Dis nie maklik om Jesus te volg nie. Daar is 'n Engelse spreekwoord wat sê: “If we don’t practice what we preach, we tend to preach what we practice”. Dit gebeur vandag. Daar word te dikwels deur kerkmense net gefokus op die makliker dinge wat Jesus gesê het.
Maar sê nou ons sou die spanning van ons eie skynheiligheid vir 'n oomblik verdra en Hom vat, rou sonder die soet kerksousie, so vry en moeilik soos die vier Evangelies Hom vir ons gee.
Hy het vreemde goed gedoen.
Jesus het byvoorbeeld 'n groter probleem gehad met godsdienstiges as met sondaars.
In die antieke Joodse konteks kon jy mense letterlik in een van twee groepe indeel, die klassieke godsdienstiges (Fariseërs, Sadduseërs, Esseners, Selote . . .) en die klassieke sondaars (tollenaars, prostitute, Samaritane, Romeine . . .). Die twee groepe het die uiterstes op die morele skaal verteenwoordig. Tog was al die argumente wat Jesus gehad het met die godsdienstiges en nie met die sondaars nie. Hy het deurentyd empatie gehad, met die vrou wat in owerspel betrap is, die tollenaars en selfs die besetenes. Soveel so dat hy “'n vraat en 'n wynsuiper, 'n vriend van sondaars,” genoem is (Matt 11:19).
Toe Jesus die tafels omgooi was dit nie by die drinkplek of by die bordeel nie, maar by die tempel. Hy eet saam met tollenaars, gaan tuis in 'n Samaritaanse dorpie en sê van 'n Romeinse offisier: “In die hele Israel het ek niemand met groter geloof gesien nie”. Die godsdienstiges van sy tyd was ontsteld omdat Hy genade gehad het vir mense wat in die uit-groep was, mense wat nie welkom was by die tempel nie.
Dis nog niks, Jesus het ook ’n groter probleem gehad met die rykdom as met die armoede - konsekwent volgens al vier evangelies. Dis in sterk kontras met ons wêreld, waar armoede gesien word as die probleem en rykdom as die groot antwoord.
Dink maar aan die ryk jong man, die gelykenis van die ryk man en Lasarus, die arm weduwee, Jesus se uitsprake oor Mammon en sy oproep dat sy volgelinge hulle nie moet bekommer oor wat hulle gaan eet of aantrek nie, dat hulle by die lelies en die voëltjies moet leer en eerder op God vertrou en sy koninkryk eerste soek.
Kan jy dink hoe die wêreld sou lyk as die 2,2 biljoen Christene vandag ernstig was oor die lewensstyl wat Jesus voorgehou en nie net die feit dat Hy gesterf het nie (wat ook belangrik is).
In 'n wêreld met soveel Christene sou Jesus se idees rondom 'n eenvoudige lewensstyl, waar ons nie “skatte op die aarde bymekaar maak nie”, ’n enorme effek op byvoorbeeld ekologiese krisis kon hê - die teendeel is egter waar.
Vir kerkmense gaan die Christen geloof dikwels in die eerste plek oor hoe ons ons geloof verwoord. Jesus het egter meer gepraat oor hoe ons moet lewe as oor wat ons moet glo. As Jesus vir die ryk jong man sou sê, “bid net gou saam met my die sinners-prayer,” het hy dit waarskynlik gedoen.
Beeld rubriek 12/10/2015
Jaco Strydom