Die lewe word maklik net nog ’n kompetisie om te wen. Almal wil die mooiste, die sterkste, die rykste en die slimste wees – die beste.
In die Nuwe Testament leer ons dat die heel belangrikste ding nie is om al die kompetisies van die lewe te wen nie (ook nie die geestelike kompetisies nie), die belangrikste is om lief te hê.
Volgens Jesus gaan geestelike groei daaroor om kleiner te word, onbelangriker, statusloos, soos ’n klein kindjie.
Nou die dag vertel iemand dat hulle ’n bekende geestelike skrywer uit Amerika genader het oor die moontlikheid om as spreker op te tree.
Die ou stuur toe vir hulle ’n hele lys van voorwaardes: sy koste beloop ’n enorme bedrag vir elke sessie; hy slaap net in smart hotelle en verkies om besigheidsklas te vlieg . . . (Laat niemand sê hy is nie bereid om te ly vir die Evangelie nie!)
Die ironie is dat die ou bekendheid verwerf het juis oor dit wat hy oor Jesus geskryf het – en dit is ongelukkig die reël en nie die uitsondering nie onder bekende Christenghoeroes.
Dit is ironies want volgens Jesus lê geestelike volwassenheid in die teenoorgestelde rigting. Volgens Hom sal sy volgelinge, wanneer hulle geestelik groei, al hoe ligter reis.
Hulle sal mense wees wat al hoe minder nodig het, wat meer en meer deel, eerder as om meer en meer bymekaar te maak.
’n Mens sou dink ’n geestelik volwasse persoon, volgens Jesus se definisie, is iemand wat ter wille van die evangelie enigiets sal eet (selfs honger ly), op enige plek slaap (selfs op straat), mense vir wie status onbelangrik is, en wat allermins sal probeer ryk word via die boodskap wat hulle verkondig!
Is die idee met geestelike groei nie dat ons meer en meer soos Jesus sal word nie? (En nie soos die ryk jong man nie.)
As die Evangelie in Jesus se tyd so winsgewend was as in ons tyd, was ’n klomp van die Fariseërs evangeliste!
Die teendeel was egter waar. Dit was juis Jesus se siening oor geld en rykdom wat hulle ontstel het (Luk16:13,14).
Let’s face it, niemand van ons het gearriveer nie, maar dis sekerlik belangrik om uit te klaar waarna ons veronderstel is om te streef.
Daar was ook in Jesus se tyd ’n belangrike geestelike man wat beïndruk was deur die skare wat agter Hom aangekom het. Jesus se antwoord aan hom? “Jakkalse het gate en
voëls het neste, maar die seun van die mens het nie eens ’n plek om sy kop neer te lê nie”.
Lyk my ons sal moet ligter reis as ons wil hê ons boodskap moet swaarder weeg.
Die Evangelie was nog altyd meer geloofwaardig wanneer dit vanuit ’n posisie van weerloosheid verkondig word, eerder as uit ’n posisie van status, rykdom en mag.
In die woorde van Søren Kierkegaard:
“In the magnificent palace church, a handsome court preacher, the cultivated public’s chosen one, steps before a select circle of the distinguished and cultured, and preaches movingly on the words of the apostle, ‘God chose the lowly and the despised’ – and no one laughs.”
Beeld / 21/9/2016