuldig! En ek is 'n dominee (soort van) wat dit nog erger maak.
'n Bietjie harder werk is nodig as om 'n paar versies oor 'n saak te Google en dan aan te haal. Die kerkgeskiedenis is vol stories van wreedhede wat met Bybelversies verdedig is. Elke ketter het sy letter!
Ek het 'n vriend wat baie toegewyd aan die Here lewe. Hy het eenkeer gesê dat as hy dan móét kies, hy eerder na die kant van die Evangelie sal fouteer. Hy sal eerder eendag sê, “jammer, Here, ek het te veel genade gehad” as om te moet sê, “ek het te hard geoordeel”.
Kerkvergaderings het my al letterlik nagmerries laat kry. Ek het nie eens die afgelope sinodesitting van die NG Kerk bygewoon nie, en stééds het ek nou die aand 'n kerkregtelike droom gehad.
Ek het gedroom ek is by 'n sinodesitting waar ooms en tannies lank en ernstig om ronde tafels sit en beraadslaag en uiteindelik tot 'n belangrike besluit kom: die “ryk jong man” mag 'n dominee word, en ander soos hy. Skielik was die nagmerrie nie meer 'n nagmerrie nie. Ek was bly. In my droom het ek dadelik al my ryk dominee en pastoor vriende gebel. Hulle was ook bly! Selfs die wat teen gays in die bediening is, was bly. Hulle het bos gegaan en dadelik al hulle ryk ouderlinge gebel. Die mense by Moreleta was so bly hulle het sommer 'n fees gereël om dit te vier!
Beeld 16/10/2015