Ek het my teologiese studies destyds op Potchefstroom begin. Een van my medestudente was diep soekend en het met 'n dosent daaroor probeer praat. Later het hy teenoor my opgemerk dat dit vir hom gevoel het of die betrokke dosent iemand was wat bloot in 'n verhouding staan met boeke. Dit het vir hom gevoel of die dosent meer geglo het in dit wat die Evangelie skrywers gesê het en hoe hulle dit gesê het, as die onderwerp waaroor hulle geskryf het.
“Ons Prof is meer verlief op die teologie as op God,” was sy woorde.
Harde woorde! Dit het my erg laat wonder oor my eie geestelike pad.
“Humans tend to think that because they agree or disagree with the idea of a thing, they have realistic encoutered the thing itstelf. Not at all true, says the complative. It is necessary to encounter the thing itself.” sê Richard Rohr.
Een van my Dominee-vriende vertel my nou die dag van sy “New Age Tannie” wat baie “geestelik” is. Ek kon agterkom hy bewonder haar. In my verbeelding kon ek haar sien: sy doen vreemde goed, glo in 'n vreemde teenwoordigheid en aura’s en praat van dinge wat “haar gees” aanvoel.
Ek het dadelik geweet - en hy het dit bevestig - dat sy die kerk omgewing as ʼn baie vervelige en tweedimensionele ruimte beleef.
Aan die ander kant het ek ook geweet dat sou Jesus self instap (as mens), Hy haar totaal sou fassineer. Dat sy waarskynlik nooit genoeg van Hom sou kon kry nie. Hy sou haar trek soos 'n magneet! Dis ook waar van my soekende vriend wat teologie geswot het op Potchefstroom.
Dis tragies dat dieselfde gedagtes nie by mense opkom wanneer hulle die woord “kerk” hoor, as wanneer hulle die woord “Jesus” hoor nie.
Drop al daai slim praatjies, die mooi programme en die fancy ouditoriums, slaan die torings plat en skroef die hoenders af, die kerk se grootste taak is om soos Jesus te lyk! As ons dít kon reg kry was helfte van die ander goed onnodig.
St Francis van Asissi se manier van lewe was die beste moontlike kritiek teen die leegheid en die onreg van die wêreld waarin hy hom bevind het. Dalk is juis dít die rede waarom Jesus baie meer gepraat het oor hoe ons moet lewe as oor wat ons moet glo?
Die gereformeerde teologie neig deesdae al meer om bloot ʼn teoretiese reaksie teen, of die fundamentalisme of die liberalisme, te wees. Die gevaar is ʼn twee dimensionele swart/wit teologie sonder werklike geestelike diepte.
G’n wonder daar is 'n nuwe belangstelling in die Mistieke nie. Miskien is dit juis in hierdie tyd wat die profetiese woorde van Karl Rahnerwaar gaan word: “The Christian of the future will be a mystic or he will not exist at all”.
Vir die mistici gaan geloof eerder oor verwondering en empatie as oor teoretiese sekerhede.
Diep binne ons is ʼn dors wat nooit geles kan word met blote argumente of die teorieë oor water nie. Dit mag help om die water op te spoor, maar die lewe begin eers sin maak as ons bewus word van ons eie dors en op ons knieë val en begin drink.
Die kerk moet ook háárself kans gee vir die wêreld soos Jesus homself gegee het. Maar dan het sy ook sy geestelike bewustheid en spirituele sensitiwiteit nodig. Sonder die een sal die ander nie hou nie.
Jesus was die Groot Mistikus. En ons wêreld het ʼn kerk nodig wat iets hiervan herontdek, veral hier in geestelike Afrika.