'n Swakkerige getuienis

Ek was nou die dag die eerste keer in 24 jaar weer by Hoërskool Randburg waar ek destyds matriek geskryf het. Beautiful skool. Terwyl ek tussen die klaskamers deurstap is ek oorweldig deur herinneringe, heimwee en spyt.
   Ek het nie eintlik van skool gehou nie, en ek dink nie skool was ooit vreeslik mal oor my nie, maar daar was baie genade!
   Later by die opening in die saal vertel ek die kinders hoe ek in my matriek Junie-eksamen ’n gemiddeld van 34% behaal het. Jy moes daai jare 40% hê om deur te kom. Ek het alles gepluk. In die eindeksamen het 'n wonderwerk gebeur en het ek darem goed genoeg gedoen om te gaan swot - net-net.
   Die punt wat ek wou maak was dat 'n wedstryd nie in die eerste helfte gewen word nie. Dat die Bybel allermins 'n boek vol suksesverhale is. Dat God 'n God van genade is wat mense tweede kanse gee. Dat genade nie beteken dat Hy namens ons besluit nie, maar dat ons weer 'n kans kry om te kies.
   'n Paar jaar gelede moes ek by 'n ander smart skool praat, die keer by 'n funksie vir matrieks en hulle ouers. Dit was kort voor die rekordeksamen. Ek het gevoel ek moet eerlik wees met die kinders (en ek identifiseer uit die aard van my skoolloopbaan meer met die potensiële druipelinge as die presteerders) toe vertel ek dieselfde storie. Na my boodskap vat die skoolhoof die mikrofoon en vertel met trane in sy oë dat hy ook 'n belydenis het. Niemand weet dit nie, sê hy effe hees, maar hy het wiskunde in matriek gedruip. Ek weet nie van die kinders en die ouers nie, maar ék het dadelik beter gevoel! Het hom amper gehigh-five.
   Ek en die hoof was nie daai dag eerlik omdat ons wou snaaks wees nie, maar omdat ons besef het dat ons genade gehad het en nie kon lieg en maak of ons so oulik is soos almal gedink het ons is nie. My plan was nie om vir die kinders te sê, “Maak maar droog jy sal weer 'n kans kry,” nie, maar eerder om vir die wat reeds drooggemaak het (en op wie die onnies opgegee het) daarop te wys dat alles nie verlore is nie.
   En ons móét eerlik wees. Hulle sal ons net glo wanneer ons praat oor die mooi goed, as ons ook eerlik is oor die lelike goed!
   Eiegeregtigheid help niemand nie.
   Die feit is, ek maak droog - al sou ek so graag teen hierdie tyd al 'n engeltjie wou wees.
   Baie het gebeur vandat ek genade gekry het in daardie matriek jaar, maar as ek eerlik is het ek vandag nóg meer issues as toe. Ek voel skuldig oor lui wees en worry en voorgee en ongeloof en bygeloof en oor mense sonder geleenthede, armes en haweloses (veral as dit reën) en vuil gedagtes en te min stiltetyd en geld geblaas op vakansies, kos, kajakke en reise en selfsug en te min moeite met eensames en my eie eiegeregtigheid, oor ander se toewyding en my blote praatjies en my linkerhand se trots oor wat my regterhand doen, oor wat mense van my dink teenoor wie ek werklik is, oor bome en dassies, oor my hoogmoed teenoor rassiste, oor lugbesoedeling en oor visse wat ek doodgemaak het en nog gaan doodmaak en te veel eet en drink, voorgee en lieg, vloek en oordeel en begeer en my ego se ewig onvervulde dors . . . hel, ek het genade vandag meer nodig as ooit!
   Natuurlik hoef ons nie heeltyd skuldig moet voel oor alles nie - liefde is 'n baie beter motivering as skuldgevoelens - maar dit help soms om te stop en net weer vir 'n slag eerlik met jouself te wees.
   In ons Echo gemeenskap het ons 'n spreekwoord wat sê: “Rather go to God with your brokenness than with your promises". As daar een konstante lyn dwarsdeur die Nuwe Testament is, is dit dat Jesus nooit iemand wegwys wat in gebrokenheid na hom toe kom nie.  
   Richard Rohr het eenkeer opgemerk: “If you feel that you can’t go to God in perfection, you can always go to Him in brokenness”. Dit is waarskynlik een van die groot redes waarom die verhaal van die ryk jong man in al drie sinoptiese Evangelies geplaas word direk nadat Jesus sê ons moet soos klein kindertjies wees. Hulle was statusloos en het geen aanspraak op grond van verdienste of prestasies gehad nie - hulle kon die koninkryk net as ’n geskenk ontvang.
   Paulus sê hy roem eerder in sy swakhede. Hy het vasgehou aan die woorde: "My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is” (1Kor 12:9).
   Hoe hierdie “tweede kanse” wat die Here ons gee presies werk is 'n misterie. Iemand het dit eenkeer probeer verwoord deur op te merk dat die Here 'n plan A het vir ons lewe, as dit nie werk nie het Hy net so ’n goeie plan B, lets face it, sê hy toe, party van ons is al by plan F of H . . .  
Jy kan seker baie sê oor die ou se teologie, al wat ek kan sê is, prys die Here vir 'n groot alfabet!

 

(Maroela Media rubriek 09/2015)