Oral waar ek kom wil mense weet wat ek dink van die algemene sinode van die NG Kerk se beslissing dat gemeentes en dominees nou self kan besluit oor gays.
   Ek is bly.
   Sinodes moet ophou om namens ons almal te wil besluit wat reg en verkeerd is, minder behep wees met beheer. Die kerkreg moet kleiner. Goeie genugtig ons het die Bybel, die Heilige Gees, mekaar, 'n lang kerkgeskiedenis en 'n enorme klomp teologiese boeke. Het ons nou regtig nog 'n sinode ook nodig?
   Alles dui daarop dat die NG Kerk se sinodes minder voorskriftelik gaan wees in die toekoms, en ek dink dis goed. “Control is good, but trust is better!” sê die Engelse spreekwoord.
   Sinodes het in die verlede te veel te kere gegaan asof hulle God se regsafdeling is.
   Daar was 'n tyd toe daar ure lank op sinodesittings namens God se mense besluit moes word oor of die kelkie of die beker by Nagmaal gebruik moet word. Iemand vertel my nou die dag dat hy die groot debat onthou by 'n sinodesitting van die NG Kerk of dans sonde is of nie. Een van die meer liberale ouderlinge het voorgestel dat hulle ten minste moet aandring dat die ligte moet aan wees, want mens dans nie in die donker nie.
   Die groot besprekingspunt op 'n sinodesitting in 1987 was of dominees en kerkraadslede nog swart pakke en wit dasse moes dra (om meer soos Jesus te lyk?). ’n Ander keer was dit die toga(?).
   Is daar sinodes waar hulle nog stry of vroue vandag hoede kerk toe moet dra, of is dit nou oral uitgeklaar? Ek het nog altyd gewonder hoekom hulle sê “hoede”. Vroue in die antieke tyd het nie hoede gedra nie, hulle het kopdoeke gedra! (of gee die Here nie regtig om nie, solank Hy tog net nie die vroue se hare kan sien nie?)
   Die Gereformeerdes beraadslaag vandag nog elke nou dan of vrouens nie tog maar in die kerk mag praat nie. Die Hervormers het 'n tyd gelede na lang sinodesittings uiteindelik tot die besluit gekom dat dit verkeerd is om jou broers en susters van ander kulture te verbied om saam met jou te aanbid. Die NG Kerk moes al besluite namens die volk neem oor honderesiese en perderesiese, bonus-obligasies, Sondagsport . . .
   Is dit waarvoor die kerk geroep is? God se speedcops?
   En dit in 'n wêreld wat soos ons s’n lyk. Praat van muggies vang en kamele insluk!
   Waar kom die kerk se groot behoefte om te regeer vandaan? Sy was nog nooit goed met mag nie.
   Belangrike besluite moet in eenheid geneem word, hoor ek nou al een van die sinode-ooms sê (soos die kelkie of beker?). Die probleem is dat die kollektiewe ego by sinodesittings dikwels ongemaklik groot is. Die teologie word maklik net nog 'n magspel - en dit kan maak dat mens sukkel “om dié dinge te onderskei waarop dit werklik neerkom”.
   Die Reformasie was 'n reaksie op 'n kerk waar die kerklike tradisie te veel mag gehad het. Ons is weer daar.
  Om bogenoemde redes is ek dan bly oor die afgelope algemene sinode se besluit - en omdat ek hou van gays. Al waaroor ek spyt is, is dat hulle nie sommer ’n hele lot wette geskrap het nie. As ons dit een-een gaan doen kan dit ’n ewigheid vat.
   Soos ’n teoloog nou die dag sê: Freedom in the house!

(Rubriek vir Maroela Media )

Jaco Strydom 

Screen_Shot_2015-11-09_at_9.18.12_AM.png