Die vrou het so gehuil dat ek nie mooi kon hoor wat sy sê nie. Ironies genoeg was ek by 'n sendingkonferensie toe sy bel. Sy was 'n professionele vrou wie ek nog net drie keer in my lewe ontmoet het.
Ek het nie mooi geweet wat aangaan nie, die vrou was duidelik baie ontsteld, sy was heel “in beheer” toe sy begin praat het, maar later het sy so gehuil dat sy die foon moes neersit.
'n Paar minute later kry ek 'n sms waarin sy sê, sy is jammer is dat sy so huil, sy weet nie wat met haar aangaan nie.
Ek sms dadelik terug dat dit my hart goed doen. Haar oproep was op 'n vreemde manier een van die beste dinge wat die week met my gebeur het - baie meer inspirerend as die praatjies by die sendingkonferensie!
Die afgelope paar dae het sy op pad werk toe 'n hoop plastieksakke langs die pad gewaar. Sy sê dit het vir haar gelyk of daar 'n mens onder daai sakke was. Met verloop van tyd het dit haar al meer begin pla. Daardie oggend kon sy nie weer net haar kop wegdraai en verby ry nie. Sy het al haar moed bymekaar gemaak, gestop, nader gestap en die sakke opgelig.
Onder die plastieksakke het 'n ou man gelê en bibber van die koue - dit was in die middel van die winter - en hy was heeltemal blind.
Sy het dadelik vir hom gaan kos koop en belowe om weer 'n draai te maak. Toe sy wegry, sien sy in haar spieëltjie hoe hy hande viervoet rondkruip op soek na die pakkie kos. Sy het weer gestop en die keer die kospakkie in sy hande gesit.
Die vrou wou hoor of ek weet van 'n plek wat bereid sou wees om hom in te neem.
Op 'n vreemde manier was haar oproep baie tydig met betrekking tot my eie geestelike pad. Ek het op daardie stadium al vir dae lank elke oggend in my stiltetyd die seënspreke in Mattheus 5 gelees. Ek het veral baie gewonder oor Matteus 5:4 “Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word”.
Haar stukkende hart was vir my 'n duidelike teken dat ek hier met 'n geseënde vrou te doen het. Ek het haar nie jammer gekry nie, ek het haar bewonder.
Die blinde ou man het haar gehelp. Die oomblik toe sy begin treur het sy ook een van die geseëndes geword. En alleen vanuit hierdie nuwe posisie, bewus van haar eie gebrokenheid, sou sy hom later kon probeer help.
Henri Nouwen het iets hiervan verstaan toe hy destyds besluit het om sy posisie as professor te verlaat en 'n huis te deel met 'n groepie gestremdes. Hy skryf: "I did not leave the university - after twenty years - and move in with people with disabilities at L’arche because I wanted to help them, but because I needed better teachers .”
Ons kan net groei in empatie en deernis as ons bereid is om self weerloos te wees. Mense wat altyd hulle afstand hou, altyd die veilige plekke opsoek, groei nie.
Groei is pynlik.
Ons leef in 'n gemeenskap waar mense al meer afgestomp raak. “Numbness” is 'n verdedigingsmeganisme teen seerkry. Die eerste keer wat jy 'n straatkind sien, ontstel dit jou. Maar na 'n tydperk (as jy genoeg straatkinders gesien het), raak dit jou nie meer so diep nie, dan word straatkinders iets anders as “kinders op straat”. Dis asof daar 'n tipe eelt op jou gees groei.
Ons natuurlike reaksie is om situasies te vermy wat ons harte laat breek. Ons is bang vir dít wat die seerkry van ander aan ons eie binnekant kan doen. Nouwen sê in sy boek, The Wounded Healer: “Who can listen to a story of loneliness and despair without taking the risk of experiencing similar pains in his own heart and even losing his precious peace of mind? In short: “Who can take away suffering without entering it?”
Tog, by Jesus, kry ons die idee: dat ons lewens die meeste sin maak juis wanneer ons toelaat dat ons harte breek;
in 'n beweging nader aan die nood, eerder as in die wegvlug daarvan.
Leonard Cohen sing: “There’s a crack, a crack in everything. That’s how the light gets in”.
Geseënd is die vrou wat huil saam met die blinde oom op straat.